Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
Familie stel Martie van der Linde-beursfonds bekend
Outeur: Development & Alumni / Ontwikkeling & Alumni
Gepubliseer: 16/08/2019

Wyle Martie van der Linde, 'n bekende personeellid aan die Universiteit Stellenbosch (US) wat in 2018 oorlede is, was gretig om te leer, om te groei en te verken. Nou, danksy die nuutgestigte Martie van der Linde-beursfonds, sal 'n verdienstelike Matie-student die geleentheid kry om dieselfde te doen en hul hoër onderwys drome na te streef.

Die Martie van der Linde-beursfonds is op Woensdag, 14 Augustus 2019, 'n jaar na haar dood, bekendgestel. "Die fonds is deur Martie se drie kinders in samewerking met haar kollegas binne die Afdeling Ontwikkeling en Alumni-betrekkinge begin," sê prof Niel Krige, Voorsitter van die Ontwikkelingskantoor, met wie Martie nou saamgewerk het.

"Die Beursfonds het reeds 'n beduidende bedrag in sy koffers na finansiële bydraes van 'n aantal donateurs wat Martie geken het deur die loop van haar loopbaan, haar drie kinders, kollegas en vriende," sê prof Krige.

Die kriteria vir die Martie van der Linde-beursfonds sal op 'n latere stadium deur Martie se kinders en die Afdeling Ontwikkeling en Alumni-betrekkinge opgestel word. "'n Suksesvolle kandidaat sal later vanjaar aangekondig word, met die eerste ontvanger wat geld vir die 2020 akademiese jaar sal ontvang," voeg prof Krige by.

"Met hierdie beursfonds wil ons my ma se nalatenskap vier, haar herinneringe lewendig hou en terselfdertyd 'n positiewe verskil aan studente se lewens maak – veral die 'missing middle' studente wat so na aan haar hart was," sê haar seun Sollie van der Linde.

"Om te gee sonder enige grense was inherent tot Martie se geaardheid. Sy het werklik 'n merkwaardige impak op almal se lewens gehad, tot so 'n mate dat ons oorval was met aanbiedinge van mense wat graag wil help om haar nalatenskap te vier," sê hy.

"Sy het taamlik kommer uitgespreek oor studente wat nie kwalifiseer vir volle beurse nie, maar wat ook nie genoeg privaatbefondsing het om voltydse studiegelde te betaal nie. So in 'n poging om haar oneindige empatie te probeer omhels, het ons hierdie beursfonds in haar naam begin," voeg hy by.

Martie, wat bekend was as die US se eie “koningin van funksies", is op 14 Augustus 2018 oorlede. (Totsiens, Martie van der Linde)

Sy was 'n bekende personeellid by die US waar sy vir meer as 22 jaar gewerk het. Sy het begin as 'n persoonlike assistent en haar opgewerk na Hoof: Funksies en Openbare Skakeling in die Afdeling Korporatiewe Kommunikasie voordat sy in 2015 by Ontwikkeling en Alumni-betrekkinge aangesluit het. Gedurende haar tyd aan die US het sy onder meer die inhuldiging van drie US-rektore, professore Chris Brink, Russel Botman en Wim de Villiers en twee kanseliers, dr Frederik van Zyl Slabbert en dr Johann Rupert behartig. Sy is selfs gevra om die begrafnisse van Kanseliers, prof Elize Botha en dr Van Zyl Slabbert asook voormalige rektor prof Botman te organiseer.

  • As jy graag 'n bydrae tot die Martie van der Linde-beursfonds wil maak, kontak ontwikkeling@sun.ac.za.