Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
Kommunikasie uit die Raad (18 Junie 2019)
Outeur: Corporate Communication / Korporatiewe Kommunikasie
Gepubliseer: 21/06/2019

Die Universiteit Stellenbosch (US) Raad se tweede geskeduleerde vergadering van die jaar het op Dinsdag 18 Junie plaasgevind.

Die Raad het ontwikkelings in die hoër onderwys en by die US bespreek en ʼn aantal belangrike besluite geneem. Sake wat aandag geniet het, sluit in die omstrede artikel oor ras en kognisie, die moontlike heraanstelling van die Rektor, die nuwe Skool vir Datawetenskap en Rekenaardenke, asook ʼn nuwe beleid teen korrupsie en omkopery. Klik gerus hier om meer te lees.

Vriendelike groete

George Steyn
Voorsitter: US Raad

Artikel oor ras en kognisie

Die Raad het die onlangse omstredenheid oor ʼn artikel oor ras en kognisie wat deur US-navorsers gepubliseer is, bespreek. Die Universiteit se ferm standpuntinname teen die gebruik van raskategorisering in die artikel, die instelling se onvoorwaardelike verskoning en die omvattende ondersoek wat die US van stapel gestuur het, is verwelkom.

Daar is kennis geneem van die Senaatsmosie oor dié saak, en die verwysing van konkrete voorstelle na spesifieke strukture. Die drie Raadslede wat ook in die Senaat dien en die mosie saam met kollegas voorgestel het, is bedank vir hulle bydrae tot waagmoedige en inklusiewe gesprek oor die aangeleentheid. Ook die Fakulteit Geneeskunde en Gesondheidswetenskappe en ander belanghebbendes se deelname aan die ontvouende oop gesprek is erken.

Prof Wim de Villiers, Rektor en Visekanselier, het daarop gewys dat die Universiteit dié geleentheid gebruik om kritiese selfondersoek te doen en sy prosesse vir navorsingsetiekgoedkeuring onder die loep te neem. Hy het sy steun toegesê aan ʼn oproep dat die instelling “groot moet dink" deur byvoorbeeld riglyne oor die hantering van “ras" in kennisproduksie te ontwikkel. Dít kan 'n positiewe impak hê wat veel wyer as die US strek weens die universele aard van die kwessie.

Proses vir moontlike heraanstelling van die Rektor

Die Raad het op aanbeveling van sy Menslike Hulpbronnekomitee besluit dat ʼn verkorte prosedure gevolg sal word vir die oorweging van die heraanstelling van prof Wim de Villiers as Rektor en Visekanselier vir ʼn tweede termyn van 1 April 2020 tot 31 Maart 2025. Prof De Villiers se moontlike heraanstelling sal nou voorgelê word aan die Institusionele Forum, dan die Senaat, en laastens aan die Raad vir ʼn finale besluit by die volgende vergadering op 25 September.

Ingevolge die Reglement insake Prosedure by die Aanstelling van ʼn Rektor en van Viserektore, wat die Raad op 26 Junie 2006 goedgekeur het, kan ʼn verkorte prosedure eenmalig gevolg word. Die Raad het Dinsdag die Rektor se curriculum vitae, resultate sedert sy aanstelling op 1 April 2015 sowel as sy visie vir ʼn moontlike tweede termyn oorweeg. In die daaropvolgende stemming het die Raad eenparig op die verkorte prosedure besluit.

Skool vir Datawetenskap en Rekenaardenke

Die Raad het die Senaat se aanbeveling aanvaar dat die US ʼn Skool vir Datawetenskap en Rekenaardenke tot stand bring. Dié stap geniet ook die ondersteuning van alle US-fakulteite sowel as die instelling se Akademiese Beplanningskomitee en Navorsingskomitee. Dít baan nou die weg vir die amptelike bekendstelling van die Skool.

Die Rektor het onderstreep dat snelle ontwikkeling op die gebied van “groot data" en kunsmatige intelligensie wêreldwyd fundamentele verandering in die arbeidswêreld en in kennisproduksie en -oordrag in alle akademiese dissiplines teweegbring. Die tyd is dus ryp vir die US om die Skool op die been te bring, wat ook konkrete uitvoering sal gee aan die Universiteit se Visie 2040 en Strategiese Raamwerk 2019–2024 wat interdissiplinêre en multidissiplinêre samewerking voorstaan.

