Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
Loopbaankafee vir studente bied aan US alumnus en opvoeder Werner Cloete
Outeur: Alumni Relations
Gepubliseer: 05/09/2019

Dit was wyle President Nelson Mandela wat Suid-Afrikaners herinner het aan die belangrike rol wat opvoeding speel in die gemeenskap toe hy gesê het, “dit is deur opvoeding dat die dogter van 'n kleinboer 'n dokter kan word". Vandag, in Vlaeberg, Stellenbosch, skep alumnus Werner Cloete geleenthede vir seuns uit lae inkomste-gemeenskappe om private opvoeding te bekom teen 'n fraksie van die koste, in navolging van Mandela se droom om die lewensomstandighede van benadeelde Suid-Afrikaners te verbeter.

Op 18 September sal Werner die genooide gasspreker wees by die Alumni-betrekkinge Kantoor se Loopbaankafee wat aangebied word tussen 13:00 en 14:00 in Kamer 203 van die Fakulteit Lettere en Sosiale Wetenskappe se gebou op die hoek van Merriman- en Ryneveldstraat. Die TedTalk-styl geleentheid is oop vir alle studente.​

Werner het 'n BSc in Chemie en 'n nagraadse diploma in Opvoeding aan die Universiteit Stellenbosch (US) behaal met 'n beurs nadat hy aan Paul Roos Gimnasium gematrikuleer het. Hy het ook 'n honneursgraad in Teologie behaal aan die Stellenbosch Teologiese Instituut.

“Ek was 'n uitblinker op skool, en soos dit maar is, verwag mense tipies van individue wat akademies sterk is om beroepe in, byvoorbeeld, medisyne, finansies of ingenieurswese te volg. Maar sedert matriek het ek geweet ek wou 'n onderwyser word en het vas besluit om dit te doen," verduidelik Werner.

“Ek het 'n sterk roeping gevoel en geglo dat onderwys 'n groot impak op die gemeenskap het. Die skakel tussen my begeerte om 'n verskil te maak in Suid-Afrika, my passie en vaardighede, het dit duidelik gemaak dat onderwys die regte besluit was."

Maar, voeg Werner by, dit was nie 'n maklike besluit om te neem in 'n wêreld waar onderwysers se bydrae tot die ontwikkeling van die gemeenskap nie altyd ten volle na waarde geskat word nie.

“Op 'n manier moes ek die verwagtinge van ander dat ek 'n beroep moes kies wat hoër aansien het en waar ek geld kon maak, beveg. Ek was verplig om die beroep waarvoor ek bestem was, te volg."

Nadat hy sy graad behaal het, het Werner besluit om sy horisonne verder as Stellenbosch uit te brei.

“Ek het skoolgegaan op Stellenbosch, ek het gewoon op Stellenbosch, baie van my familielede het hier gewoon of gestudeer aan die Universiteit Stellenbosch en ek sou binnekort op Stellenbosch onderwys begin gee het. Dit was tyd om 'n nuwe omgewing te beleef."

Hy het verhuis na die Verenigde Koninkryk waar hy Wetenskap begin gee het aan Retford Oaks High School. Daarna het hy Wiskunde gegee aan die Royal Grammar School en toe Chemie aan Berkhamsted School. 

In Julie 2005 het Werner sy sakke gepak en teruggekeer na Suid-Afrika as onderwyser in Fisika en Chemie aan Paul Roos. Later het hy die hoof geword van die skool se Karakterontwikkeling-program en die skoolkoshuis Prima Nova. Hy het die “Engage" program geloods om effektiewe vaderskap in die skoolgemeenskap te bevorder en het verskeie skole, insluitend Maritzburg College, Rondebosch Boys' High, Paarl Gimnasium, Hoër Jongenskool Paarl en Fontainebleau Primêr gehelp om soortgelyke programme te loods.

In sy 11de jaar by Paarl Roos het die oorspronklike roeping vir die onderwys hom in 'n nuwe rigting gelok. Dit was tyd om 'n privaatskool vir seuns van lae inkomste-gesinne te stig. Die enigste probleem was dat hy nog nie die befondsing of kennis gehad het van hoe om so 'n skool te loods nie. Hy moes ook die sekuriteit van sy onderwyspos verlaat in die geloof dat, op die een of ander manier, hierdie droom sou realiseer.

Vandag werk Werner as die hoof van daardie skool, Calling Academy in Vlaeberg, 'n privaatskool waarvan hy die medestigter is. Die skool is in 2018 geopen. Hy is ook die HUB van Calling Education, 'n NRO met die visie om die mees relevante model te ontwikkel wat gehalte-opvoeding verskaf aan lae-inkomste leerders in Suid-Afrika. Die leerders se skoolgeld by hierdie privaatskool word gedeeltelik betaal deur hul ouers, staatsubsidies en 'n groep vrygewige skenkers.

In minder as drie weke sal Werner by die US wees om te praat oor hoe sy roeping 'n loopbaan geïnspireer het wat hom geneem het van onderwys by sommige van die mees bevoorregte skole ter wêreld tot die opbou van 'n skool vir seuns uit lae inkomste-groepe van die grond af.

Die Loopbaankafee-reeks is in 2016 geloods deur die Alumni-betrekkinge Kantoor om 'n platform te skep waar alumni met die universiteit kan skakel op 'n nuwe manier deur hul tyd en vaardighede te skenk om te help om huidige studente voor te berei vir die beroepe wat hulle verlang.

​Vir meer inligting oor die Loopbaan Kafee, volg die Alumni-betrekkinge Facebookblad by www.facebook.com/stellenboschalumni en die US Facebookblad by www.facebook.com/stellenboschuniversity.  RSVP by marvin@sun.ac.za om die geleentheid by te woon. Twee studente kan elkeen 'n sitplek wen aan die eettafel met Werner die aand van die Loopbaankafee deur in te skryf vir die Loopbaankafee Facebook-kompetisie wat geadverteer sal word op die Stellenbosch Alumni-blad.

Foto: Werner Cloete (tweede van links) met van die leerders van Calling Academy, 'n private skool wat hy help stig het.