Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
US speel gasheer vir Wêreldberaad vir Studenteleiers
Outeur: Corporate Communication/Korporatiewe Kommunikasie [Rozanne Engel]
Gepubliseer: 26/06/2019

Leierskap en geestegesondheid het vandeesweek onder die soeklig gekom toe meer as 50 studenteleiers van regoor die wêreld van 23–26 Junie 2019 op die hoofkampus van die Universiteit Stellenbosch (US) byeengekom het vir die Internasionale Vereniging van Studentesake en Dienste, of te wel IASAS (International Association of Student Affairs and Services), se Wêreldberaad vir Studenteleiers. Dit is die eerste keer dat die US hierdie beraad aanbied.

IASAS is 'n nie-winsgewende organisasie wat in 2013 in België in die lewe geroep is. Dit is 'n wêreldwye organisasie vir professionele persone wat by universiteite se studentedienste betrokke is. IASAS het meer as 1 200 individuele en institusionele lede in 85 lande op vyf vastelande.

Die vierde IASAS Wêreldberaad vir Studenteleiers het 55 studente uit 16 lande van regoor die wêreld welkom geheet. Die wêreldberaad dien as wêreldwye platform om multi- en interkulturele kommunikasie en begrip tussen studente te verbeter. Die doel van die beraad is om studenteleiers uit verskillende wêrelddele bymekaar te bring om studentebestuur, leierskap, maatskaplike geregtigheid en ander gemeenskaplike onderwerpe te bespreek.

Vanjaar se beraad het op leierskap en geestesgesondheid gefokus en deelnemers het die wat, waarom en hoe van die kweek van optrede en die ontwikkeling van vaardighede en veldtogte wat geesteswelstand versterk en ondersteun, bespreek.

DSCF3068.jpg
 

In die foto: Dr Birgit Schreiber (Senior Direkteur: Studentesake by die US en visepresident van IASAS).

Dr Birgit Schreiber, Senior Direkteur: Studentesake by die US en visepresident van IASAS, het saam met dr Lisa Bardill Moscaritolo, IASAS se algemene sekretaris en mede-visepresident en Dekaan van Studente by die Pace-universiteit in New York in die VSA, en Damian Medina, Assistentdekaan: Studentesake by die Duke Kunshan-universiteit in China, haar insigte oor die inisiatiewe en uitkomste ten opsigte van geestesgesondheid en welweesondersteuning by hul onderskeie universiteite gedeel. Studente het hierna die geleentheid gekry om terugvoer te gee en vrae te vra oor hul aanbiedinge en het later ook die onderwerpe in groepsverband bespreek.

“Ons voel dit is baie belangrik dat die werk wat ons by IASAS doen om studente te help om sukses te behaal, nie net in die lesingsaal nie, maar ook buite die dit raakgesien word. Ons hoop dat studente sal baat by hierdie ondervinding en dit by hul universiteite sal toepas," het Moscaritolo gesê.

Volgens haar is die kwessie van geestesgesondheid en welwees reeds by die eerste beraad in Maart 2016 in Montreal, Kanada as 'n besprekingsonderwerp voorgestel. Sy het gesê sy is baie bly dat dit uiteindelik by vanjaar se beraad verder en in meer detail verken kon word. 

DSCF3099.jpg
 

In die foto: Dr Lisa Bardill Moscaritolo (IASAS se algemene sekretaris). 

Schreiber het in haar verwelkoming die studente daaraan herinner hoe belangrik die beraad is om toekomstige wêreldleiers voor te berei en toe te rus.

“Dit is werklik 'n samekoms van internasionale studente uit alle uithoeke van die wêreld. Dit is baie belangrik dat ons bymekaar kom en saam oor leierskap in hierdie wêreldkonteks praat. IASAS in 'n opwindende organisasie wat entoesiasties is oor studentesukses en die gebruik daarvan as 'n werktuig en meganisme vir studentesukses in die wêreld," het Schreiber gesê.

Studente het ook deur die verloop van die beraad die geleentheid gekry om met ander studenteleiers te skakel en groepbesprekings te hou om hul eie begrip van leierskap te verken en nuwe insig te kry in geesteswelwees en die rol wat studenteleiers speel binne 'n ekostelsel van ondersteuning. Hulle het ook aan samewerking en spanbou gewerk, hulpbronne en strategieë geïdentifiseer wat geestelswelwees ondersteun, aan gesprekke oor hul verskille deelgeneem en het gepoog om 'n mikro-veldtog te ontwikkel wat by hul konteks pas.

Vir meer inligting oor geleenthede wat beplan word en die volgende wêreldberaad, besoek die IASAS-webtuiste by http://iasas.global/.