Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
Om ʼn oeroue siekte by die horings te pak
Outeur: Florence de Vries
Gepubliseer: 11/09/2019

Bo prof Anneke Hesseling se lessenaar hang 'n skildery van Sir Luke Fildes met die titel The Doctor. Dié beeld van 'n algemene praktisyn in die Victoriaanse era wat die “krisis van siekte" by 'n kind bekyk in daardie dae voor antibiotika, bly jou by as 'n rekord van die status van 'n dokter gedurende 'n spesifieke tyd in die geskiedenis.

Dit is 'n beeld waarmee sy grootgeword het, want dit het jare lank in haar pa, Peter Hesseling, se studeerkamer gehang. Hy is 'n beroemde pediatriese onkoloog verbonde aan die Universiteit Stellenbosch (US) en haar ouma aan moederskant, Emma Terblanche, was 'n psigiater wat in die 1920's aan die Universiteit van die Witwatersrand opgelei is. “Ek wou eintlik musiek studeer, maar het op die een of ander manier in geneeskunde beland. Ek is regtig bly ek het!"

Sy is in 2016 as Direkteur van die Desmond Tutu-tuberkulosesentrum (DTTS) aan die US se Fakulteit Geneeskunde en Gesondheidswetenskappe (FGGW) aangestel en sê sy het 'n “dringende verantwoordelikheid" om pogings te bevorder om tuberkulose (TB) plaaslik en internasionaal te voorkom. TB is 'n oeroue siekte, maar is steeds ná MIV/vigs die grootste oorsaak van sterftes deur 'n aansteeklike siekte op aarde. Navorsers wys daarop dat hierdie tol geëis word al is 'n kuur vir TB reeds bykans 'n eeu bekend; derhalwe is grootskaalse voorkomingspogings van deurslaggewende belang in die moderne era.

Kinders is haar fokus

Hesseling is veral besorg oor die uitwerking van TB op kinders, omdat die vinnige verspreiding daarvan beteken een uit elke tien kinders word steeds geraak. Die Wêreldgesondheidsorganisasie (WGO) raam dat minstens 'n miljoen kinders jonger as 15 jaar tans wêreldwyd aan TB ly en dat bykans 250 000 elke jaar daaraan sterf.

“Vir eeue lank was net beperkte behandelings vir 'n siekte soos TB beskikbaar, wat saam met MIV verdere kompleksiteit veroorsaak. Minderjariges kan nie hul omstandighede kies of waaraan hulle bootgestel word nie. Hulle is passiewe ontvangers van alles wat met hulle gebeur en dis hoekom ek besluit het om hierdie spesifieke fokus my passie te maak."

Haar talle prestasies sluit in die toekenning 'n paar jaar gelede van die eerste navorsingleerstoel in pediatriese TB in Suid-Afrika. Met bykans 20 jaar se ervaring in pediatriese TB-navorsing in Suid-Afrka agter die rug het sy 'n loopbaan uitgekerf wat feitlik ongehoord was toe sy haar mediese studies in die 1990's aan die US voltooi het.

“Destyds was openbare gesondheid nie hierdie ontsagwekkende navorsingsveld nie, maar toe het ek oorsee gaan werk en studeer – eers in Amsterdam in 2001 en toe in die VSA in 2003. Opleiding in epidemiologie en openbare gesondheid in die VSA het 'n globale gesondheidsperspektief van Suid-Afrika en sy reaksie op TB en spesifiek MIV/vigs aan my gebied. Dit was 'n transformerende ervaring. En dit sou die weg baan vir wat uiteindelik my loopbaan sou word," vertel Hesseling.

Konsulterende benadering

Deur voortgesette leer en leierskap van mentors en haar voorgangers, het sy die waarde begin besef van 'n werkomgewing wat samewerkende leer koester in 'n poging om antwoorde te vind op van die dringendste vrae in die veld. “Die DTTS-omgewing het altyd uit 'n wonderlike groep navorsers bestaan wat van voor gelei en 'n ryk nalatenskap agtergelaat het. Ek beskou proff Nulda Beyers (die voormalige en stigtersdirekteur van die DTTS), Mark Cotton, Simon Schaaf, Peter Donald en Robert Gie as ware pioniers in hierdie verband. Ons het ook 'n wonderlike akademiese Departement van Pediatrie en Kindergesondheid hier wat ons met navorsing ondersteun en 'n sterk geskiedenis van kliniese navorsing het."

