Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
Prof Van Schalkwyk vereer vir uitnemendheid in onderrig en leer
Outeur: Wilma Stassen
Gepubliseer: 26/11/2018

ʼn Gesaghebbende nasionale prys is aan prof Susan van Schalkwyk toegeken vir die bydrae wat sy tot die veld van onderrig en leer in die hoëronderwys gelewer het.

Van Schalkwyk, die direkteur van die Sentrum vir Gesondheidsberoepe Onderwys (SGBO) aan die Universiteit Stellenbosch (US) se Fakulteit Geneeskunde en Gesondheidswetenskappe (FGGW), het onlangs die Nasionale Toekenning vir Uitnemendheid in Onderrig en Leer ontvang. Dié prys word deur die Raad vir Hoëronderwys (CHE) en die Hoëronderwys Onderrig- en Leervereniging van Suider Afrika (HELTASA) toegeken.

Dit is ʼn groot prestasie dat sy vir hierdie toekenning gekies is, het Dr Rejoice Nsibande van HELTASA in haar bevestigingsbrief aan Van Schalkwyk gesê. “Ons hoop dat jy [Van Schalkwyk] as ʼn rolmodel en leier vir uitnemendheid in onderrig en leer sal dien, beide in jou instansie en in die hoëronderwys-sektor in Suid-Afrika," sê Nsibande se brief. Die prys is onlangs by die jaarlikse HELTASA-kongres toegeken, en erken uitnemendheid en leierskap in onderrig en leer in die hoëronderwys.

“Dit is ʼn wonderlike voorreg om hierdie toekenning binne die SGBO te ontvang aangesien dit erkenning aan ons werk gee," het Van Schalkwyk gesê. Volgens haar gee die toekenning uiting aan die US se nuwe beleid oor onderrig en leer (2018), wat beoog om die vakgeleerdheid van onderrig en leer te versterk en erkenning te gee aan die professionalisme van akademici in hulle onderrigrolle.

Ofskoon sy “ootmoedig en dankbaar" is dat sy met dié toekenning vereer is, het Van Schalkwyk gesê dat sy ook konflik ervaar, aangesien die sukses wat sy in haar loopbaan bereik het slegs moontlik gemaak is deur die hulp en ondersteuning wat sy van kollegas, familie en vriende ontvang het. “Ek dra hierdie toekenning op aan al my wonderlike kollegas by die SGBO, FGGW, die US se Sentrum vir Onderrig en Leer (SOL) en die gesondheidsberoepeonderwys-gemeenskap van regoor die wêreld saam met wie ek werk," het sy gesê.

Om in aanmerking te kom vir die toekenning moet kandidate deur hulle universiteite benoem word om ʼn portefeulje in te dien waarin hulle besin oor hul loopbaan in onderrig en leer.

“Van Schalkwyk se portefeulje het die US se hersieningskomitee beïndruk," het me Jean Lee Farmer, ʼn SOL-adviseur gesê. “Die portefeulje het omvattende bewyse gelewer van haar leierskap in onderrig en leer, en haar navorsing wat daarmee verband hou. Beide haar onderrig en navorsing word ondersteun deur tasbare teoretiese kennis en diep kritiese refleksie van haar praktyk as ʼn pedagoog. Sy gaan op ʼn wetenskaplike wyse met hoëronderwys om en dit is duidelik dat sy die bevordering van die wetenskap van hoëronderwys ten doel het. Van Schalkwyk se portefeulje illustreer die kompleksiteit van onderrig in hoëronderwys en die wording en wese van ʼn pedagoog in hierdie konteks."

In 2015 het Van Schalkwyk ʼn C-gradering van die Nasionale Navorsingstigting (NNS) ontvang, en in 2016 sy is aangewys as die US se eerste vol professor in die Gesondheidsberoepeonderwys. In 2017 het sy die US se Toekenning vir Uitnemendheid in Onderrig ontvang.

Tot op hede het Van Schalkwyk 50 eweknie-geëvalueerde artikels en nege boekhoofstukke gepubliseer, en het sy haar navorsing by 27 nasionale- en 21 internasionale kongresse, werkswinkels en simposia aangebied. Sy is ook ʼn lid van die Bellagio Globale Gesondheidsopvoeding-inisiatief (ʼn wêreldwye samewerkingsinisiatief wat poog om ʼn kurrikulum te ontwikkel vir globale gesondheid-uitdagings), en dien op die redaksionele rade van verskeie akademiese joernale in haar veld.