Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
SA nog nie van onverwekte trauma genees
Outeur: Corporate Communication / Korporatiewe Kommunikasie [Alec Basson]
Gepubliseer: 13/06/2019

Ons kan nie bekostig om aanhoudend die onafgehandelde taak van die genesig van ons nasie en die hantering van onverwerkte (of te wel frozen) trauma te ignoreer nie.

Só meen prof Christo Thesnaar van die Departement Praktiese Teologie en Missiologie in die Fakulteit Teologie aan die Universiteit Stellenbosch (US). Hy het Woensdag (12 Junie 2019) sy intreerede oor die onderwerp Divine discomfort: A relational encounter with multi-generational and multi-layered trauma gelewer.

Thesnaar het gesê Suid-Afrika dra nou die gevolge van onverwerkte en multi-generasie- en veelvlakkige trauma wat in die land na die oppervlak begin kom het. Hy het bygevoeg dat ons nie daarin geslaag het om die trauma van die verlede te hanteer het nie.

“Huishoudelike geweld en intieme geweld teen ʼn lewensmaat, geweldsmisdaad, substansafhanklikheid, xenofobie, ens., is almal tekens van onverwerkte trauma wat na die oppervlak begin kom het. Voortslepende armoede, ongelykheid en werkloosheid wys duidelik dat ons versuim het om aan ons onverwerkte trauma aandag te gee."Teologie intree-8.jpg

“In die aanloop tot die 25ste herdenking van die politieke skikking in Suid-Afrika het ons 'n toename in woede, geweld en vergelding op alle vlakke van ons samelewing oor basiese dienslewering, armoede, onderwys, ekonomiese vryheid, ensovoorts gesien.

“Dit is veilig om te sê dat die toestand van die trauma in ons land vir die grootste deel van die 25 jaar hoofsaaklik onderdruk is deur die oorgangsproses, die eerste demokratiese verkiesing, die proses van die Waarheid- en Versoeningskommissie (WVK) en die vele politieke beloftes."

Volgens Thesnaar het die gebrek aan implementering van die WVK se aanbevelings deur die regering, burgerlike samelewing en godsdienstige groeperings en die versuim om die trauma van die verlede trauma te fasiliteer, daartoe bygedra dat die trauma na die oppervlak gekom het.

“Die versuim om ʼn sosio-ekonomiese skikking in terme van ekonomiese geregtigheid, grondhervorming, behuising en indiensneming aan te spreek, om enkeles te noem, het spesifiek bygedra tot die onverwerkte trauma en die feit dat dit na die oppervlak gekom het."

Thesnaar het bygevoeg dat hoewel ons 25 jaar gelede deur 'n transformasie (politieke verandering en ʼn nuwe Grondwet) en genesingsproses (gefasiliteer deur die WVK) gegaan het, daar geen waarborg was dat dit voldoende sou wees om die dekades van onverwerkte trauma te hanteer nie.

Hy het gesê die gebrek aan dringendheid deur alle rolspelers om Suid-Afrika te transformeer, het verdeeldheid tussen ryk en arm, verskillende rassegroepe, en tussen leiers en landsburgers laat toe neem.

“Armoede te midde van weelde is geneig om 'n persoon, familie, gemeenskap en selfs 'n nasie onvoorstelbaar te verwond. In die verband is ongelyke samelewings soos ons s'n geneig tot meer woede en geweld wat na binne gekeer is en ook gemik is op diegene wat na is aan die getraumatiseerde persoon."

Thesnaar het gesê ons sal as 'n samelewing die waardes van ubuntu en wedersydse erkenning moet omarm om die multi-generasie en veelvlakkige trauma te hanteer.

  • Hooffoto: 'n Plakkerskamp in Suid-Afrika. (Krediet: Wikimedia)
  • Foto 1: Proff Reggie Nel, Dekaan van die US se Fakulteit Teologie, Christo Thesnaar en Stan du Plessis, die US se Uitvoerende Bedryfshoof, by die intreerede. Fotograaf: Anton Jordaan