Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
Onderwysstudente neem deel aan heel eerste interkontinentale dialoog
Outeur: Corporate Communication / Korporatiewe Kommunikasie [Alec Basson]
Gepubliseer: 26/03/2019

Vyftien studente wat tans besig is met hul Nagraadse Onderwyssertifikaat (NOS) by die Fakulteit Opvoedkunde aan die Universiteit Stellenbosch (US), het verlede maand aan die heel eerste interkontinentale dialoog met NOS-studente by die Universiteit van Bristol in die Verenigde Koninkryk en die Chinese Universiteit van Hongkong deelgeneem. Dié virtuele dialoogsessie het by die US se Fakulteit Opvoedkunde plaasgevind. eweknieë

Volgens prof Nuraan Davids, voorsitter van die Departement Opvoedingsbeleidstudie aan die US, het die navorsingsprojek ten doel om uit te vind of studente se bewustheid en begrip van die beginsels van dialoog bevorder kan word deur interkulturele ontmoetings met hul tydsgenote by ander universiteite via 'n digitale platform wat deur die 'Generation Global'-inisiatief verskaf word. Dit put uit die kundigheid van Generation Global, 'n nie-winsgewende opvoedkundige organisasie wat daarin spesialiseer om studente byeen te bring via digitale platforms – in hierdie geval drie universiteite uit drie verskillende wêreldstreke. Studente word genooi om aan 'n reeks virtuele besprekings van sowat 90 minute elk deel te neem. Ná elke dialoogsessie word studente gevra om op hul ondervinding te reageer deur middel van 'n 'collage-produksie', of te wel 'n aanlyn-fotoalbum.

Davids sê die projek bou voort op 'n bestaande vennootskap tussen universiteitsgebaseerde onderwyser-opvoeders en filosowe uit drie kontrasterende kontekste – Hongkong, Suid-Afrika en Suidwes Engeland – en is uitgebrei om kollegas van interkulturele en beleidstudies, studente en ander onderwys-opvoeders in te sluit.

“Ons vind hierdie spesifieke koöperatiewe benadering is veral nuttig omdat dit beide samelopende en uiteenlopende denk- en lewenswyses bymekaar bring."

Sy voeg by dat die projek van onskatbare waarde is omdat konvensionele vooraf-onderwysopleidingsprogramme beperkte of geen aandag aan die professionele oordeel van onderwysers skenk nie. Derhalwe is onderwysers dikwels swak voorbereid om die kompleksiteit van onderrig en leer te hanteer.

“Die projek ondersoek die rol wat 'n filosofiese dimensie, in breë trekke, kan speel om nuwe en groentjie-onderwysers te help om hul professionele oordeel te ontwikkel voordat hulle in diens tree. Die samewerking poog daarin om die plek van die burgerlike universiteit te hervestig en om nuwe soorte opvoedkundige verhoudings met vorme wat ingebed is in uiteenlopende kulturele en filosofiese gevoelighede, te ontwikkel."

Davids sê dat deelname aan 'n projek wat bewustheid oor die beginsels van interkulturele dialoog op hierdie manier in 'n toenemende geglobaliseerde wêreld aanlyn bevorder, sal studente waarskynlik help om nuttige vaardighede vir die toekoms aan te kweek.

“Deelnemers wat dit oorweeg om 'n beroep in die onderwys te volg, mag dalk eendag 'Generation Global' met hul eie leerders gebruik en mag dan vind dat hierdie projek vir hulle 'n nuttige inleiding was."

Sy voeg by dat die projek tot 'n dieper waardering van beide die kompleksiteit en toekomstige moontlikhede vir die aanmoediging van etiese oorleg deur reflektiewe interkulturele internasionale dialoog kan lei. 

  • Hooffoto: Kelly Seach, Dillion Seals, Ashely Nieman en Adriaan Oosthuizen was onder die US se NOS-studente wat aan die interkontinentale dialoog deelgeneem het.
  • Foto 1: Studente van die Chinese Universiteit van Hongkong.