Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
Gesogte L’Oréal-UNESCO genootskap aan twee TygerMaties toegeken
Outeur: FMHS Marketing & Communication / FGGW Bemarking & Kommunikasie
Gepubliseer: 08/01/2019

Twee PhD-kandidate by die Fakulteit Geneeskunde en Gesondheidswetenskappe (FGGW) was onder 14 buitengewone jong vrouewetenskaplikes in Afrika suid van die Sahara wat gesogte genootskappe van die L'Oréal-stigting ontvang het.

Die FGGW se mee Charlene Goosen en Shalena Naidoo het elk ʼn PhD-navorsingsgenootskap ontvang van die L'Oréal-UNESCO For Women in Science streeksprogram. Die pryse, elk ter waarde van 5000 euro (ongeveer R80 000), was toegeken tydens die Afrika suid van die Sahara-genootskapseremonie wat aan einde van verlede jaar in Nairobi, Kenia, gehou is.

Die 14 genote – 12 doktoraal en twee nadoktoraal – is uit vyf lande in Afrika suid van die Sahara gekies (Ghana, Mauritius, Kenia, Suid-Afrika en Nigerië). Hulle is gekies vir die wetenskaplike uitnemendheid van hul werk vanuit meer as 480 aansoekers.

“Die wêreld het wetenskap nodig, en die wetenskap het vroue nodig: dit is nêrens meer duidelik sigbaar as in Afrika nie. Lande hier staar gewigtige uitdagings in die gesig, ondermeer klimaatsverandering, toegang tot energie en voedselsekerheid. Wetenskap en tegnologie is deurslaggewend tot hierdie uitdagings, en dit is nie moontlik sonder vroue nie. Hulle talente en perspektiewe verryk relevante navorsing," het Alexandra Palt, die uitvoerende adjunkpresident van die L'Oréal-stigting in ʼn verklaring gesê.

Me Charlene Goosen

Goosen, ʼn PhD-student in Epidemiologie, sê sy voel geëerd dat haar werk erkenning van ʼn eksterne liggaam ontvang. Haar navorsing fokus op die “effek wat mondelikse yster-aanvullings het op die ingewande mikrobioom van kinders met MIV."

“Daar is al hoe meer bewyse van die potensiële negatiewe effek wat yster-fortifisering en -aanvullingstrategieë op die ingewande mikrobioom het. Daar is tans geen data oor die effek wat roetine yster-aanvulling, wat ʼn algemene behandeling vir ystertekort is, op die ingewande mikrobioom in kinders met viraal-onderdrukte MIV-infeksie het nie. Die ingewande mikrobioom van ouer kinders met perinatale MIV-infeksie en vroeë-aanvang ARB is ook nog nie gekenskets nie, asook nie dié van mense met oorvleuelende MIV-infeksie en ystertekort nie," sê Goosen, ʼn geregistreerde dieetkundige met ʼn agtergrond in voedingsleer en MIV-beleidsontwikkeling.

Haar PhD-studie poog om hierdie kennisgapings te vul en om by te dra tot die vinniggroeiende veld van die menslike mikrobioom en sy interaksie met gesondheid en siekte. “Die studie sal ook die voedingstatus (met betrekking tot ystervoeding) van deelnemers te beskryf."

Sy hoop dat haar studie beleidmakers sal inlig oor die veiligheid van mondelikse yster-aanvullingintervensies in MIV, asook yster-biobeskikbaarheid in die konteks van MIV met die gebruik van ʼn stabiele isotoop-metode.

Me Sharlena Naidoo

“Ek is geëerd, diep dankbaar en opgewonde daaroor om hierdie gesaghebbende toekenning te ontvang," sê die tweede FGGW-kandidaat, Naidoo, wat haar PhD in Immunologie/Virologie navolg. “Die navolging van PhD-studies en die strewe daartoe om ʼn betekenisvolle bydrae tot my navorsingsveld te maak, kom met baie uitdagings. ʼn Toekenning soos die L'Oréal-UNESCO For Women in Science gee erkenning en verklaar die geldigheid van die betekenisvolle impak wat my werk maak, en die rol wat ek dien as ʼn aspirerende vrou in die wetenskap," sê Naidoo.

Haar navorsing, “ʼn Longitudinale Perspektief op die Impak van die Immuunstatus op die MIV-1 Latente Reservoir en Neurokognitiewe Uitkomste in Virologiesonderdrukte Kinders", poog om vas te stel hoe die immuunsisteem van kinders wat MIV-positief gebore is ontwikkel oor tyd, in vergelyking met ander kinders, en of skade wat vroeër aan die immuunsisteem aangerig is, voortduur na jare se terapie.

Haar werk poog ook om die immuun-risikofaktore te delinieer en te verstaan in die ontwikkeling van neurokognitiewe verswakking en ander nie-infeksie siektes, wat moontlik kan lei tot nuwe behandelings om risiko's in die toekoms te verminder.

“Die bestudering van die sellulêre komponente van immunologie in kinders kan help deur kennis in te win oor die behandeling en kliniese bestuur van kwesbare kinders wat MIV-positief is," verduidelik sy. “As mens die hoë siektelas in Suid-Afrika in ag neem, dink ek sal dit baie waardevol wees om nuwe kennis aan klinici te bring." Om die wisselwerking tussen die immuunstelsel en die virus te verstaan in kinders met MIV sal kennis lewer wat kan bydra tot vaksien-ontwikkeling en moontlike genesingstrategieë.

Verlede jaar het Naidoo ook ʼn VIGS 2018 Konferensie Beurstoekenning en ʼn Polio-navorsingstigting Beurstoekenning ontvang. Sy het ook vantevore die Suid-Afrikaanse Immunologie-verenging (SAIS) Konferensie Beurstoekenning en die SAIS Immunologie Grondslagopleiding Beurstoekenning ontvang.

Onderskrif: Mee Charlene Goosen (tweede van links) en Shalena Naidoo (vyfde van links) saam met die ander Suid-Afrikaanse genote van die L'Oréal-UNESCO For Women in Science-toekennings.