Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
Papiermikroskoop open die wonderwêreld van die piepkleine
Outeur: Wiida Fourie-Basson
Gepubliseer: 22/05/2019

Graad 10-leerders van die Hoërskool Kayamandi en Makapula Sekondêre Skool in Stellenbosch, is bekendgestel aan die wonderwêreld van die piepkleine toe elkeen van hulle 'n Foldscope stelletjie ontvang het om hulle eie papiermikroskope te “vou". En hierdeur kon hulle na druppels uit die plaaslike Kromrivier kyk, asook na boomblare, blomblaartjies en self kriekies!

Hierdie papiermikroskoop genaamd Foldscope, is ontwerp volgens die beginsels van papier-origami, maar met die optiese kwaliteit soortgelyk aan konvensionele navorsingsmikroskope, bv. 'n vergroting van 140X en 'n resolusie van 2 mikron. Die Foldscope is ontwikkel deur Prof Manu Prakash, 'n bioloog van Stanford Universiteit, in sy strewe om laekoste wetenskaplike toerusting te vervaardig ten einde die toeganklikheid van natuurwetenskappe wêreldwyd uit te brei.

Teen slegs R25 per Foldscope, kan 'n mikroskoop in jou gatsak iets alledaags word!

Hierdie werkswinkel wat op Vrydag 17 Mei 2019 plaasgevind het, is georganiseer deur Prof Lydia-Marie Joubert, bestuurder van die Elektronmikroskopie-eenheid by die Universiteit Stellenbosch se Sentrale Analitiese Fasiliteite (SAF).

Prof Joubert sê sy ondersteun die idee van bekostigbare wetenskap en verwelkom die geleentheid om plaaslike leerders opgewonde te maak oor mikrobiologie deur middel van mikroskopie: “As die kinders eers die 'onsigbare' gesien het, verstaan hulle ook daaglike uitdagings soos besoedelde water of muwwe kos beter. Dan begin hulle ook om op die uitkyk te wees vir die mooi in die natuurlewe rondom hulle."

Die leerders kan nou deel word van die wêreldwye gemeenskap van ontdekkers wat hulle foto's op die Microcosmos webwerf pos. Hulle kan daar ook kommentaar lewer op, of vrae vra  vir medegebruikers van Foldscope, voeg sy by.

Tot op hede is daar wêreldwyd reeds byna 'n halfmiljoen Foldscopes versprei en die maatskappy beoog om teen die einde van 2019 die eenmiljoenkerf te bereik.

Die leerders het hul eie Foldscopes gevou en aan mekaar gesit onder die wakende oog van Grace Hu, 'n tweedejaarstudent van Stanford Universiteit wat tans met 'n uitruilprogram in Kaapstad is, en Geevarghese Panicker van die Universiteit van Kaapstad. Daar was binnekort vele uitroepe van verbasing toe hulle eerste na druppels water uit die plaaslike Kromrivier gekyk het. Hierdie tema maak deel uit van hulle skoolkurrikulum en word ondersteun deur die Kayamandi-Rivier-Vennootskap, 'n inisiatief van die Universiteit Stellenbosch Waterinstituut.

Maar kort voor lank het hulle ander interessante objekte begin soek om onder die nuwe mikroskope te bestudeer - blare, blomblaartjies en selfs 'n kriekie wat in die gras buite die gebou gevang is.

Elke skool het ook 'n Foldscope onderrigstelletjie spesiaal vir onderwysers ontvang. Dit sluit o.a. 'n LED-module in vir gebruik binnenshuis en in swak ligtoestande, asook herstelmateriaal en ekstra materiaal om monsters wat bekyk word, te monteer. 'n Foldscope kan ook met magneetstroke aan 'n selfoon gekoppel word om foto's te neem van dit waarna jy kyk, of om die beeld nader te trek om fyner detail te kan waarneem.

1_Kayamandi High Foldscope workshop_resized.jpg
 

Hierdie groep graad 10-leerders van Hoërskool Kayamandi kon nie wag om die onsigbare wêreld te verken met behulp van hul nuutgevoude papiermikroskope, bekend as Foldscopes, tydens 'n werkswinkel by die Universiteit Stellenbosch se Sentrale Analitiese Fasiliteite. Hulle is, van links na regs, Chibanda Panashe, Esona Sogayise, Bulela Sonka, Lihle Plaatjie, Vuyiswa Mntumni, Clarence Ruwizhi, Siyaphiwa Ntsinde, Inganathi Zinqana, Memory Gadza, Linda Ntoyaphi, Athenkosi Mdashe en Sandisiwe Fudukile.Voor sit Geevarghese Panicker (Universiteit van Kaapstad), Grace Hu (Stanford Universiteit) en Prof Lydia-Marie Joubert (Stellenbosch University). Foto: Wiida Fourie-Basson