Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
Nuwe siftingsinstrument vir ADHD
Outeur: Liesel Koch
Gepubliseer: 21/02/2019

Lede van die Biomediese Ingenieurswese Navorsingsgroep aan die Universiteit Stellenbosch het 'n nuwe siftingsinstrument vir ADHD onder kinders ontwikkel. Die projekspan bestaan uit prof Pieter Fourie, 'n pediater en ingenieur, en twee van sy meestersgraadstudente, Romano Swarts en Hervé Mwamba.

Aandag-Afleibare/Hiperaktiewe Versteuring (ADHD) is een van die mees algemene neuro-ontwikkelingsversteurings, wat kenmerkend is van 'n aanhoudende patroon van onoplettende, hiperaktiewe of impulsiewe gedrag. Wêreldwyd ly sowat 7,1% van kinders onder 18 daaraan. Dit is een van die toestande wat die deeglikste nagevors is.

Prof Fourie sê: "As 'n pediater het ek altyd 'n groot behoefte gehad aan 'n vinnige, bekostigbare metode om ADHD te diagnoseer. Dit word tans gedoen deur duur kliniese evaluering deur sielkundiges. Tydens die diagnostiese proses gebruik sielkundiges ook vraelyste wat ingevul is deur ouers en onderwysers, maar ongelukkig is die invul van hierdie vraelyste baie subjektief."

ADHD word in drie subtipes verdeel, naamlik Onoplettend, Hiperaktief/Impulsief, en 'n kombinasie van die twee. Vir sy tesis vir sy meestersgraad het Romano Swarts 'n draagbare siftingsinstrument ondersoek en ontwikkel wat masjienleer insluit om deelnemers tussen die ouderdomme van ses en twaalf jaar te sif vir ADHD-Onoplettende subtipe. Sy medestudent Hervé Mwamba het die subtipe Hiperaktiewe/Impulsiewe subtipe in sy studie aangepak.

Die navorsingsprojek is die Die PANDA Projek gedoop, aangesien die hoofkarakter in die rekenaarspeletjie 'n pandabeer is wat deur 'n ondergrondse myn navigeer moet word, terwyl talle uitdagings dit konfronteer. (PANDA: Paediatric Attention-Deficit/Hyperactivity Disorder Application.)

Hervé sê: Toe ek 'n onderwerp vir my navorsing soek, het PANDA my dadelik aangegryp. Ek was begeester deur prof Fourie se entoesiasme en visie vir die onderwerp." 

Romano verduidelik waarom hy hierdie onderwerp gekies het: "Die beroep wat ek gekies het, was nie op geld gebaseer nie, maar die beloning vir die werk wat ek doen. Ek wil mense se lewe verbeter.

"My ADHD-siftingsinstrument is 'n toetskoppelvlak in die vorm van 'n tabletgebaseerde speletjie wat gebruik maak van masjienleer om pasiënte te klassifiseer. Die klassifiseerder wat ek ontwikkel het, tesame met algoritmes wat in my toetsmetode gebruik word, kan met 'n akkuraatheid van 97,4% tussen ADHD- en nie-ADHD-pasiënte onderskei. Die toestel wat gebruik word vir toetsing was 'n kommersieel beskikbare tablet met WiFi. Geen bykomende hardeware is nodig nie."

Romano brei uit: "Dit is algemeen bekend dat privaat mediese dienste duur is. Gegewe die huidige diagnostiese proses van ADHD hierbo genoem, volg dit dat vroeë, akkurate sifting vir ADHD kan help om onnodige koste te voorkom. Dit sal ook help om te verseker dat kinders wat deur die instrument geïdentifiseer word, vir diagnose verwys kan word en so vroeg moontlik behandel kan word. Die ADHD siftingsinstrument kan gebruik word om die doeltreffendheid van bestaande of nuwe stimulante of nie-stimulante-tipe medikasie of behandeling te bepaal, om die graad van ADHD te monitor, sowel as om versorgers en ouers te help om doseringseffekte te monitor en streng beheer oor ADHD-medikasie te verseker. Hierdie voordele verminder op sy beurt die behoefte vir die pasiënt om gereeld 'n geestesgesondheidswerker te besoek.

"Verder kan hierdie draagbare diagnostiese instrument in landelike en afgeleë gebiede binne Suid-Afrika sowel as in die buiteland gebruik word. Die instrument sal as 'n metode dien om die korrekte diagnose te help deur kwantitatiewe uitset te verskaf. In die skoolopset sal die instrument die onus wegneem van die onderwysers om ouers te oortuig om professionele diagnose te soek. Die instrument kan ook gebruik word om bevolkingstudies uit te voer om die voorkoms van ADHD vir kliniese of statistiese navorsingsdoeleindes vas te stel."

Hervé voeg by: "Die navorsing was baie bevredigend, aangesien ek iets nuuts op hierdie gebied kon bydra. Ek hoop dat die groot werk nie momentum sal verloor nie en dat 'n sterk instrument in die nabye toekoms vir die hele Suid-Afrika toeganklik sal wees en dat vroeë sifting lewensgehalte en opvoeding sal verbeter. "

Prof Fourie sê: "Ongelukkig verloor ons baie van ons belowende Biomediese Ingenieurswese gegradueerdes wat loopbaangeleenthede oorsee soek. Ek het 'n groot passie om geleenthede te skep vir hulle om in Suid-Afrika te bly en 'n voorspoedige loopbaan te hê. Om hierdie rede het ek betrokke geraak in die stigting van innovation4life, 'n maatskappy wat 'n loopbaan vir biomediese ingenieurs in Suid-Afrika sal kan bied. Ek is seker dat Die PANDA Projek grootliks sal bydra tot die mediese beroep en 'n hele klomp geleenthede vir ons sal oopmaak, aangesien hierdie instrument reeds gepatenteer is."

Die span is nou op soek na beleggers om die volgende fase te finansier terwyl hulle intussen voortgaan met die vereiste beplanning.

Die meeste van die Fakulteit Ingenieurswese se navorsingsprojekte word gedryf en is van toepassing op werklike ingenieursprobleme in die gemeenskap. Die Fakulteit is suksesvol in die oplossing van baie van hierdie probleme in samewerking met die industrie en geniet groot ondersteuning van die industrie. Shoprite het diePANDA Projek met R500 000 ondersteun.

​Foto:

Links: 'n Skermgreep van die rekenaarspeletjie waar die pandabeer deur 'n ondergrondse myn navigeer moet word, terwyl talle uitdagings dit konfronteer.

​Regs: Romano Swarts.