Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
Voedselwetenskaplikes, wynmense baat by skenking deur PA en Alize Malan Gedenktrust
Outeur: Engela Duvenage
Gepubliseer: 26/03/2019

Die werksaamhede van twee departemente van die Fakulteit AgriWetenskappe word vanjaar ondersteun danksy skenkings wat van die PA en Alize Malan Gedenktrust ontvang is. Dit maak dit vir die Departement Voedselwetenskappe moontlik om die gebruik van ultraviolet-lig te ondersoek om rioolafloop uit riviere te ontsuiwer. Daarby ondersteun die Trust vanjaar ook die werksaamhede en navorsing van een meestersgraadstudent en een vakkundige in die Departement Wingerd- en Wynkunde.

Volgens een van die trusteelede, mnr Andre de Wit, het die PA en Alize Malan Gedenktrust ten doel om inisiatiewe by skole en tersiêre instellings in Suid-Afrika te ondersteun wie se werksaamhede verband hou met kultuur, voedsel, wyn en die regte.

Die Gedenktrust is sowat 15 jaar gelede gestig uit die boedel van Pieter en Alize Malan van Worcester. Mnr Malan was 'n prokureur op dié Bolandse dorp met wye sakebelange. Hy was 'n stigterslid van Santam en Sanlam in die 1910's, en het jare lank in die direksies van hierdie maatskappye gedien. Mnr Malan was ook lank voorsitter van Nasionale Pers, die voorganger van Naspers.

Nadat sy eerste vrou hom ontval het, was mnr Malan 12 jaar lank getroud met 'n spraakterapeut, Alize Wilmot, voordat hy op 80-jarige leeftyd oorlede is. Mev Malan was self ook 'n formidabele sakevrou, en het onder meer in eiendomme, aandele en kuns belê. Sy was vir baie jare lid van 'n internasionale vereniging van voedsel en wyn, was welberese en het vriende regoor die wêreld in die kunste en teaterwêreld gehad. Sy is uiteindelik in die ouderdom van 90 jaar oorlede.

Dit was haar idee om 'n trust ter ondersteuning van veral tersiêre onderrig te stig. Sedertdien is verskeie skole en instellings, waaronder ook die Universiteit Stellenbosch, daardeur ondersteun.

“Ons is dankbaar vir elke donasie, hoe klein of hoe groot ook al, wat ons fakulteit en sy mense help om hul werksaamhede voort te sit, ter ondersteuning van die Suid-Afrikaanse landbou- en voedselbedryf in die breë," sê prof Danie Brink, dekaan van die Fakulteit AgriWetenskappe.

Die AP en Alize Malan Gedenktrust se ondersteuning ondersteun die Departement Voedselwetenskap se studies oor hoe ultraviolet (UV) lig ten beste gebruik kan word om rivierwater wat met rioolwater besmet is te suiwer.

Volgens prof Gunnar Sigge, voorsitter van die Departement Voedselwetenskap, wek die probleem van riool wat in riviere beland kommer. Dit raak veral 'n probleem wanneer daardie einste rivier vir die besproeiing van gewasse gebruik moet word. Alternatiewe op die gebruik van chemikalieë om besoedelde water skoon te maak word toenemend gesoek, en die gebruik van UV-lig lyk belowend as 'n vinnige en relatief maklike oplossing.

“Met die toerusting wat ons kon aankoop wil ons onder meer bepaal watter dosisse UV-lig nodig is om sekere siekteveroorsakende bakterie en ander patogene ten beste uit water te suiwer," vertel prof Sigge.

Danksy die Trust se ondersteuning kon die Departement Wingerd- en Wynkunde vanjaar ook een personeellid se werksaamhede befonds, terwyl die studies van 'n meestersgraadstudent in die departement, Isabelle dos Santos, ook ondersteun word.

 

Foto onderskrif:
So 'n toestel met ultraviolet-lig word gebruik om te toets hoe siekteveroorsakende bakterie uit rivierwater gesuiwer kan word.​