Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
SciMathUS bied ’n tweede kans om drome te bewaarheid
Outeur: Corporate Communication/Korporatiewe Kommunikasie [Rozanne Engel]
Gepubliseer: 05/02/2019

“Mislukking is wat jy dit interpreteer om te wees in jou lewe. Jy kan mislukking as 'n vastrapplek op jou pad na sukses beskou."

Dít was Nokwanda Siyengo, programbestuurder van SciMathUS (Science and Mathematics at Stellenbosch University), se boodskap aan vanjaar se gekose studente by die openingsgeleentheid van die SciMathUS-program vir 2019. Sy het gesê vanjaar se studente moet hulself gelukkig ag om deel te wees van die 100 studente wat uit meer as 'n duisend aansoeke gekies is.

Die SciMathUS-program vier vanjaar sy 20ste bestaansjaar en het al aan talle studente 'n tweede kans gegee om hul drome te bewaarheid. 

IMG_1339.JPG IMG_1342.JPG

Daar is elke jaar duisende leerders in Suid-Afrika wat graad 12 geslaag het, maar wat nie toelating tot hoër onderwys kry nie. Danksy die SciMathUS-program – wat deel uitmaak van verskeie eenhede binne die Universiteit Stellenbosch se Fakulteit Opvoedkunde – kry van dié leerders egter 'n tweede kans op hoër onderwys.

Leerders wat reeds graad 12 met 'n gemiddelde van ten minste 60% geslaag het, maar wat nie vir toelating tot hoër onderwys gekwalifiseer het nie, word nog 'n geleentheid gebied om hul Nasionale Senior Sertifikaat-uitslae in spesifieke vakke te verbeter ten einde weer vir universiteitsprogramme te kan aansoek doen.

“SciMathUS is 'n tweede kans omdat ons julle potensiaal raaksien. Ons kyk nie na julle as studente wat misluk het nie; ons kyk eerder na julle as studente wat vasbeslote is om hul doelwitte en drome te bereik. Wat julle in hierdie tweede kans gaan insit, sal bepaal wat julle aan die ander kant gaan uitkry," het Siyengo gesê.

Sy het ook die studente gemaan om nie jammer vir hulself te voel nie en om daarvan te vergeet dat hulle nie universiteitstoelating gekry het nie. “Een van die mooiste goed van jul deelname aan SciMathUS is dat dit julle nie uitsonder van al die ander duisende Universiteit Stellenbosch-studente nie en niemand sal sê: 'daai een is by SciMathUS' nie … niemand in hierdie vertrek het misluk nie; al wat gebeur het, is dat julle 'n bietjie leiding nodig het om gekeur te word vir die programme waarvoor julle uiteindelik sal aansoek doen."

Dr Trevor van Louw, Direkteur van die Universiteit Stellenbosch se Sentrum vir Pedagogie (SUNCEP), het ook die nuwe SciMathUS-studente aangemoedig om op hul toekom te fokus.

IMG_1348.JPG
 

“Die doelwit is nie net om vanjaar te slaag nie, maar ook om te gradueer en sukses in jou beroep te behaal. SciMathUS is 'n spesiale oorbruggingsprogram omdat dit eerstens op universiteitstoelating fokus. Ons wil hê julle moet volgende jaar eerstejaars wees en sukses in die lewe behaal."

SciMathUS bied ook elke jaar aan oudstudente van die program die geleentheid om as mentors vir nuwe studente op te tree. Claudia Ntsapi, wat onlangs haar doktorsgraad in Fisiologie aan die US behaal het, het gesê dit is vir haar groot eer om vanjaar 'n mentor vir studente te wees en sy hoop dat sy net so goed sal wees soos die een wat sy gehad het.

“Toe ek die posisie as mentor by SciMathUS aangebied is, het ek onmiddellik ja gesê. Dit is vir my n eer en 'n voorreg om uiteindelik ook ander op hierdie manier te kan help. My raad aan die studente is om gefokus te bly. Hoewel dit nie altyd maklik is nie, kan dit gedoen word. Moenie links of regs kyk nie, kyk net voor jou en bly gefokus."

Vir meer inligting oor die SciMathUS-program, besoek die webwerf www.sun.ac.za/suncep of skakel 021 808 3483.

In die foto bo: Nokwanda Siyengo, ​programbestuurder van SciMathUS.