Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
ʼn Eerste vir Suid-Afrika – Nuwe ortopediese prosedure bevoordeel diegene met amputasies
Outeur: FMHS Marketing & Communication / FGGW Bemarking & Kommunikasie
Gepubliseer: 06/12/2018

ʼn Opwindende nuwe prosedure wat die lewens van mense met onderste ledemaat-amputasies drasties kan verbeter, is onlangs vir die eerste keer in Suid-Afrika uitgevoer.

ʼn Professor aan die Universiteit Stellenbosch (US), in samewerking met die Instituut vir Ortopedie en Rumatologie (IOR) by Mediclinic Winelands, die prostetikus Eugene Rossouw, en mede-professor Munjed al Muderis van die Osseo-integrasiegroep van Australië, het op 5 November 2018 Suid-Afrika se eerste osseo-integrasie prostese-implantasie uitgevoer.

Die prosedure is oorspronklik in Australië deur Al Muderis ontwikkel, en behels die chirurgiese inplanting van die Osseo-integrasiegroep van Australië se Osseo-integrasie Prostetiese Ledemaat (OGAP-OPL).

“Die OGAP-OPL is ʼn rewolusionêre nuwe soort prostese wat wegdoen met die tradisionele prostetiese vassuigsok deur die prostetiese ledemaat direk aan die persoon se skelet te heg. Dit bied unieke voordele wat die lewensgehalte van mense met amputasies drasties kan verbeter," sê prof Nando Ferreira van die US se Afdeling Ortopedie by die Fakulteit Geneeskunde en Gesondheidswetenskappe (FGGW), die chirurg wat die prosedure gelei het.

Mense met amputasies ervaar gereeld probleme met die tradisionele sok-prostese, insluitende velirritasie, slegte passing weens sweet en veranderinge in die volume van die stompie deur die loop van die dag, ongemak wanneer hulle sit, en die tyd wat dit neem om die prostese aan te sit en af te haal.

Probleme wat verband hou met sok-prostese is iets van die verlede met ʼn osseo-integrasie prostese aangesien dié prostetiese ledemaat direk aan die skelet geheg word. Ontvangers het ook beter propriosepsie (persepsie van die liggaam se posisie en beweging) en kan die loopoppervlak voel, wat hulle toelaat om met meer selfvertroue te loop.​

Die osseo-integrasie prostese herstel ook die normale anatomiese lynrigting van die dybeen (femoraal) (sien beeld-inlas), wat algemene loop-afwykings verminder in mense met amputasies bo die knieg.

Die prosedure is egter nie sonder komplikasies nie. Infeksie rondom die implantasie en frakture in die oorblywende been is die mees beduidende komplikasies wat na osseo-integrasie kan voorkom. “Kandidate word versigtig gekeur vir geskiktheid en tans word slegs individue vir die operasie oorweeg wat ernstige sok-probleme ervaar wat merkwaardige inbreuk maak op hulle werk en daaglikse lewe," sê Ferreira.

Die ontvanger van Suid-Afrika se eerste osseo-integrasie prostese implantasie is ʼn 28-jarige vrou wat in 2009 ʼn traumatiese bo-die-knieg amputasie ontvang het. Sedertdien sukkel sy met haar sok-prostese, wat inbreuk maak op haar werk en alledaagse aktiwiteite. (Die pasiënt verkies om anoniem te bly.)

“Die OGAP-OPL se unieke ontwerp, materiaal en vervaardigingsproses laat toe dat daar been binne in die oppervlak van die implantasie groei en so 'integreer' die prostese met die skelet. ʼn Spesiaal-ontwerpte stut wat dan deur ʼn opening in die stompie steek wat chirurgies gemaak is, vorm ʼn koppelingspunt vir die eksterne komponente van die prostetiese ledemaat," verduidelik Ferreira.

Al Muderis is die Australiese chirurg wat die baanbrekerswerk oor osseo-integrasie gedoen het en oor die afgelope dekade die OGAP-OPL prostese ontwikkel het, asook die chirurgiese tegniek en die rehabilitasie-protokol. Tot op hede is die prosedure ongeveer 750 keer uitgevoer, meestal in Australië.

“Professor Al Muderis se entoesiasme om die lewens van mense met amputasies te verander is sigbaar in sy onvermoeide werk en gewilligheid om ander chirurge op te lei in sy tegniek," sê Ferreira, wat na Sydney, Australië gereis het saam met die egpaar, Eugene (prostetikus) en Fransies (fisioterapeut) Rossouw, om opleiding te ontvang van Al Muderis in die chirurgiese prosedure, prostetiese passing en rehabilitasie. Hierdie span is tans die enigste groep wat gesertifiseer is om die OGAP-OPL prostese in Suid-Afrika te gebruik.

Vir die chirurgie is Ferreira bygestaan deur dr Gerhard Pienaar, ʼn ortopediese chirurg van die IOR en Mediclinic Winelands, en Al Muderis, wat van Australië gereis het toesig te hou oor die operasie. Die pasiënt sterk goed aan en het haar eerste prostese-passing twee weke na die operasie gehad. Sy het begin met die 12-week lange rehabilitasie-protokol wat progressiewe gewiglading behels vir ses weke met twee krukke, gevolg deur ses weke van bystand-mobilisasie met een kruk.

Die span is van plan om hierdie prosedure aan nog pasiënte aan te bied, beide in die openbare- en die privaatgesondheidsektor, en hoop dat dit ʼn goed-aanvaarde opsie sal word vir Suid-Afrikaners met amputasies.