Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
Wetenskaps-kommunikasie help versterk demokrasie, meen kenners
Outeur: Corporate Communication / Korporatiewe Kommunikasie [Alec Basson]
Gepubliseer: 05/11/2018

Die publiek se betrokkenheid by wetenskap en die kommunikasie van wetenskap aan die publiek is belangrik indien ons ons demokrasie wil versterk. Só het dr Beverly Damonse van Suid-Afrika se Nasionale Navorsingstigting op Maandag (5 November 2018) gesê.

Sy was een van die gassprekers op die eerste dag van 'n driedaagse internasionale konferensie (5-7 Nov) in wetenskapskommunikasie wat by die Universiteit Stellenbosch (US) plaasvind. Die konferensie vorm deel van die US se Eeufees, en word onderskeidelik deur die Suid-Afrikaanse Navorsingsleerstoel in Wetenskapkommunikasie (SciCOM) en die Sentrum vir Navorsing oor Evaluering, Wetenskap en Tegnologie by die US georganiseer en aangebied. Die tema van konferensie is Science communication and democratic South Africa: prospects and challenges, en dit word deur nasionale en internasionale kundiges in wetenskapskommunikasie en navorsing oor wetenskapskommunikasie bygewoon.

Damonse het in haar praatjie gesê indien ons die impak van wetenskap op die samelewing en die belegging in die wetenskap wil demonstreer, “moet ons daaraan dink om ʼn kritiese publiek te bou, volwasse gehore en nuwe nie-tradisionele belanghebbendes te betrek, en om debat en noukeurige ondersoek te beklemtoon."

Sy het genoem dat daar die afgelope 25 jaar 'n positiewe ontwikkelings in Suid-Afrika was om wetenskap met die publiek te deel, ten spyte van 'n gebrek aan geld en infrastruktuur.

“ ʼn Aantal programme is oor die jare geïmplementeer wat gebaseer is op die noodsaaklikheid om die wetenskap in die samelewing te kry."

“Suid-Afrika het die netwerk van wetenskapsentrums as grondslag gebruik om stedelike en landelike gemeenskappe te bereik. Daar is ook groot nasionale veldtogte. Ons het stadig maar seker 'n gemeenskap van wetenskapsbetrokkenheid en wetenskapkommunikeerders gebou."

Damonse het daarop gewys dat beleidsperspektiewe sedert 1994 die belangrikheid daarvan om wetenskap met die samelewing te deel beklemtoon het.

“Daar is 'n toenemende behoefte aan wetgewende mandate rakende die interaksie tussen wetenskaplikes en die publiek. Daar word toenemend gevra dat die maatskaplike impak van navorsing gekommunikeer word en dat die aard van die interaksie tussen wetenskap en die samelewing verander."

Sy het gesê hulpbronne bly 'n probleem en daar is ook 'n behoefte om die manier waarop die impak gemeet word, te verbeter.Elizabeth.jpg

Met verwysing na die breër Afrika-konteks, het dr Elizabeth Rasekoala van African Gong, 'n organisasie wat probeer om wetenskap en wetenskapskommunikasie meer populêr te maak, gesê die negatiewe reaksie van baie Afrikane teen verslegtende omstandighede het beduidende uitdagings vir wetenskapskommunikasie meegebring.

“Die uitdagings vir wetenskapskommunikasie en sy praktisyns is enorm en hulle dryf ons om praktyke, benaderings en raamwerke as 'n daadwerklike strategie vir die bevordering van demokratiese beginsels en burgerlike burgerskap te verander, want uiteindelik is die ideale demokrasie een waarin soveel burgers as moontlik stem en kiesers met die mees objektiewe inligting gewapen is."

Rasekoala het gesê daar is 'n behoefte aan 'n Afrika-gesentreerde wetenskapskommunikasie-raamwerk wat fokus op samewerking en vennootskappe in Afrika.

Sy het bygevoeg dat wetenskapskommunikasie in staat moet wees om die lewens van mense en die koers van die vasteland te verander.

Rasekoala het wetenskapkommunikeerders aangemoedig om ware kampvegters vir maatskaplike en demokratiese transformasie te wees en nie net voor te gee dat hulle dit is nie.

Prof Peter Weingart van SciCom het die konferensiegangers verwelkom en gesê dit is belangrik dat wetenskapskommunikasie fokus op wat dit mense kan bied, wat hul behoeftes is en waarom wetenskap belangrik is. In sy openingsrede het Prof Eugene Cloete, Viserektor: Navorsing, Innovasie en Nagraadse Studie aan die US, gesê wetenskapkommunikeerders help om die waarde van navorsing en die wetenskap aan die samelewing te kommunikeer.

  • Hooffoto: Dr Beverly Damonse aan die woord by die konferensie.
  • Foto 1: Dr Elizabeth Rasekoala spreek konferensiegangers toe. Fotograaf: Anton Jordaan