Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
Van ’n sakpakker tot ’n dokter
Outeur: Asiphe Nombewu/ Corporate Communication
Gepubliseer: 11/12/2018

Onder die honderde studente wat by die Universiteit Stellenbosch (US) se jaarindgradeplegtighede vanaf 10 Desember sal gradueer, is die 27-jarige Xolani Hadebe.

Nadat hy aan sy plattelandse skool op Piet Retief gematrikuleer het, wou Xolani dolgraag 'n dokter word. Min het hy geweet presies hoe moeilik dit sou wees om daardie droom te verwesenlik. Hy het baie vinnig daaraan gewoond geraak om afkeuringsbriewe van die mediese fakulteite in die land te ontvang, maar nooit sy droom laat vaar nie.

“Nadat ek soveel keer keuring geweier is, het ek geweet my ma, wat haar lewe lank al 'n huiswerker is, sou nooit vir my universiteitstudie kon betaal nie. Daarom het ek toe as 'n sakpakker by ons plaaslike Spar-supermark begin werk," sê hy.

Om daar te werk was vir Xolani een van die moeilikste goed wat hy nog ooit moes doen: Hy moes immers sy voormalige klasmaats se kruideniersware verpak. Nou en dan het hy agter gaan wegkruip sodat hulle hom nie moes sien of jammer kry omdat hy by 'n kruidenierswinkel moes werk terwyl hulle verder studeer het nie.

Xolani het 'n gedeelte van sy salaris vir sy universiteitsaansoek opsygesit. Sy harde werk het hom wél 'n bevordering tot kassier besorg. Dít het dinge finansieel effens makliker gemaak en hy kon nou werk toe ry.

“Ek moes myself verneder, en konsentreer op wat vir my regtig belangrik was. En in daardie stadium was dít om te sorg dat ek vir mediese studie aanvaar word. Dit was 'n moeilike tyd vir my, want ek was bly vir my vriende se onthalwe, maar terselfdertyd het omstandighede my gedwing om 'n oorbruggingsjaar te doen, en ek kon nie verstaan hoekom nie."

Omdat hy sy hele skoolloopbaan een van die toppresteerders was, was die gesukkel om vir studie aanvaar te word vir hom 'n onaangename verrassing, veral omdat niemand hom 'n konkrete rede kon gee waarom hy toelating geweier is nie.

Daardie selfde jaar het Xolani die pad Pretoria toe omdat hy nie antwoorde van die destydse Medunsa oor sy aansoeke gekry het nie. Hy vertel: “Ek sal nooit die dag vergeet toe ek Pretoria toe is vir antwoorde oor my onsuksesvolle aansoek nie. Ek het daar laatmiddag aangekom  weens vervoerprobleme."

Hy moes uiteindelik die kampusveiligheidswagte nader, wat hom slaapplek gegee het vir die nag. Hulle het tot laatnag kaart gespeel, waarna Xolani op een van die stoele aan die slaap geraak het. Die ervaring het hom baie geleer oor respek vir ander en om jou naaste te help, selfs al hou dit geen voordeel vir jou in nie.

Xolani het in daardie stadium nie eens van die US se bestaan geweet nie. “Ek was so opgewonde toe my vriend my vra of ek by die US probeer aansoek doen het, en ek was geheel en al oorstelp toe ek sommer uit die staanspoor aanvaar is."

Hy erken die aanpassing by die US was nie maklik nie. Taal, kultuurskok en sy agtergrond by 'n benadeelde skool het dit vir hom besonder uitdagend gemaak, want hy moes ekstra hard werk om alles te verstaan. Boonop was sy vaardighede in Engels baie beperk.

Xolani is die vierde van ses kinders, en die heel eerste in sy familie wat gradueer. Hy sal sy gemeenskapsdiensjaar nader aan die huis by 'n hospitaal in KwaZulu-Natal voltooi.

​