Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
Mohammad Karaan nuwe President van die Maties Rugbyklub
Outeur: Corporate Communications Division
Gepubliseer: 01/11/2018

Prof Mohammad Karaan, Professor in Landbou-Ekonomie aan die Universiteit Stellenbosch (US), is as die nuwe President van die Maties Rugbyklub aangewys.

Karaan, die eerste swart persoon in die rol, neem oor by mnr Freddie Ferreira wat vir twee termyne die rol as president van dié tradisieryke klub vertolk het. Karaan is ʼn voormalige Dekaan van die Fakulteit AgriWetenskappe aan die US en het in in 2015 waargeneem as  Viserektor aan die US.

“Ek het nooit vir Maties rugby gespeel nie, maar ek het die legendariese Dok Danie Craven ontmoet en is terdeë bewus van die ongelooflike geskiedenis aan die klub verbonde. Ek sien uit na die nuwe uitdaging en kan julle verseker dat ek my beste sal doen om ʼn verskil by die Maties Rugbyklub te maak," het Karaan by die klub se onlangse algemene jaarvergadering gesê.

“Die Universiteit Stellenbosch verwelkom prof Mohammad Karaan se verkiesing as President van die Maties Rugbyklub. Nie net speel hy ʼn prominente rol in die Suid-Afrikaanse samelewing nie, maar hy is ook ʼn vooraanstaande akademikus en navorser wat voor- en nagraads aan die US studeer het – kwaliteite wat gaan maak dat hy ʼn reuse en unieke bydrae tot die Rugbyklub gaan maak," het prof Stan du Plessis, Bedryfshoof aan die US onder wie Maties Sport ressorteer, gesê.

Me Ilhaam Groenewald, Hoofdirekteur van Maties Sport, en prof Karaan se werksverhouding dateer terug tot 2014 toe sy aan prof Karaan berig het toe hy as Viserektor: Sosiale Impak, Transformasie en Personeel waargeneem het.

"Die verkiesing van prof Karaan, in die US se eeufeesjaar, as die eerste swart president van die Maties Rugbyklub, dui op die instelling, Maties Sport en die Klub se verbintenis to verandering," het Groenewald gesê.

“Die rol van leierskap is die belangrikste bestanddeel om enige organisasie te transformeer. Prof Karaan is 'n ervare akademikus, leier en mentor op verskeie terreine. Ek was gelukkig toe ek in 2014 by die Universiteit Stellenbosch begin het om hom as my eerste lynbestuurder te hê. Die afgelope vier en 'n halwe jaar was 'n positiewe ervaring, met leiding en ondersteuning, veral tydens die uitdagende tye. Ek sien uit na 'n  suksesvolle werksverhouding met hom aan die stuur van die klub se leierskap en vir ons om voort te gaan om te streef na die beste vir ons rugbyproduk op alle vlakke." 

Mnr Quintin van Rooyen, Senior Sportbestuurder: Maties Rugby, het bygevoeg: “Prof Karaan se kennis van en sy verhoudings in die akademiese wêreld sal beslis tot groot voordeel van Maties Rugby wees. Ons werk voortdurend daaraan om jong rugbyspelers aan te moedig om ook te fokus op hul akademie en dat dit baie belangrik is met die oog op die toekoms."

Van Rooyen het ook die klub se dank aan Ferreira uitgespreek. “Mnr Ferreira het Maties Rugby met ongelooflike toewyding en passie gedien. Ons is baie dank aan hom verskuldig."

Die Maties het vanjaar nie net die Varsitybeker-toernooi gewen nie, maar ook die histories dubbel behaal toe die Young Guns (o.20-span) ook vir die eerste keer ooit in hul toernooi geseëvier het.

Na die perfekte begin tot 2018 het Maties se eerstespan dit opgevolg met die suksesvolle verdediging van die USSA- en WP Klubliga-titels.