Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
Vier Maties op pad na Wêreldstudentespele
Outeur: Maties Sport Media
Gepubliseer: 12/06/2019

Vier studente-atlete van Maties Sport sal Suid-Afrika in Julie by die Wêreldstudentespele in Italië verteenwoordig.

Gardeo Isaacs en Breyten Poole (Maties Atletiek), Craig Walters (Maties Sokker) en Hein Kritzinger (Maties Rugby-sewes) sal van 3-14 Julie in Napels deelneem.

Walters se insluiting by die span is 'n historiese oomblik vir Maties Sport aangesien dit die eerste keer is dat 'n Matiesokkerspeler die span haal.

Walters het sy insluiting by die sokkerspan as die geleentheid van 'n leeftyd beskryf. “Dit beteken ongelooflik baie vir my en ek sal elke sekonde koester."

“Ek wil Italië verlaat met die wete dat ek alles gegee het. Ek wil my familie, gemeenskap en die Universiteit Stellenbosch trots maak. Ek verteenwoordig nie net myself nie, maar ook my hele gemeenskap. Ek wil graag by die beginspan vir elke wedstryd ingesluit word en die span help om die uitkloprondes te bereik."

Poole het gesê hy voel geëerd met sy insluiting by die span.

“Ek is opgewonde oor die geleentheid om teen die beste studente-atlete in die wêreld mee te ding. Dit is 'n reuse-eer om hierdie span en Maties te verteenwoordig."

Kritzinger stem saam dat dit 'n ongelooflike eer en geleentheid is om sy land te verteenwoordig.

“Ek is baie opgewonde en optimisties oor die toernooi."

Suid-Afrika se 400m-kampioen, Gardeo Isaacs, wil sy beste gee en die geleentheid geniet.

“Ek wil ook baie graag 'n kwalifiserende tyd hardloop sodat ek aan die Wêreldkampioenskap in Doha kan deelneem. Soos vir enige atleet, is dit my droom en doelwit om aan die Olimpiese Spele deel te neem."

Maties Sport se hoofdirekteur, Ilhaam Groenewald, sal ook na Italië reis en het gesê sy, saam met die hele Maties Sport-familie, sal die studente-atlete heelhartig ondersteun.