Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
PhD-gegradueerde se baanbreker-navorsing sal tweedetaalonderrig en –leer in die toekoms vorm gee
Outeur: Lynne Rippenaar-Moses
Gepubliseer: 21/12/2018

Dr Valentin Uwizeyimana, die eerste student uit Rwanda in the Nagraadse Skool van die Fakulteit Lettere en Sosiale Wetenskappe aan die Universiteit Stellenbosch (US), het op 13 Desember sy doktorsgraad verwerf vir die baanbrekersavorsing wat hy op die gebruik van mobiele tegnologiëe in taalleer uitgevoer het, in dié geval spesifiek vreemdetaalleer.

Sy tesis met die titel, An Investigation into the Effect of Mobile-Assisted Language Learning on Rwandan University Students' Proficiency in English as a Foreign Language, is die eerste navorsing in sy soort wat in Afrika gedoen is en wat fokus op die gebruik van 'n reeks mobiele toepassings (apps) om die aanleer van 'n vreemde taal te fasiliteer.  Soortgelyke navorsing in die verlede deur studente het slegs gefokus op die gebruik van verskillende toepassings met die doel om een of ander komponent van die teikentaal, soos woordeskat, lees- of luistervaardighede in tweedetaalleer en –verwerwing, te onderrig en te leer.

In teenstelling het sy navorsing gebruik gemaak van 'n magdom toepassings, op enige tyd en plek, met die doel om die taalaanleerder se algehele bedrewenheid te bevorder – alles sonder die direkte betrokkenheid van taalonderwysers.  Hierdie navorsing sal 'n oplossing bied vir die uitdagings wat leerders in die gesig staar wanneer die teikentaal 'n vreemde taal, of 'n taal is wat nie werklik in hulle gemeenskappe gebesig word nie.

Uwizeyimana se PhD is op die US se gradeplegtigheid van 13 Desember 2018 in die Departement Algemene Taalwetenskap aan hom verleen, maar sy studies aan die US behels ook 'n Nagraadse Diploma in Tweedetaalstudies in dieselfde department in 2013, en 'n MA in Tegnologie vir Taalleer wat hy in 2015 in die Departement Moderne Vreemde Tale verwerf het.  Dit was vir hom moontlik om sy doktorale studie te voltooi danksy 'n drie-jaar studiebeuers van die Stellenbosse Instituut vir Gevorderde Studie (STIAS) deur die Nagraadse Skool van die Fakulteit Lettere en Sosiale Wetenskappe.

In gesprek oor sy navorsing sê hy: “Engels is die taal in die wêreld wat die meeste gebesig word, en dit verleen sosiale mobiliteit aan baie van diegene wat dié taal praat. As gevolg hiervan is Engels deur talle lande as hulle nasionale, of amptelike taal, aanvaar.  Dit word ook wyd en ver op verskeie opvoedkundige vlakke as die medium van onderrig gebruik, hoewel dit in sommige lande, waar dit gepraat word, 'n vreemde taal is en ook nie deur 'n groot deel van dié lande se bevolking verstaan word nie."

In Rwanda, word Kinyarwanda sowel as Engels, saam met Frans, as amptelike tale gereken, hoewel leerders en studente net in Engels onderrig word. Buite die klaskamer en lesingsale, word Kinyarwanda, die allenige nasionale taal, gebesig.

“Volgens beskikbare literatuur was eintlik net 3% van die land se bevolking in 2008 Engels magtig. Dié syfer het miskien sedertdien ietwat toegeneem, weens verskeie faktore soos die Oos-Afrikaanse integrasie en die taalbeleid wat Engels begunstig, en in Rwanda ingestel is."

Die rede vir die voorkeur van Engels aan opvoedkundige instansies kan teruggevoer word na Rwanda se geskiedenis. Rwanda was oorspronklik 'n eentalige land met die bevolking wat net Kinyarwanda gepraat het.  In die jare kort na die wending van die eeu is die land deur België gekoloniseer en Frans is in omloop gebring.  Na die volksmoord het talle Rwandese wat as vlugtelinge in lande soos Tanzanië, Kenia en Uganda gewoon het, na hulle vaderland teruggekeer.  Onderwyl hulle buite die landsgrense gewoon het, was Engels hulle gebruikstaal en taal van kommunikasie. Na hulle terugkeer het Engels 'n de facto derde amptelike taal van die land geword en in 2003 is dit as 'n amptelike derde taal in die Grondwet opgeneem.  Vyf jaar later het die regering beleid aanvaar wat bepaal dat Engels summier die enigste medium van onderrig op alle vlakke van onderwys in Rwanda moet word.

Uwizeyimana verduidelik: “Die toepassing van hierdie beleid het problematies geword aangesien die meeste onderwysers op alle vlakke van die onderwys hulle opleiding in Frans gehad het.  Diegene van hulle wat nog hoër gekwalifiseerd was, het meestal oorsee hulle opleiding in Franstalige lande geniet, en was derhalwe nie in staat om die taal waarin hulle nou moes onderrig gee, vlot te praat nie.