Die Skool sal ʼn tipe 3- akademiese entiteit wees – enig in sy soort aan die US. Hierdie stap kom ná die Raad se goedkeuring van ʼn nuwe Reglement vir Akademiese Entiteite Binne en Langs Departemente en Fakulteite in September verlede jaar ter vervanging van die Beleid insake Sentrums, Buro's en Institute. Die Skool sal nie binne ʼn bepaalde fakulteit gesetel wees nie, maar met alle fakulteite skakel. Soos wat die geval is met die fakulteite, sal die Skool direk aan die Viserektor: Navorsing, Innovasie en Nagraadse Studie verslag doen.

Die Skool sal nie self grade toeken nie, maar die Raad het kennis geneem dat die Senaat onlangs goedkeuring verleen het vir die instelling van nuwe baccalaureusgrade in Datawetenskap met ingang van 2021 in die fakulteite Ekonomiese en Bestuurswetenskappe, Lettere en Sosiale Wetenskappe, Natuurwetenskappe en AgriWetenskappe. Die Fakulteit Ingenieurswese begin reeds volgende jaar met die opleiding van data-ingenieurs as ʼn nuwe spesialisasiestroom in die bestaande baccalaureusprogram in Elektriese en Elektroniese Ingenieurswese (BIng (E&E)).

Nuwe navorsingsleerstoele

In die Rektor se verslag aan die Raad (klik hier vir die volledige dokument) het hy aangekondig dat drie nuwe leerstoele by die US tot stand gebring is.

Die Macrocomm-leerstoel in slimnutsdiensoplossings is 'n gesubsidieerde navorsingsleerstoel in die Departement Elektriese en Elektroniese Ingenieurswese en word deur mnr Christo Nicholls beklee. Die leerstoel sal konsentreer op navorsing oor slimmeting, grootdataontleding, tegnologieë van die internet-van-dinge, laekrag-wye-areanetwerke, slimvermoëbou, gasheeroplossings vir ondernemingsagteware, en die voorspelling van nutsdiensprestasie.

Die nuwe SARChI-leerstoel in stadsmodellering en -metabolismestudie is ʼn driesydige vlak 1-leerstoel waaraan Suid-Afrika, Kenia en die Verenigde Koninkryk deelneem. Die leerstoel is geleë in die Fakulteit Ekonomiese en Bestuurswetenskappe se Skool vir Publieke Leierskap en staan onder leiding van prof Josephine Musango.

Die Hans Merensky-leerstoel in houtvorming word vir tien jaar deur die Hans Merensky-stigting gefinansier. Die hoofnavorser is dr David Drew, 'n senior dosent in die Departement Bos- en Houtkunde. Die leerstoel sal ondersoek hoe bome, veral eukaliptus- (bloekom-)bome, groei en hout vorm (die proses wat as “xilogenese" bekend is).

US nou deel van internasionale universiteitsalliansie oor die klimaat

Die Raad het die nuus verwelkom dat die US genooi is om by die toonaangewende GAUC (“Global Alliance of Universities on Climate") aan te sluit. Dít maak die US die enigste Afrika-universiteit in dié struktuur. Die ander stigterslede is die Australiese Nasionale Universiteit; die Universiteit van Kalifornië, Berkeley; die Universiteit van Cambridge; Imperial College London; die Londense Skool vir Ekonomie en Politieke Wetenskap; die Massachusetts Instituut vir Tegnologie; die Universiteit van Tokio; en Tsinghua-universiteit in China.

Die alliansie beoog om saam te werk aan die bevordering van maatreëls om die Verenigde Nasies se konvensies oor klimaatsverandering en volhoubare ontwikkelingsdoelwitte te ondersteun. Prof Hester Klopper, Viserektor: Strategie en Internasionalisering, het die US onlangs by die eerste uitvoerende vergadering in Beijingverteenwoordig. Dr Tsakani Ngomane, lid van die US Raad en Suid-Afrika se adjunkdirekteurgeneraal van klimaatsverandering en volhoubare ontwikkeling, het 'n sleutelrol vervul ter ondersteuning van die US se toelating tot die GAUC op grond van die Universiteit se navorsingsgeskiedenis en -vermoëns.

