Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
US Regskliniek brei toegang tot regstelsel vir behoeftige Suid-Afrikaners uit
Outeur: Corporate Communication/ Korporatiewe Kommunikasie (Rene-Jean van der Berg)
Gepubliseer: 25/06/2019

Regsdienste is baie duur in Suid-Afrika en dit weerhou dikwels behoeftige Suid-Afrikaners van toegang tot geregtigheid. Hoewel Regshulp Suid-Afrika veronderstel is om regsdienste aan mense uit 'n spesifieke inkomstegroep te verskaf, het besnoeiings op hul begrotings die afgelope paar jaar 'n groot las op die beskikbaarheid van hierdie diens geplaas.

“Die meeste Suid-Afrikaners kan nie hoëgehalteregshulp bekostig nie. En as jy dit nie kan bekostig nie, het jy nie toegang daartoe nie," sê dr Theo Broodryk, besturende prokureur by die Universiteit Stellenbosch Regskliniek

Hierdie regskliniek verskaf jaarliks regshulp aan meer as 2 000 mense. Vir die regskliniek is hierdie mense is nie net kliënte, aangesien hierdie stap dikwels hul laaste uitweg is om 'n dak oor hul kop te behou of om van die mishandeling deur 'n lewensmaat te ontsnap.

Die US Regskliniek het reeds verskeie toekennings ontvang. Hulle het onlangs internasionale erkenning gekry toe hulle by die tiende jaarlikse wêreldwye regsspesialis-toekennings as die Suid-Afrikaanse spesialis-regsfirma van die jaar en die Suid-Afrikaanse maatskaplike geregtigheid-regsfirma van die jaar aangewys is.

Volgens Broodryk getuig hierdie toekennings van die US Regskliniek se missie om 'n daadwerklike impak op die lewens van hul kliënte en die gemeenskap te maak.

Die aantal suksesvolle siviele sake waarmee die span prokureurs kan spog, asook die invloedryke regsgedinge wat verandering in die samelewing meegebring het, is 'n bewys hiervan.

Die US Regskliniek se betrokkenheid by betekenisvolle regsgedinge soos presedent-skeppende diskriminasiesake en voorstelle oor tamponbelasting het van die kliniek 'n leier op verskeie gebiede gemaak.

Afgesien daarvan dat die regskliniek toegang tot regsdienste en -prosesse in die Boland bevorder, bied dit ook verskeie opleidingsessies aan om mense te leer oor hul regte as dit kom by uitsettings, skuldverligting en gesinsgeweld. Me Monja Posthumus-Meyjes voel dié diens is net so belangrik as om regsverteenwoordiging te hê.

“Talle arm Suid-Afrikaners het geen vertroue in die regstelsel nie," sê Posthumus-Meyjes, 'n prokureur by die regskliniek.

“Omdat hulle nie verteenwoordiging van 'n goeie gehalte kan bekostig nie, het hulle dikwels slegte ervarings in die hof. Dit lei tot wantroue en hierdie slegte ervarings word aan ander oorvertel."

Sy sê dat afgesien van slegte ervarings met die reg, is baie mense onkundig oor hul regte en regsprosesse. Hulle wil deur middel van die werksessies groter bewustheid oor die regstelsel en regte skep.

“Deur ons werk met ons kliënte en deur na hul stories te luister, leer 'n mens baie oor die groter maatskaplike probleme in die samelewing. Dit gaan nooit net oor iemand wat 'n egskeiding wil hê of 'n plaaswerker wat nie sy salaris ontvang het nie. Die sake en stories waarmee ons te doen kry, is baie ingewikkelder en dikwels ineengestrengel met talle ander. Gelukkig het ons 'n goeie span – elkeen lewer 'n uitstekende diens om tot die US Regskliniek se sukses by te dra." 

56229333_635013686960541_8451892255752454144_o.jpg
Die span by die Universiteit Stellenbosch Regskliniek wat help om toegang tot die regstelsel vir behoeftige Suid-Afrikaners uit​ te brei.