Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
WÊRELD-GEEN-TABAKDAG 2019
Outeur: Dr. Lynne Julie
Gepubliseer: 30/05/2019

31 Mei vier ons Wêreld Geen Rook Dag.

Die fokus van Wêreld-Geen-Tabakdag 2019 is op "tabak en longgesondheid".

Longe word gebruik om skoon lug in te asem, suurstof van inkomende lug te ontvang wat die bloedstroom binnegaan en koolstofdioksied ('n afvalgas) deur die bloedstroom uitskei. Ongesonde longe is nie in staat om dit te doen nie en dit lei tot swak gesondheid.

Tabakrook is die hoofoorsaak van ongesonde longe, longkanker en meer as 20 ander kankersoorte. Nikotienblootstelling tas breinontwikkeling in tienerjare en jong volwassenes negatief aan.

Hoekom moet ek ophou rook?

  • Die wêreldgesondheidslas, veroorsaak deur tabakrook, is verantwoordelik vir meer as twee derdes van longkankersterftes. Tabakverwante siektes is jaarliks die oorsaak van sterftes van 52 100 Suid-Afrikaners en 5,4 miljoen mense wêreldwyd, en digby 900 000 nie-rokers gaan van tweedehandse rookinaseming dood.
  • Tabakgebruik verhoog die gevaar van meer as 20 kankersoorte: long, nierbekken, mondholte, orofarinks, hipofarinks, nasofarinks, derm, keel, neusholte en sinus, ureter, blaas, pankreas, nier, maag, kolorektum, baarmoeder, bors, ovariële en bloed.
  • Selfs as iemand nie rook nie, kan tweedehandse rook van rokers naby hulle die risiko vir longkanker verhoog.
  • Rook tydens swangerskap en blootstelling aan tweedehandse rook word albei verbind met miskrame, lae gewig met geboorte en doodgeboorte. Babas wat tweedehandse rook inasem het 'n groter risiko tot wiegiedood.
  • E-sigarette moet ingesluit word wanneer gesondheidsrisiko's van passiewe tabakrook (tweedehandse rook) in ag geneem word, aangesien die gebruik van hierdie produkte tot die uitskeiding van fyn / ultrafyn vloeibare inasemingsdeeltjies, nikotien en kankerveroorsakende inhoudsubstanse in die lug lei.
  • Tabakrook veroorsaak een uit elke vyf gevalle van tuberkulose (TB). Tabakrook en tweedehandse rook kan ook onaktiewe TB-infeksies veroorsaak. Persone met aktiewe TB kan ook 'n ongeskiktheidsrisiko of selfs dood in die gesig staar as gevolg van rook.
  • Rokers met MIV het 'n drie keer groter kans om TB te kry in vergelyking met nie-rokers wat MIV het.
  • Dit is nie slegs sigarette wat skadelik is vir die gesondheid nie: rook van waterrookpype (hubbly bubbly), sigare, pype en tabakprodukte wat mondelings of deur die neus gebruik word (snuif, snus, en pruim) het ook 'n afbreukende invloed op gesondheid. E-sigarette is nog nie wetenskaplik as veilig bewys nie.

 

Opgee van tabakgebruik kan 'n positiewe invloed op jou gesondheid en lewensstyl hê, insluitend:

  • 20 minute na die laaste sigaret verminder bloeddruk en polssnelheid; liggaamstemperatuur styg tot normaal
  • Na 8 ure verlaag koolstofmonoksiedvlakke in die bloed tot normaal; suurstofvlakke verhoog tot normaal
  • Na 24 uur verminder die kans op 'n hartaanval
  • Na 48 uur begin senuwee-eindpunte weer groei; die vermoë om te ruik en te proe verhoog
  • Na 2 weke tot 3 maande verbeter sirkulasie; stap raak makliker; longfunksie verbeter
  • Na 1 tot 9 maande is daar 'n afname in hoesbuie; sinuskongestie; moegheid; aamborstigheid
  • Na 1 jaar verlaag die oormatige risiko van koronêre hartsiektes tot die helfte van dié van rokers
  • Na 5 jaar halveer die risiko van mond-, keel-, derm- en blaaskanker; die risiko vir servikale kanker verlaag tot dié van nie-rokers
  • Na 5 tot 15 jaar word die risiko vir beroerte verlaag tot dié van nie-rokers
  • Na 10 jaar verlaag die risiko van longkanker tot so min as die helfte van dié van voortdurende rokers; die risiko van mond-, keel-, derm-, blaas-, nier- en pankreaskanker verlaag; die risiko van absesse verlaag
  • Na 15 jaar is die risiko van koronêre hartsiektes dieselfde as vir mense wat nooit gerook het nie; risiko van sterfte keer terug na bykans die vlak van mense wat nooit gerook het nie.

 

Om op te hou rook verlaag die risiko van kanker en koronêre hartsiektes, en die funksie van bloedvate, die hart en longe verbeter.

Om op te hou rook terwyl jy jonk is, sal gesondheidsrisiko's verder verlaag. Om op enige ouderdom op te hou rook kan lewensjare teruggee wat andersins verlore sou wees wanneer jy aanhou rook.

Vanaf 1 Januarie 2019 is Universiteit Stellenbosch se Tygerbergkampus 'n rookvrye kampus – die eerste een in Suid-Afrika! Vind meer uit hier en hier.

Tot op datum het die dokters by Kampusgesondheidsdiens by die Tygerbergkampus 26 kliënte geassesseer wat wou ophou rook.

As jy hulp wil hê om tabak en verwante produkte op te gee, maak asseblief 'n afspraak om 'n dokter by Kampusgesondheidsdiens te sien. Kontakbesonderhede kan hier gevind word.