Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
US-hackathon dubbel so groot vanjaar
Outeur: Corporate Communication/Korporatiewe Kommunikasie [Rozanne Engel]
Gepubliseer: 13/08/2019


Die aandag is by nog 'n geleentheid op die kampus van die Universiteit Stellenbosch (US) op die opkoms van datawetenskap gevestig, toe 'n datawetenskap-uitdaging ingesluit is in die tweede, jaarlikse US hackathon met finansiële tegnologie as tema.

Die hooforganiseerder, Innovus, het vanjaar alles in die kompetisie verdubbel: 70 studente het deelgeneem, wat twee keer meer as verlede jaar is, studente het vanjaar twee uitdagings gehad om uit te kies en ook dubbel die hoeveelheid koffie om deur die moeilike program te kom. Die geleentheid, wat deur Etersekt, Capitec Bank en Explore geborg is, is die naweek van 02 tot 04 Augustus 2019 gehou.

Die US-hackathon het ten doel om talentvolle studenteprogrammeerders, ontwerpers, bouers, statistikusse, wetenskaplikes en ingenieurs byeen te bring om te leer, te bou en hul kreatiewe idees uit te ruil terwyl hulle innoverende oplossings vir probleme eie aan die verwante sektore vind.

Borge uit die sektore is nou betrokke by die inisiatief deur nie net die geleentheid te borg nie, maar ook deur 'n uitdagingsraamwerk en mentors vir die duur van die geleentheid aan die studente te verskaf. Dit stel die studente in staat om netwerke en noue bande met belanghebbers uit die bedryf te vorm, terwyl hulle terselfdertyd bewus word van die probleme waaronder die betrokke sektore gebuk gaan.

67815306_2334906449935929_1263545005859930112_n.jpg 67507005_2333253686767872_5173400580340580352_n.jpg
Die belanghebbers uit die relevante sektore wat betrokke is by die hackathon, help weer op hul beurt om studente met potensiaal vir moontlike indiensneming te identifiseer en hulle kry die geleentheid om hul maatskappye se kultuur onder die studente te bemark.

Volgens Camille de Villiers, Tegnologieoodragbeampte by Innovus, is die doel van die hackathon om 'n gees van ondernemingskap op kampus te kweek en om bewustheid van ondernemingskap te skep. “Hierdie aktiwiteite lei tot waardevolle opvoedkundige ervarings vir studente, wat klaskamerlesings aanvul en die 'Stellenbosch-ervaring' vir die studentegemeenskap versterk. Hierdie hackathon kan tot werksgeleenthede vir gegradueerdes lei, sowel as parallelle loopbaanontwikkeling vir jong navorsers. Dit kan ook 'n positiewe uitwerking op die plaaslike ontwikkelaargemeenskap hê deur die uitruil van innoverende idees en die bou van netwerke in die gemeenskap aan te moedig."

Die eerste jaarlikse US-hackathon (die “SU Fintechathon") is in 2018 deur Innovus aangebied in samewerking met twee plaaslike maatskappye, Capitec Bank en Entersekt. Verlede jaar se US Fintechathon was uiters suksesvol en hoewel die innoverende idees wat by die geleentheid aangebied is, nog verder ontwikkel moet word, het dit waardevolle verhoudinge tussen die US se studente-innoveerders en die borgmaatskappy tot gevolg gehad wat tot 'n paar werksgeleenthede gelei het.

Studente kon by vanjaar se hackathon een van twee uitdagings kies om voor in te skryf: n fintech- koderinguitdaging of n datwetenskapuitdaging. Die tema van albei uitdagings was om met kreatiewe oplossings wat onderbediende verbruikers insluit, vorendag te kom. 

Die fintech-uitdaging, wat deur Capitec en Entersekt geborg en opgestel is, het ook hulp van die US se Departmente Elektriese en Elektroniese Ingenieurswese en die Departement Wiskundige Wetenskappe ontvang. Die datawetenskapuitdaging is deur Capitec en Explore geborg en hulle is bygestaan deur die US se departement Statistiek en Aktuariële Wetenskap. Die US se IT-afdeling het ook ingespring om te verseker dat die WiFi seepglad werk vir die duur van die hackathon.  

Tien spanne het dit dag en nag oor die naweek uitgespook om die wenner van elke uitdaging te bepaal en om te sien wie met die kontantpryse gaan wegstap. Die eersteprys vir beide die datawetenskap- en fintech-uitdaging was R15 000, terwyl die naaswenner in elke kategorie R5 000 ontvang het.

Die span wat uiteindelik met die louere en die R15 000 in die datawetenskap-kategorie weggestap het, was Hedge Back, wat bestaan het uit die eerstejaar M.Com Finansiële Risikobestuur-studente David Rodwell, Robert Cronjé en Christiaan le Roux.

winners1.jpg

Die Hedge Back span met August Carstens van Capitec heel regs.

Die Abnormal Distributions-span, met al vier lede afkomstig van die Fakulteit Ingenieurswese, was die naaswenner in hierdie afdeling.

Die wenspan in die fintech-kodeingsafdeling was Ctrl Alt Elite, wat uit Gregor Feierabend, Josephine Rey, Emile Ferreira en Jason Brown bestaan het. Al vier is eerstejaar BSc Wiskundige Wetenskappe-studente. Die PMJ-span, al drie Elektriese Ingenieurswese-studente, was tweede in hierdie kategorie.

winners2.jpg

Die Ctrl Alt Elite span met Richard Bailey van Entersekt heel regs.

Josephine Rey van die Ctrl Alt Elite-span het gesê sy is baie dankbaar vir die geleentheid wat die US vir studente geskep het om aan die geleentheid deel te neem. “Dit was 'n voorreg om deel te kan wees van so 'n inspirerende ruimte en my span is uiters dankbaar vir die erkenning. Baie dankie vir 'n wonderlike naweek by die hackathon."

De Villiers het die hoop uitgespreek dat die Universiteit Stellenbosch-hackathon die ondernemingsgees en kultuur van innovering regoor die US-kampus elke jaar sal laat groei.

“Dit is Innovus se doelwit om die kultuur van innovasie en ondernemingskap op kampus uit te brei deur ondersteuning in ondernemingskap te bied en te help om innoverende denke onder die studente van die Universiteit Stellenbosch te bevorder. Dit is ook vir ons uiters belangrik om die groei in die innovasiekennisomgewing in die groter Stellenboschgebied deur skakeling met plaaslike nywerhede en sektore te ondersteun.

Vir meer inligting oor die US-hackathon, besoek https://www.innovus.co.za/?lang=afrikaans