Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
US en Innovus vier 4 nuwe maatskappye
Outeur: Corporate Communication/Korporatiewe Kommunikasie [Rozanne Engel]
Gepubliseer: 08/11/2018

Die Universiteit Stellenbosch (US) en sy  interaksie- en innovasiemaatskappy Innovus het Woensdagmiddag (07 November 2018) vier nuwe afwentel-maatskappye gevier. Die nuutgestigte maatskappye, Geosmart Space, Cubespace, Sein Media en Sharksafe Barrier sal deel vorm van die Universiteit se Groep van Maatskappye.

By die geleentheid het die vier afwentel-maatskappye elk 'n 10-minute aanbieding gedoen oor die stigting van hul maatskappy en ook   hul produkte vertoon. Die maatskappye het ook hul aandeelhouersooreenkomste onderteken en hul maatskappysertifikate op die bekende Innovus Groep van Maatskappye Muur geplaas.

Prof Stan du Plessis, die US se Uitvoerende Bedryfshoof, het gesê dat hierdie afwentel-maatskappye 'n voorbeeld is van waar die navorsingsspektrum van die universiteit die samelewing ontmoet in die totstandkoming van noue samewerking. “Dit is nie 'n geringe saak om vier maatskappye te stig nie. Die Universiteit Stellenbosch is ongelooflik trots op ons assosiasie met hierdie vier nuwe maatskappye en veral dankbaar vir ons kollegas by Innovus wat die maatskappye   tot hiertoe gehelp het."

Geosmart maak gebruik van gevorderde ruimte- en geo-ruimtelike tegnologieë (soos aardobservasie en masjienleer) om toekomstige scenario's te modelleer. Sein Media bied uitstekende dienste vir rolprent- en musiekopname aan; Cube Space ontwerp, bou, toets en ondersteun innoverende, hoë kwaliteit, klein satellietkomponente; en, Sharksafe Barrier is 'n eko-vriendelike tegnologie wat magnetiese en visuele stimuli kombineer om haai-spesies wat as gevaarlik vir mense beskou word, af te skrik.

Sedert 2014 het Innovus meer as 100 afwentel-maatskappye in Suid-Afrika gehelp. Dié maatskappye het 270 mense in diens en het verlede jaar 'n gesamentlike omset van R226 miljoen gehad. Volgens Anita Nel, hoof uitvoerende beampte van Innovus en Hoofdirekteur: Innovasie en Besigheidsontwikkeling aan die US, voel sy geweldig trots op Innovus se bydrae tot die ekonomie, maar wat vir haar belangriker is, is dat hulle 'n bedryf reg langs die universiteit skep.

"Dit is wonderlik dat ons elke dag   werk toe kom en so ongelooflik trots voel op wat ons doen. Ek voel trots om te sien hoe 'n student gegroei het tot 'n hoof uitvoerende beampte; hoe iemand wat 'n voorste akademikus is, ook ander aspekte van selfvervulling bereik deur kommersialisering van hul produkte. Innovus gebruik  die woorde, "Basiese innovasie maak saak" as 'n slagspreuk, maar wat vir ons die meeste saak maak , is die entrepreneurs saam met wie  ons werk, die ongelooflike innovasies wat ons daagliks die voorreg het om mee te werk. Ons is ook trots op die impak wat ons maatskappye maak," sê Nel.

__________________________________________________________________________________________________________________________________________________________________________

MEER OOR DIE VIER MAATSKAPPYE

Geosmart Space (Pty) Ltd

Bring die ruimte   aarde toe

Om die toekoms te voorspel is 'n kragtige vermoë. Die meeste dinge (bv. mense, hulpbronne, verskynsels) kan  met 'n posisie op (of bo) die Aarde se oppervlak in verband gebring word. Deur hierdie posisies te ken en  te monitor hoe hulle oor tyd verander en optree, kan  voorspellings gemaak word oor hoe hulle in die toekoms sal verander en optree. Geosmart maak gebruik van gevorderde ruimte- en geo-ruimtelike tegnologieë (soos aardobservasie en masjienleer) om toekomstige scenario's te modelleer en inligting te verskaf wat doeltreffendheid kan verbeter, risiko kan verminder en tot beter besluitneming  kan lei.

Sein Media (Pty) Ltd

Rolprent- en Musiekopname @ Stellenbosch Universiteit

Sein bied uitstekende rolprent- en musiekopname-dienste by die Universiteit Stellenbosch in die hartjie van die wynlande . 'n Etos van uitnemendheid lê ten grondslag van ons kreatiewe prosesse, terwyl ons behendige, datagedrewe metodologieë ons in staat stel om die hoogste gehalte produksies te lewer met 'n vinnige omkeertyd, teen 'n fraksie van die koste van tradisionele benaderings. By Sein handhaaf ons ons posisie aan die voorpunt van bedryfsontwikkelings vanweë ons nabyheid aan die Universiteit Stellenbosch se navorsings- en opvoedingsaktiwiteite.

CubeSpace (Pty) Ltd

Ons bereik jou missie met ons passie

Die passie wat aanvanklik idees in aksie omskep, definieer die kultuur van 'n maatskappy. Ons by CubeSpace probeer ons passie vir innovasie, ruimte en beheerstelsels 'n integrale deel maak van alles wat ons doen. Ons ontwerp, bou, toets en ondersteun klein innoverende, hoë kwaliteit, k satellietkomponente, met 'n sterk fokus op beheersisteme Die Universiteit Stellenbosch (US), Innovus en die LaunchLab is ons sleutelvennote wat fundamentele bydrae tot ons ontstaan gehad het. Deel van ons missie is om aan die US terug te gee  deur die bedryf in Suid-Afrika te stimuleer en werksgeleenthede vir jong ingenieurs  in 'n hoë-tegnologie omgewing soos die satellietbedryf te bied.

Sharksafe Barriers (Pty) Ltd

SharkSafe Barrier - Beskerm jou kuslyn

Sharksafe Barrier is 'n eko-vriendelike tegnologie wat magnetiese en visuele stimuli kombineer om haai-spesies wat as gevaarlik vir mense beskou word af te skrik . Die tegnologie poog om mense veilig te hou teen haaie en terselfdertyd haaie  te beskerm. "Die SharkSafe BarrierTM is 'n produk wat ontwikkel is om die veiligheid van strandgangers teen haai-aanvalle te verseker, die verlies aan toerisme-inkomste  weens hierdie traumatiese gebeure te voorkom, en  die skade aan die omgewing  wat  deur  ván die huidige  beskermingmaatreëls   veroorsaak word te stop."​


 

Foto deur Stefan Els.