Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
Maties-gholfspeler durf St. Andrews Links aan
Outeur: Pia Nänny
Gepubliseer: 28/05/2019

Net 'n paar studente-gholfspelers in die wêreld sal ooit die voorreg hê om 'n toernooi by St. Andrews Links in Skotland te speel, en Maties Gholf se Phillip Swanepoel is een van hulle.          

Phillip, 'n Bedryfsielkunde-student in sy finale jaar aan die Universiteit Stellenbosch (US), is genooi om in April aan die R&A-studentekompetisie deel te neem. Die R&A, gestig in 2004 en gesetel by St. Andrews, is betrokke by en steun aktiwiteite ten bate van gholf.

“Die R&A ken elke jaar 300 beurse toe aan universiteitstudente reg oor die wêreld wat 'n loopbaan in gholf nastreef terwyl hulle voltyds studeer," verduidelik Phillip.     

“Die top-60-spelers word dan genooi om in die R&A se studentetoernooi te speel. Ek was gelukkig genoeg om een van daardie 60 spelers te wees.          

“Dit voel onwerklik, om die waarheid te sê. 'n Mens hoor so baie van die "home of golf" dat dit 'n rukkie vat om alles in te neem. Wat regtig vir my uitgestaan het, was die soort gholf wat jy moet speel. Links-gholf verskil van die gholf wat ons in Suid-Afrika speel. Die bane is moeilik, en wind en reën is deel van die spel. Dis fantasties, want jy moet meer kreatief wees met jou spel en die besluite wat jy neem oor elke hou wat jy speel."       

Ná twee rondtes op die Eden-baan op dag een (tellings van 75 en 68) en een rondte op die Ou Baan op dag twee (telling 71), het Phillip die toernooi in die gesamentlike 6e plek voltooi. Die temperatuur op albei dae was onder 10 °C.         

“Ek is tevrede met my prestasie. Suid-Afrika het nie tradisionele links-gholfbane nie, en dit was nie maklik om vir die toernooi voor te berei nie."          

Die spelers is ook na 'n onthaal in die bekende Royal & Ancient Gholfklub agter die 1e afslaanbof op die Ou Baan by St. Andrews genooi.      

“Ons het die klubhuis saam met die lede verken en baie oor die geskiedenis van die spel en die geskiedenis van gholfbaanonderhoud geleer."       

Phillip is die afgelope vier jaar lid van die Maties Gholfklub en het die klubkampioenskap in 2016, 2017 en 2018 gewen. Hy het ook die USSA-kampioenskap in sy eerste jaar gewen. Hy verteenwoordig Maties met trots en geniet dit om deel van die Maties-sportfamilie te wees.        

“Gholf het ook vir my die geleentheid gegee om baie mense te ontmoet – die vorming van netwerke is 'n groot voordeel van die spel en om te kan reis, is altyd 'n byvoordeel," voeg hy by.   

Dit is egter nie maklik om 'n studenteatleet te wees nie. Om 'n loopbaan in gholf te kan volg, moet Phillip sy finale jaar oor twee jaar voltooi.     

“As dit nie was vir die steun van die Universiteit Stellenbosch en my lektore nie, sou dit nie vir my moontlik wees nie (om 'n loopbaan in gholf na te streef nie)."