Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
Kontrak toegeken aan US vir ʼn groot kliniese studie in trauma resussitasie
Outeur: FMHS Marketing & Communication / FGGW Bemarking & Kommunikasie
Gepubliseer: 01/11/2018
  • Pasiënt werwing sal na verwagting middel 2019 begin en 2021 eindig
  • Baanbreker kliniese navorsing met die potensiaal om prehospitaal sorg van burgerlike en militêre trauma pasiënte wêreldwyd te verander

Kenners in noodgeneeskunde aan die Universiteit Stellenbosch (US) het ʼn groot, multi-institusionele kliniese studie onderneem in vennootskap met die Verenigde State se Departement van Verdediging, om die gebruik van bloedprodukte vir die resussitasie van trauma-slagoffers voordat hulle die hospitaal bereik, te evalueer.

Die Afdeling Noodgeneeskunde aan die US se Fakulteit Geneeskunde en Gesondheidswetenskappe is die koördinerende sentrum vir die studie wat 21 hospitale en 27 ambulans-basisse van regoor Suid-Afrika insluit. Dit sluit openbare en private akademiese instansies en gesondheidsorgfasiliteite in. Die US doen die studie in samewerking met die Universiteite van Kaapstad (UKS), KwaZulu-Natal (UKZN), Witwatersrand (Wits) en Pretoria (UP), wat gesamentlik die hele akademieseliggaam in noodgeneeskunde in Suid-Afrika verteenwoordig.

Die studie sal die gebruik van die hemoglobien-gebaseerde suurstofdraer, Hemopure (HbO2 Therapeutics LLC), tesame met Bioplasma FDP (National Biologics Insitute), ʼn droogbevriesde plasma, evalueer vir die resussitasie van trauma-slagoffers voor hulle aankoms by die hospitaal se noodsentrum. Hemoglobien is ʼn proteïen wat natuurlik voorkom en is verantwoordelik vir die vervoer van suurstof in die bloed, en plasma is die kleurlose vloeistofgedeelte van bloed wat proteïene bevat wat die bloed laat stol.

Trauma is die vernaamste oorsaak van sterfte en ongeskiktheid onder jong volwassenes, en is grotendeels weens ʼn verlies aan bloed. Bloeding na trauma is verantwoordelik vir 1.5 miljoen sterftes wêreldwyd elke jaar. Suid-Afrika het ʼn hoë trauma las, veral onder jong volwassenes. Verhoogde oorlewing en beter kliniese uitkomste na trauma is as gevolg van vroeë diagnose, vinnige bloedingbeheer, en vroeë ontplooiing van ambulanse om pasiënte so spoedig moontlik by gevorderde mediese sorg uit te bring.

Bloedoortappings kan lewens red, maar is selde beskikbaar voordat ʼn pasiënt by die hospitaal aankom. Ten minste die halfte van alle trauma sterftes vind plaas voor aankoms by die hospitaal, en daarom kan vroeër en beter sorgstrategieë vir voor-hospitaalaankoms, kliniese uitkomste verbeter. Nieteenstaande is die geleenthede vir voor-hospitaalpersoneel om bloedprodukte toe te dien baie beperk weens ʼn tekort aan bloedprodukte en bewarings- en logistieke uitdagings.

Hemopure en Bioplasma FDP is al vir verskeie jare in wye gebruik in Suid-Afrikaanse hospitale. Tesame bied dit suurstofdraende-kapasiteit en laat dit die pasiënt se bloed stol. Dit het nie dieselfde logistieke- en bewaringsuitdaging as vars bloed nie, en is ideaal vir gebruik voor hospitaalaankoms. Suid-Afrika is die enigste land ter wêreld waar beide hierdie produkte tans beskikbaar en geregistreer is vir kliniese gebruik.

“Pasiënte wat baie bloed verloor voordat hulle by die hospitaal aankom is vir jare lank met soutwater geresussiteer. Nieteenstaande kan hierdie mengsel nie suurstof in die bloed vervoer nie en onderbreek dit die natuurlike bloedstollingsproses van beseerde bloedvate," sê prof Lee Wallis, Hoof van die US se Afdeling Noodgeneeskunde. “Hemopure en Bioplasma FDP is spesifiek ontwerp om die suurstofdraende kapasiteit en die stolfunksie van die pasiënt se eie bloed te herstel. Dit kan ʼn lewensreddende brug wees wat noodpersoneel in staat stel om ʼn pasiënt lewendig by ʼn plek uit te kry waar hulle bloed en chirurgie kan ontvang, en kan wesenlike verskil maak aan pasiënte wat moontlik nie sou oorleef het nie," voeg Wallis by.

Buiten trauma-kenners en akademiese instansies, dra verskeie ander regeringsorganisasies in Suid Afrika en die Verenigde State van Amerika by tot hierdie onderneming. Die projek geniet ook die steun van die Suid-Afrikaanse Militêre Gesondheidsdienste.