Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
Sontermiese-energie-navorsing op Stellenbosch kry internasionale erkenning
Outeur: Liesel Koch
Gepubliseer: 01/11/2018

Die Sontermiese Energienavorsingsgroep (STERG) aan die Universiteit Stellenbosch het internasionale erkenning ontvang vir hul navorsingsuitnemendheid en goeie reputasie binne die konsentrerende sonkrag (CSP)-gemeenskap. STERG is as lid van 'n konsortium gekies om 'n toekenning van $2,0 miljoen te ontvang van die Sonenergie-tegnologie-kantoor (SETO) van die Verenigde State van Amerika (VSA) se Departement Energie.

Die konsortium word gelei deur SolarReserve, 'n wêreldwye ontwikkelaar van grootskaalse sonkragprojekte en gevorderde sonkragtegnologie. SolarReserve is 'n investeerder en tegnologieverskaffer aan die Suid-Afrikaanse Redstone CSP-projek. Die derde konsortiummaatskappy is Sandia National Laboratories in die VSA wat voorpunt-toetsfasiliteite vir konsentrerende sonkrag bied by die Nasionale Sontermiese Toetsfasiliteit (NSTTF), wat deur Sandia vir die VSA se Departement Energie bedryf word. 

Prof Johan van der Spuy, STERG bestuurder, sê: "STERG is aktief betrokke by navorsing oor die gebruik van sonkrag vir toepassing op die gebied van proseshitte en elektrisiteitsopwekking. Hierdie befondsing skep 'n unieke geleentheid vir Suid-Afrikaanse navorsers en ingenieurs om hul kennis toe te pas om deel te neem aan die ontwikkeling van 'n volgende generasie heliostaatstelsel. Hul betrokkenheid sal voortbou op die ervaring wat opgedoen is tydens die Helio100-tegnologie-innovasieprojek, befonds deur die Tegologie-innovasie-agentskap (TIA), 'n inisiatief van die Departement Wetenskap en Tegnologie.

Die SETO-toekenning ondersteun SolarReserve se ontwikkeling van 'n volgende generasie heliostaatstelsel wat daarop gemik is om aansienlike vordering te maak in kostevermindering en prestasie van die konsentrerende stelsel in 'n sonkragtoring, in ooreenstemming met die tydsbepaling van die Energie-afdeling se Generasie 3 Konsentrerende Sonkragstelsels (Gen3 CSP) program. Gen3 CSP-projekte is besig om volgende generasie CSP-stelsels te bevorder wat teen hoër temperature kan funksioneer om meer hitte te stoor, wat die koste van CSP-stelsels verminder deur die doeltreffendheid van die aanleg te verhoog. Aangesien die heliostaatveld tot 50% van 'n CSP-projek se kapitale koste kan uitmaak, is dit 'n kritieke komponent in enige inisiatiewe om koste te verminder.

Dr Matti Lubkoll, koördineerder van STERG, sê: "STERG het lank geglo dat die sleutel tot die ontsluiting van die potensiaal van konsentrerende sonkragtegnologieë in die Suid-Afrikaanse konteks lê in kostevermindering van die tegnologie en sy komponente. Ons is opgewonde dat ons HelioPod-tegnologie erken word as deel van hierdie projek wat die vermoë uitbrei om die koste van CSP te verminder, terwyl die stelsel se prestasie verbeter word. Ons is dankbaar vir ons befondsers, veral die Departement Wetenskap en Tegnologie en die Tegologie-innovasie-agentskap wat ons en ons navorsing en ontwikkeling met trots ondersteun het."

Oor die Sonenergie-tegnologie-kantoor (SETO)

Die Amerikaanse Departement Energie se Sonenergie-tegnologie-kantoor ondersteun vroeëstadium-navorsing en ontwikkeling om die bekostigbaarheid, betroubaarheid en prestasie van sonkragtegnologieë op die rooster te verbeter. Sien meer by energy.gov/solar-office.

​Foto onderskrif

 'n Lugfoto van die heliostaatveld wat ontwikkel is as deel van die Helio100-projek.​