Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
Transformasiekomitee se rondleiding help deelnemers om die wêreld deur ander se oë te ervaar
Outeur: Lynne Rippenaar-Moses
Gepubliseer: 17/01/2019

'n Rondleiding deur die Fakulteit Lettere en Sosiale Wetenskappe se Transformasiekomitee is net een van die maniere waarop hierdie komitee beplan om transformasie in sy eie omgewing te bevorder deur te begryp hoe ander die wêreld ervaar.

Volgens die Voorsitter van die komitee, dr Ubanesia Adams-Jack, is die idee van ʼn rondleiding voorgestel deur ʼn kollega met ʼn gestremdheid wat graag wou illustreer hoe moeilik dit steeds is om toegang te verkry tot verskillende ruimtes op die kampus.

Na die voorstel het Adams-Jack die Fasiliteitsbestuur genader, wat ʼn aantal sleutel-personeellede afgevaardig het om die komitee te vergesel, insluitend die Dekaan van die fakulteit, prof Anthony Leysens, en die voorsitter van die Departement Antieke Studie, prof Annemaré Kotze.

“Ek was eintlik geskok om te ontdek dat die meeste van ons studente en kollegas met gestremdhede nie in staat was om die badkamer op die grondvloer van die BA gebou te bereik nie weens die wyse waarop die kaarttoegang en die ingang tot die badkamer opgestel was. Dit bemoeilik in werklikheid die gemaklike beweging van persone in rolstoele, byvoorbeeld," sê Adams-Jack.

Die komitee het ook geleer dat baie van die veiligheidsdeure in die fakulteit nie genoegsaam oopmaak om gemaklike toegang vir rolstoele te verseker nie, en dat vlak afvloei-slote wat verhoed dat reënwater opdam ook ʼn uitdaging is om oor te steek met ʼn rolstoel.

“Transformasie gaan oor mense, plekke en ruimtes en toeganklikheid van ruimtes, veral vir diegene met gestremdhede, en is deel van die transformasie van ons universiteitsruimtes." 

Die groep het ook ontdek dat die geteëlde oppervlakke op die tweede vloer van die fakulteitsgebou baie glad is en dit moeilik maak vir die beweging van diegene met fisiese gestremdhede. Danksy die Fasiliteitsbestuur is die oppervlakke besproei met ʼn kleefmiddel wat dit minder glad maak, om dit ook meer gebruiksvriendelik te maak vir diegene in rolstoele.

“Dit was duidelik dat baie fisiese gestremde individue lang afstande moet aflê om dieselfde plekke te bereik wat nie-gestremdes moet bereik," het sy bygevoeg.

Dit is omdat baie kortpaaie op die kampus ontoeganklik is vir fisies gestremdes.

“Dit was belangrik vir ons om deel te neem aan hierdie rondleiding omdat dit ons meer bewus gemaak het van hoe ander mense die wêreld ervaar en transformasie gaan juis daaroor om te verstaan hoe ander mense die wêreld ervaar.

“My visie vir die transformasiekomitee is om vriendskaplike verhoudings tussen studente, tussen personeel en studente, en tussen verskillende personeellede te bou. Uiteindelik, wanneer ons vrede het, verander dit ons interaksie en hantering van mekaar. Ek dink die kragtigste aspek van transformasie is om mekaar werklik raak te sien."

Foto: Die volgende persone het onlangs deelgeneem aan die rondleiding van die Transformasiekomitee van die Fakulteit Lettere en Sosiale Wetenskappe. Voor van links is mnre Dan Prata, Malan Oosthuizen en Trevor Hoeben, almal van Fasiliteitsbestuur, en mnr Bongani Mapumulo (in die rolstoel), ʼn student aan die Universiteit Stellenbosch en voorsitter van Dis-Maties. Agter van links is mnre Phumlani Mathebula en Louis Fincham, albei van Fasiliteitsbestuur; prof Annemaré Kotze, Voorsitter van die Departement Antieke Studie, me Lizelle Ferus van die Kantoor vir Studente met Gestremdhede, dr Ubanesia Adams-Jack, voorsitter van die fakulteit se Transformasiekomitee, en die Dekaan van die Fakulteit, prof Anthony Leysens.