Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
US 'n miernes van internasionale bedrywighede
Outeur: SU International
Gepubliseer: 22/02/2019

Die Universiteit Stellenbosch (US) was die afgelope maand 'n miernes van internasionale bedrywighede met gaste van verskeie wêrelddele wat die hoofkampus besoek het. Dit het hoëvlakafvaardigings van Frankryk, die Tsjeggiese Republiek, Oostenryk, Ghana, Mosambiek en die Verenigde State ingesluit, wat almal graag bande wil smee of bestaande netwerke en vennootskappe met die US wil versterk.

Die US en die Franse ambassade in Suid-Afrika het op Donderdag 21 Februarie 2019 'n gesamentlike Franse Dag aangebied. Deel van die dag se bedrywighede was die bekendstelling van 'n nuwe, bilaterale samewerkingsooreenkoms oor wyntegnologie, wat in sowel Frankryk as Suid-Afrika 'n belangrike sektor is. 'n Afvaardiging van Frankryk met verteenwoordigers van die Instituut vir Wingerd- en Wynkunde, Inno'vin (die Franse wyninnovasiekluster) en die streeksraad van Nieu-Akwitanië het die kampus besoek en met Suid-Afrikaanse en Franse navorsers ontmoet. 

Mnr Laurent Amar, konsul-generaal van Frankryk in Kaapstad, het ook aan die Franse Dag-aktiwiteite deelgeneem en met studente, personeellede en lede van die US se senior bestuur ontmoet. Hy het saam met prof Hester Klopper, Viserektor: Strategie en Internasionalisering, 'n studentemobiliteitsgeleentheid bygewoon waar studiegeleenthede in Frankryk bespreek is.

Prof Klopper het mnr Amar op kampus verwelkom en studente vertel van die Universiteit se vennootskap met die Franse ambassade, wat “deure vir US-studente open" deur internasionale studentemobiliteit teweeg te bring. Sy het die Franse Dag by die US voorgehou as “'n baie goeie voorbeeld van internasionale samewerking in die hoër onderwys, wat beoog om Frans-Suid-Afrikaanse wetenskaplike en universiteitsvennootskappe tot stand te bring". Dié samewerkingsooreenkoms is een van vele wat die Universiteit oor die jare aangegaan het in sy pogings om internasionalisering uit te brei: Die US het tans institusionele ooreenkomste met 109 universiteite in 42 lande op vyf vastelande. 

In pas met sy kern strategiese tema van doelgerigte vennootskappe en inklusiewe netwerke het die Universiteit ook vandeesmaand as gasheer opgetree vir afvaardigings van die Universiteit van Pardubice in die Tsjeggiese Republiek, die Universiteit vir Natuurlike Hulpbronne en Lewenswetenskappe in Oostenryk, Michigan-staatsuniversiteit in die Verenigde State, die Universiteit van Ghana, en die Eduardo Mondlane-universiteit in Mosambiek.

Ook aan die internasionale front het die Confucius-instituut by die Universiteit Stellenbosch (CISU) 'n Chinese lanternfees op 19 Februarie aangebied om die Chinese Nuwejaar te vier. Verteenwoordigers van die Chinese konsulaat in Kaapstad en inwoners van Stellenbosch en omgewing het die geleentheid bygewoon. Hulle is getrakteer op vertonings deur die plaaslike Chinese gemeenskap en organisasies, plaaslike skole sowel as personeellede van die CISU, wat deel uitmaak van US Internasionaal. 

US senior bestuurslede verwelkom 'n afvaardiging van die die Universiteit vir Natuurlike Hulpbronne en Lewenswetenskappe in Oostenryk op kampus

Foto: Anton Jordaan