“Wat dié situasie vererger het, was die beperkte konvensionele onderrig-en-leer materiaal soos gedrukte boeke, handleidings en enkele rekenaars wat in skole en universiteite in Rwanda beskikbaar is.

“Dit beteken dat leerders nie blootgestel is aan genoegsame hoeveelheid Engelstalige inset nie, en daar was baie min tot geen geleenthede vir Engelstalige uitset, met ander woorde, daar was buite die klaskamer geen gebruik van die teikentaal nie."

Om in die Rwandese konteks bedrewenheid in Engels te bewerkstellig, voeg Uwizeyimana by, verg ietwat meer as die blote aanleer van 'n taal.

Hy stel dit so: “Ons is 'n klein landjie in die middel van 'n aantal reuse-lande wat meer as Rwanda ontwikkel is en vanwaar ons goedere invoer. Engels en Kiswahili is die oorheersende tale in dié lande, wat Tanzanië, Uganda en Kenia insluit, en dan is daar die Demokratiese Republiek van die Kongo, wat hoofsaaklik Frans is, en Burundi, waar Kirundi gebesig word, 'n taal wat met Kinyarwanda versoenbaar is. Dus, het ons Engels baie nodig, nie alleenlik wanneer ons in die buiteland is nie, maar ook om met ons bure vir handelsdoeleindes te kan kommunikeer."

Die enorme aanvraag na Engelstalige opvoedkundiges om Rwandese in staat te stel om 'n sekere mate van bedrewenheid in dié taal te bereik, verduidelik Uwizeyimana, is ook een van die redes waarom hy daarin kon slaag om 'n pos as dosent in Engels aan die Universiteit van Kibungo (UNIK) te bekom feitlik onmiddellik nadat hy aan die Universiteit van Rwanda sy BA in Engels en Kinyarwanda (met Opvoedkunde) met onderskeiding geslaag het.  Dit was hierdie behoefte wat hom aangespoor het om sy kennis van Engelse taalonderwys uit te brei en hy het aansoeke om toelating tot universiteite in Nederland en Suid-Afrika gerig.  Hy is by al die universiteite waar hy aansoek om toelating gedoen het aanvaar, maar die Rwandese regering was net bereid om sy verdure studies te befonds indien hy aan 'n universiteit in Afrika sou studeer. In Januarie 2013 het hy na Suid-Afrika gekom om deur middel van 'n studiebeurs van die Rwandese regering verder aan die Universiteit Stellenbosch te studeer.

Met sy aankoms by die US, het hy reeds geweet dat hy sy kennis wou verbreed deur die gebruik van tegnologie in onderrig en leer van die Engelse taal, ten einde 'n bydrae te lewer tot die onderrig en leer van Engels in die besonder, asook ander tale, in sy vaderland. Hy het ook geweet dat aanlyn-leer deur middel van 'n rekenaar nie in Rwanda sou moontlik wees nie, aangesien rekenaars duur en krag skaars is in dié land. In teenstelling is dit so dat die meerderheid van die Rwandese bevolking mobiele fone besit omdat dié goedkoper is.  Ook gebruik inwoners van plattelandse gebiede sonkrag om hulle fone te laai wanneer daar nie krag is nie, wyl universiteitstudente toegang tot gratis draadlose internet (wi-fi) op hulle kampusse het en die inwoners van Kigali, die hoofstad van Rwanda, het toegang tot gratis wi-fi op busse en in openbare plekke.

“Dit is die rede waarom in my studie gekyk is na hoe mobiele fone en die toepassings (apps) op dié toestelle aangewend kan word om 'n hoër vlak van Engelstalige bedrewenheid te bewerkstellig, gegewe die toenemende hoeveelheid navorsing wat wys op die potensiaal van mobiele tegnologieë ten opsigte van taalleer."

Sestig Kinyarwanda-sprekende studente van die Universiteit van Rwanda het aan die studie deelgeneem. Hulle is in vier groepe verdeel met Groep 1 wat opleiding ontvang het in die gebruik van mobiele tegnologieë ten opsigte van taalleer (of kortweg MTLL); Groep 2 wat MTLL gebruik het sonder om enige opleiding te ontvang het; Groep 3 wat net van addisionele konvensionele materiaal soos handboeke gebruik gemaak het, en Groep 4 wat nie MTLL gebruik of enige addisionele materiaal ontvang het nie, maar net op klaskamerinstruksies gesteun het.

“Ons het vervolgens toe data bymekaar gemaak deur middel van waarneming, 'n opname, 'n Engelstalige bedrewenheidstoets, 'n besprekingsgroep met die deelnemers en 'n semi-gestruktueerde onderhoud met 'n lektor aan die Universiteit van Rwanda. 'n Versigtige analise van die data het getoon dat MTLL 'n beduidende invloed op die leerders se bedrewenheid in Engels as 'n vreemde taal (EFL) het, en dat die leerders positiewe ingesteldhede het teenoor MTLL en hulle inskakeling by die taalpedagogiek." Hy voeg by dat die deelnemers gemonitor is om te verseker dat wat hulle geleer het, hulle toegepas het.

