Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
​Trilaterale leerstoel aan US-navorser toegeken
Outeur: Daniel Bugan
Gepubliseer: 24/07/2019

ˈn Toonaangewende navorser van die Fakulteit Ekonomiese en Bestuurswetenskappe aan die Universiteit Stellenbosch, medeprofessor Josephine Kaviti Musango, het erkenning ontvang vir haar navorsing toe een van slegs twee Suid-Afrikaanse navorsingstoele van ˈn trilaterale navorsingstoelinisiatief aan haar toegeken is.

Prof Musango, van die Fakulteit se Skool vir Publieke Leierskap, beklee die leerstoel van die trilaterale Suid-Afrikaanse navorsingleerstoelinisiatief van Suid-Afrika, Afrika en die Verenigde Koninkryk (VK).

Dié inisiatief geniet die ondersteuning van die Departement van Wetenskap en Tegnologie, die Nasionale Navorsingstigting (NNS) en die Britse Raad en bevorder samewerking tussen navorsings- en akademiese sentrums van uitnemendheid plaaslik, in die VK en in 'n Afrikaland.

Die doelwitte van die trilaterale SA-Afrika-VK-navorsingsleerstoel is om:

  • Kapasiteitsbou regoor Afrika te bevorder deur Afrika-studente en tegniese ondersteuningspersoneel in staat te stel om posisies in navorsingsleerstoele in Suid-Afrika, die VK en 'n Afrikaland te beklee;
  • Mentorskap te verskaf en PhD-medetoesighouding te ondersteun;
  • By te dra tot die verwerwing van meer PhD-grade in Suid-Afrika; en
  • Nuwe netwerke tussen hoëronderwys- en navorsingsinstellings in Suid-Afrika, Afrika en die VK te  bewerkstellig.

Prof Musango se aanstelling is in Mei deur die NNS goedgekeur na afloop van 'n intensiewe werwingsproses wat in Julie 2018 begin het. Die leerstoel sal amptelik in Oktober bekendgestel word.

Volgens haar beskou sy haar aanstelling as erkenning vir haar navorsingswerk wat op haar transdissiplinêre doktorale studie aan die US gegrond is. Haar navorsing is daarop gemik om globale en beleidsuitdagings rakende energie-armoede, -sekuriteit en -beleid in 'n Afrika-konteks te verstaan en daarop te reageer.

As bekleër van die leerstoel sal prof Musango met dr Amollo Ambole van die Universiteit van Nairobi in Kenia en dr Fabrizio Ceschin van Brunel Universiteit Londen in die VK saamwerk. Hulle navorsing sal fokus op die tema “gender as hoofstroomkwessie", asook die insluiting van gender by die hoofstroom ter wille van energiesekuriteit in arm stedelike omgewings.

Sy sê deur op die sleutelbegrippe “gender as hoofstroomkwessie", “energiesekuriteit" en “arm stedelike omgewings" te konsentreer, wil hulle genderhoofstroming as strategie gebruik om energiesekuriteit in arm stedelike gemeenskappe te bewerkstellig.

“Die leerstoel se algehele doelwit in die eerste vyf jaar is om twee gevallestudies in Nairobi en Kaapstad te gebruik om gendergebaseerde vernuwing en gekommersialiseerde energiegeleenthede in arme stedelike gemeenskappe te bestudeer," sê Musango.

Nog 'n pluimpie vir die Universiteit is dat Musango die leerstoel aangebied is ten spyte van die feit dat die eer normaalweg slegs vir vol professors beskore is.

Dr Makobetsa Khati, uitvoerende direkteur van die NNS se direktoraat Navorsingsleerstoele en Sentrums van Uitnemendheid, sê egter dat dié medeprofessor haar aanstelling verdien as gevolg van haar uitstekende akademiese kwalifikasies en professionele rekord.

Dit sluit haar leierskap in van 'n span gemoeid met stedelike modellering en metabolisme-assessering (uMAMA – www.umama-africa.com). Die span gaan die vloei van hulpbronne na wat stede in Afrika beïnvloed, en ontwikkel innoverende hulpmiddels om energiemetabolisme in informele nedersettings te verstaan en te meet.

Dr Therina Theron, senior direkteur van navorsingsontwikkeling by US, sê Musango se leerstoel sal die Universiteit help om sy doelwitte te bereik deur die kollig te laat val op “navorsing vir impak", asook om Afrika se toonaangewende navorsingsintensiewe universiteit te word en uitdagings in die samelewing die hoof te bied.

Die NNS en die Britse Raad sal die leerstoel vir die volgende vyf jaar befonds, waarna dit hernieu kan word.