Geïntegreerde jaarverslag en finansiële state vir 2018

Die Raad het die US se geïntegreerde jaarverslag vir 2018, met inbegrip van die Universiteit se gekonsolideerde finansiële jaarstate, op aanbeveling van sy Oudit- en Risikokomitee (ORK) goedgekeur. Die eksterne oudit van die Universiteit vir 2018 het geen wesenlike bevindinge aan die lig gebring het nie.

Ook op aanbeveling van die ORK, en in pas met tersaaklike regulasies en wetgewing, het die Raad bevestig dat die US ʼn lopende saak en finansieel gesond is. Die Raad het in November 2018 op aanbeveling van sy Uitvoerende Komitee die Universiteit se geïntegreerde begroting vir 2019 en finansiële beplanning vir 2020–2024 goedgekeur.

Die geïntegreerde jaarverslag en finansiële state sal nou teen die sperdatum van 30 Junie by die Minister van Hoër Onderwys, Wetenskap en Tegnologie ingedien word. 'n Elektroniese weergawe sal dan op die US-webtuiste verskyn, waarná die verslag gedruk en versprei sal word. Dit sal in Engels en Afrikaans beskikbaar wees.

Boonop het die US sy tweede oorsigbestuursaanwysertelkaart vir die rade van Suid-Afrikaanse openbare hoëronderwysinstellings, 'n nuwe vereiste van die Departement van Hoër Onderwys en Opleiding, voltooi. Dié dokument sal ook teen 30 Junie ingedien word.

Beleid teen Korrupsie en Omkopery

Die Raad het kennis geneem dat die ORK ʼn Beleid teen Korrupsie en Omkopery as deel van die Universiteit se oorhoofse Finansiële Beleid goedgekeur het. Die ORK het die nodige afhandelingsbevoegdheid in dié verband. Die Sosiale en Besigheidsetiekkomitee van die Raad het ook bydraes gelewer.

Die beleid word ingestel ooreenkomstig die waardes van die US, wat verantwoordbaarheid insluit. Dit maak deel uit van die Universiteit se verbintenis tot die hoogste etiekstandaarde en wetsvoldoening. Die beleid verwoord die US se toewyding aan professionele, eerlike, deursigtige, regverdige, billike en etiese optrede, en 'n nulverdraagsaamheidsbenadering tot omkopery en korrupsie.

Dit is van toepassing op alle US-personeellede en -studente, wat vrywilligers, tydelike werknemers en deeltydse studente insluit, sowel as op verbandhoudende strukture, entiteite en ondernemings. Die beleid bevat riglyne vir die uitkenning en hantering van korrupsie en omkopery, omskrywings van kernterminologie, en inligting oor aspekte soos wanneer geskenke en ander gasvryheidsgebare aanvaarbaar is en wanneer nié. Sake soos fasiliteringsfooie, gunslone en skenkings word ook opgeklaar. 'n Nuttige bylae by die beleid bied 'n uiteensetting van hoërisiko-omstandighede vir moontlike korrupsie en omkopery, met voorbeelde ter illustrasie.

Die US se Bedryfshoof is die beleidseienaar, en die Hoofdirekteur: Finansies is verantwoordelik vir beleidsimplementering, -monitering en -navrae.

Sosiale Impak, Transformasie en Personeel

Prof Nico Koopman, Viserektor: Sosiale Impak, Transformasie en Personeel, het dié keer aan die beurt gekom om 'n jaarverslag oor sy verantwoordelikheidsentrum (VS) voor te lê (klik hier vir volledige dokument, en hier vir PowerPoint-aanbieding). Hy het uitgewys dat sy VS ʼn wesenlike bydrae lewer tot die Universiteit se strewe om die wêreld te verander maar ook self ontvanklik vir verandering te wees.

Ten opsigte van sosiale impak is dit verblydend dat vrywilligerwerk al hoe gewilder raak onder sowel personeellede as studente. Die Universiteit se institusionele vennootskappe en samewerkingsooreenkomste word ook uitgebou.