Sy het gekies om die DTTTS, wat in 2003 gevestig is, op 'n stelselmatige maar konsulterende manier te lei. Pediatriese TB is naas operasionele navorsing, gesondheidstelselversterking en MIV-voorkoming as sleutelstrategieë gevestig in 'n poging om die sentrum se doelwitte te bereik. “Ons huidige visie en strategie is om die wêreldleier in pediatriese, translasionele TB-navorsing te wees, binne die volgende vyf jaar die leier in ander kernnavorsingsareas te word, asook om wêreldwye leier op ander gebiede soos implementering en gesondheidstelselversterking te word. Dis die enigste manier om pandemies van hierdie aard te benader.

“Ons het sterk interne, nasionale en internasionale samewerkingstrukture om die ontwerp, implementering en ontleding van ons navorsingsprogram te ondersteun en ons werk baie hard om kapasiteit in eie geledere op te bou. Ek het al hoe meer begin insien watter rol sosiale gedragsnavorsing in ons werk speel en dis hoekom ek verkies om konsulterend te werk. In die soeke na oplossings moet jy besef dat alles verbind is, met inbegrip van maatskaplike bepalers van gesondheid. TB en MIV raak gesinne en gemeenskappe."

Sy is 'n groot voorstander van bewysgebaseerde strategieë en gee gevolglik so veel moontlik aandag aan motivering vir goeie navorsingsinfrastruktuur. “Ons is in 'n unieke situasie omdat ons met 'n fenomenale navorsingsbasis by die DTTS werk. Dít is nie noodwendig orals 'n gegewe nie. Die DTTS is voorts toegerus om kollektiewe kennis op 'n pragmatiese en konsultatiewe manier te poel om kapasiteit vir die toekoms te bou en die volgende generasie navorsers te koester." Hierdie sterk samewerkende pogings het ʼn “teelaarde vir wonderlike navorsing" tot gevolg gehad, wat translasionele werk vergemaklik.

“Waar ons byvoorbeeld 'n intervensie ontwikkel het wat relevant vir volwassenes is, sal ons vra van watter strategieë kinders sal hou en wat werk in die konteks van gesinne en gemeenskappe," sê Hesseling.

Leiers in kliniese navorsing

Haar werk behels voorts om maniere te vind om die greinerige bevindings van wetenskaplike navorsing in beleid te “vertaal". In die middel van 2018 was Hesseling die mede-outeur van 'n groot internasionale sistematiese oorsig, wat in die mediese weekjoernaal PLoS Medicine gepubliseer is. Die oorsig het getoon dat TB-behandeling suksesvol is by kinders met veelvoudige middelweerstandige TB (MDR-TB) en het in 2017 as grondslag gedien om die WGO se riglyne oor die behandeling van MDR-TB in kinders by te werk.

“'n Geraamde 32 000 kinders ontwikkel elke jaar MDR-TB. Behandeling vir MDR-TB duur langer en meer toksiese medikasie word benodig. Veral kinders vind hierdie behandeling moeilik om te verduur. Tot op hede het ons min geweet oor die optimale behandeling van sulke kinders. Daarom verskaf hierdie oorsig lewensbelangrike inligting oor die moontlike uitkomste en baie goeie nuus vir die TB-veld.

“Ons is nou aan die voorpunt van kliniese navorsing oor nuwe middels soos bedakilien en delaminied vir kinders. Ons beplan die evaluasie van 'n mondelingse behandelingskursus van ses maande vir MDR-TB, wat 'n reuse-deurbraak vir kinders in Suid-Afrika en wêreldwyd sal wees.

“Ons is ook aan die voorpunt van navorsing oor beter maniere om TB by kinders te behandel en voorkom en daardeur dekades van historiese afskepery op hierdie gebied te beëindig," sê Hesseling.

Foto-erkenning: Damien Schumann