Uwizeyimana se navorsing is van enorme belang, nie net omdat dit die gebruik van toestelle en toepassings bevorder wat reeds in Afrika gewild is sover dit Engelse taalleer betref, maar ook omrede die leermodel wat hy ontwikkel het vir verskillende tale en lande regoor die wêreld toegepas kan word. Vir Uwizeyimana is die feit dat hy bloot die navorsing voltooi het 'n grootse prestasie.  Sy navorsing het byna gesneuwel weens die finansiële uitdagings wat hy te bowe moes kom onderwyl hy in Suid-Afrika gestudeer het.

“Was dit nie vir my meestersgraad-studieleier, me Lesley Bergman van die Departement Moderne Vreemde Tale, prof Frenette Southwood, voorsitter van die Departement Algemene Taalwetenskap, en my studieleier vir my PhD, dr Simone Conradie nie, sou ek nooit hier aan die Universiteit Stellenbosch die paal met al my studies gehaal het nie.  Hulle het begrip gehad vir al die uitdagings wat ek te bowe moes kom. Hulle het vir my befondsing vir my PhD gereël, aan my van geld voorsien vir my verblyf- en lewenskoste in 'n stadium toe ek platsak was, en vir my 'n woord gedoen by die Rwandese Onderwysraad (REB) en die Rwandese Ambassade in Suid-Afrika toe ek in my tweedejaar van my meesters, spesifiek in 2015, finansiële probleme ondervind het. Maar, dit was meer as blote finansiële onderskraging, hulle het my mense geword, my vriende, my ouers uit 'n ander land. Hulle het my familie geword. Hulle is baie sosiaal, beskeie en toon begrip; wanneer ek na hulle toe hardloop, spreek ek hulle nie op hulle titels en vanne aan nie," sê hy.

Te danke aan hulle ondersteuning was hy ook in staat om 'n semester aan die Technische Universität Chemnitz, een van die oudste en beste universiteite vir tegnologie in Duitsland, te studeer.

Sy navorsing is reeds by verskeie akademiese byeenkomste in Afrika en Europa aangebied, dit is SCOPUS geïndekseer, en is gepubliseer in die hoogaangeslane internasionale vaktydskrif Language Policy deur Springer, en in die Registrar Journal, een van die voorste vaktydskrifte wat in Indonesië uitgegee word.

Sy onmiddellike voorneme is om na Rwanda terug te keer waar hy beplan om sy landgenote te help, beginnende by universiteistudente, om 'n hoër vlak van bedrewenheid te bekom in Engels, Frans en Kiswahili, wat as tweede of vreemde tale in Rwanda gebesig word.  Voorts wil hy ook hulp aan Rwanda verleen wat betref die doeltreffende implementering van sommige van die land se huidige en toekomstige projekte wat die gebruik van tegnologie in die onderwys insluit.

“Ek sou graag ook my navorsing in ander lande en kontekste wou herhaal ten einde 'n meer tasbare bydrae tot die studiebeurs te lewer, hoofsaaklik op die terreine van tweedetaalstudies en tegnologie vir taalleer."

Southwood meen Uwizeyimana het in die jare wat hy aan die Universiteit Stellenbosch deurgebring het merkwaardige vasberadenheid aan die dag gelê.

“Sy verbintenis tot die bereiking van sy akademiese doelwitte en sy volharding om sinvolle navorsing te doen wat diegene in sy land sal baat, is loofwaardig," sê Southwood.

Waar dit vir hom 'n vervullende reis was, kan die feit dat sy pad met vele hindernisse en opofferings besaai was, nie weggeredeneer word nie.  Hy was derhalwe om verstaanbare redes baie opgewonde om verlede Donderdag oor die podium te stap en sy doktorsgraad amptelik in ontvangs te neem.

“Dit is die ontberinge wat my oplaas gemotiveer het, want ek sou hier sit en aan my navorsing werk en dan besef dat daar buite vir my niks is nie, indien ek nie my PhD in die kortste moontlike tyd voltooi nie. Te midde daardie moeilike oomblikke, offer jy alles op. Jy ignoreer en vergeet alles, insluitend jou familie, vriende en in sommige stadia jou eie lewe, om die werk wat voor jou lê, klaar te maak, word jou hooffokus. Met tye raak dit net te veel, jy dink daaraan, jy word hartseer en ontmoedig, en ek persoonlik sweet geweldig in daardie oomblikke, maar jy gee nie bes nie, want jy het nog bietjie hoop dat die beste nog voor jou lê."

Foto: Dr Valentin Uwizeyimana (naasregs) van Rwanda saam met die akademici wat hom akademies, finansieel en emosioneel onderskraag het in die jare wat hy in Suid-Afrika gestudeer en sy grondverskuiwende navorsing oor die gebruik van mobiele tegnologieë in taalleer vir vreemde taalleer voltooi het. Van links na regs is me Lesley Bergman van die Departement Moderne Vreemde Tale, Uwizeyimana se studieleier vir sy PhD, dr Simone Conradie van die Departement Algemene Taalwetenskap, en prof Frenette Southwood, voorsitter van die Departement Algemene Taalwetenskap.​