Wat transformasie betref, verbeter die diversiteit van die Universiteit se personeel- en studentekorps stelselmatig en word daar vordering gemaak met visuele regstelling op US-kampusse. ʼn Moeilike dog vervullende taak is om mense se onbewustelike vooroordele te hanteer. Die Siyakhula-sessies vir personeellede, en soortgelyke geleenthede vir studente, soos gedurende verwelkoming en leiersopleiding, behaal aansienlike sukses in dié verband.

Op personeelgebied het prof Koopman die Raad verseker dat werknemers se gesondheid en welstand vir die Universiteit ʼn voorrangsaak is. ʼn Strategie in dié verband word tans opgestel vir kampuswye bespreking. Boonop sal die Afdeling Menslike Hulpbronne ʼn omvattende eksterne evaluering ondergaan om optimale soepelheid en doeltreffendheid te verseker.

Aanstellings

Die Raad het mnr Charl Cillié in die Sosiale en Besigheidsetiekkomitee aangestel. Mnr Cillié is deur die Konvokasie verkies.

Die Menslike Hulpbronnekomitee van die Raad (MHK(R)) het verslag gedoen dat dr Kelebogile Choice Makhetha met ingang van 1 Augustus as Senior Direkteur: Studentesake aangestel word. Sy vervang dr Birgit Schreiber, wat bedank het. Dr Makhetha besit ʼn PhD in Politieke Wetenskap en beskik oor uitgebreide ervaring in die hoër onderwys, waaronder studentesake.

Daarbenewens word me Nicolette van den Eijkel met ingang van 1 Januarie 2020 opnuut vir 'n verdere termyn van vyf jaar as Hoofdirekteur: Fasiliteitsbestuur aangestel. Die Raad het kennis geneem dat die MHK(R) hierdie besluit geneem het op aanbeveling van die Rektor en Bedryfshoof, en op grond van 'n gunstige beoordeling van me Van den Eijkel se eerste termyn én haar oortuigende visie vir die termyn wat voorlê.

Dekaan vir Fakulteit Opvoedkunde aangestel

(Hierdie item is nie betyds afgehandel vir die kommunikasie uit die Raad wat op 21 Junie 2019 uitgereik is nie, en word dus na die tyd hier aanlyn bygewerk, en sal ook afsonderlik vrygestel word.)

Die Universiteit Stellenbosch Raad het by sy mees onlangse vergadering besluit om prof Mbulungeni Madiba met ingang van 1 September as Dekaan: Opvoedkunde aan te stel. Die aanstelling is vir 'n aanvanklike termyn van vyf jaar, met die moontlikheid van 'n tweede termyn.

Prof Madiba dien tans as die direkteur van die Meertalige Onderwysprojek in die Universiteit van Kaapstad (UK) se Sentrum vir Hoëronderwysontwikkeling (CHED). Hy was 'n aantal keer vise- en waarnemende dekaan van die CHED, is die huidige voorsitter van die Taalkomitee van die UK Senaat, en dien ook in die UK Raad.

Hy is ʼn volprofessor in Meertalige Onderwys en het die graad DLitt et Phil (Taalwetenskap) aan die Universiteit van Suid-Afrika (Unisa) verwerf. Daarbenewens het hy al navorsingsgenootskappe en studietoekennings van 'n aantal buitelandse hoëronderwysinstellings ontvang, waaronder die universiteite van Keulen, Londen (Oppenheimer-genoot), Birmingham en Harvard (Mandela-genoot).

As 'n gevestigde navorser met 'n C-gradering van die Nasionale Navorsingstigting, spits prof Madiba hom hoofsaaklik toe op navorsing oor taalbeplanning en -beleid, met 'n besondere klem op meertalige onderwys. Hy het meer as 30 jaar onderrigervaring – die eerste drie by 'n hoërskool, een by 'n onderwyserskollege, en die res as 'n universiteitsdosent.

Prof Christa van der Walt, Visedekaan ( Navorsing), sal tot en met prof Madiba se koms as Waarnemende Dekaan dien. Sy neem op 1 Julie oor by prof Johan Malan, wat sedert 1 April 2018 in die pos waargeneem het, maar nou aftree.

Volgende vergadering

Die volgende Raadsvergadering is vir 25 September 2019 geskeduleer.