Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
US bring registrateurs en administrateurs van vasteland byeen
Outeur: Amanda Tongha
Gepubliseer: 02/07/2019

Die Universiteit Stellenbosch (US) is aan die voorpunt van pogings om 'n Afrikaliggaam op die been te bring wat kwessies soos studentewerwing, -toelating, -registrasie en kurrikulumbestuur by universiteite op die vasteland sal bespreek.

​Registrateurs en administrateurs van 16 universiteite in tien Afrikalande het onlangs op die US se Stellenboschkampus byeengekom vir 'n vermoëbouwerksessie wat die US en die Vereniging van Afrika-universiteite (AAU) gesamentlik aangebied het. Die vier dae lange werksessieprogram, wat deur die US se Registrateur, dr Ronel Retief, gefasiliteer is, het onderwerpe soos studenterekordbestuur, eksamens en roosters, gradeplegtighede sowel as professionele ontwikkeling aangeroer. Deelnemers het visekanseliers, registrateurs en senior administrateurs van universiteite in Zimbabwe, Ghana, Malawi, Nigerië, Mauritius, Tanzanië, Uganda, Kenia en Suid-Afrika ingesluit.  

Volgens dr Retief was die werksessie – die eerste van sy soort – 'n “wonderlike geleentheid vir professionele administratiewe steundiensteomgewings om tot die US se visie met sy sterk klem op Afrika by te dra. Sowat 14 US-kollegas het aan die werksessie deelgeneem, hoofsaaklik as aanbieders oor die verskillende onderwerpe". Dr Retief meen die grootste voordeel vir US-deelnemers was om die geleentheid te hê om nie net hulle eie kundigheid en beste praktyk ten toon te stel nie, maar ook uit hulle interaksies met ander deelnemers te leer.

Dr Retief en ander afgevaardigdes het by die werksessie 'n behoefte uitgespreek aan 'n formele forum vir die universiteitsregistrateurs en -administrateurs van die vasteland. “Uit die US se oogpunt sal ons voortgaan om aan AAU-vermoëbougeleenthede deel te neem. Ons sal ook graag met die AAU saamwerk om 'n Afrikaforum vir universiteitsregistrateurs en -administrateurs op die been te bring." 

  • Die Vereniging van Afrika-universiteite is dié organisasie en forum vir oorlegpleging, inligtingsuitruiling en samewerking tussen hoëronderwysinstellings in Afrika. Dit verteenwoordig die stem van hoër onderwys op die vasteland in streeks- en internasionale liggame, en ondersteun netwerkvorming op die gebied van onderrig, navorsing, inligtingsoordrag en -verspreiding.  

Foto-onderskrif: Universiteitsregistrateurs en -administrateurs van oor die hele Afrika het van 25 tot 28 Junie 'n vermoëbouwerksessie op die US se Stellenboschkampus bygewoon.