Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
Student se projek kan verkeer weer laat vloei
Outeur: Corporate Communication / Korporatiewe Kommunikasie
Gepubliseer: 25/10/2018

Opeenhopings op die R44, die hoofverkeerslagaar deur Stellenbosch, kan dalk binnekort iets van die verlede wees danksy samewerking tussen twee van die dorp se ankerinstellings, die Universiteit en die Munisipaliteit.

'n Magisterstudent aan die Universiteit Stellenbosch (US), mnr Wilko Mohr, ontwikkel tans 'n gevorderde, pasgemaakte intydse rekenaarbeheerstelsel met kameras om verkeerseine op hierdie besige pad te sinchroniseer. En hy doen dit met behulp van 'n nagraadse beurs van Stellenbosch Munisipaliteit.

Die projek sal aanvanklik agt verkeerskruisings op die besigste gedeelte van die R44 insluit – van Helshoogteweg by Cloetesville in die noorde tot by die Van Rheedestraatkruising by Rhenish-laerskool in die suide. Die proeffase kan moontlik uitgebrei word om 'n verdere twee kruisings en twee voetoorgange te betrek. Die plan is om die stelsel in die eerste kwartaal van 2019 te toets en dit daarna in die res van die dorp in werking te stel.

“Verkeersdruk is vir ons 'n groot probleem. Ons werk aan verskeie oplossings en is bevoorreg om die Universiteit op ons drumpel te hê. Ons wil in wese 'n tipe 'lewende laboratorium' bied, waar navorsers met oplossings vir die uitdagings van ons dorp en omgewing vorendag kan kom," het mnr Deon Louw, Direkteur: Infrastruktuurdienste van Stellenbosch Munisipaliteit, by 'n vergadering van die Rektor-Burgemeester-forum op 12 Oktober 2018 gesê.

Die Munisipaliteit se vennoot in dié geval is die Stellenbosch Slimmobiliteitslab (SSML), 'n eenheid van die US se Departement Siviele Ingenieurswese. Die eenheid staan onder leiding van dr Johann Andersen, wat in intelligente vervoerstelsels spesialiseer. Hy word bygestaan deur mev Megan Bruwer, 'n dosent in Vervoeringenieurswese en Mohr se studieleier.

“Ons langdurige samewerking met die Munisipaliteit is 'n goeie manier om ons studente aan werklike uitdagings bloot te stel sodat ons hulle vir die arbeidswêreld kan toerus. Boonop het hulle 'n positiewe impak deur hulle navorsing en praktiese werk," sê Andersen.

Hy verduidelik hoe die stelsel werk: “Nuwe kameras by die verkeerskruisings sowel as bestaande elektromagnetiese lusse onder die padoppervlak sal verkeersvolume en -vloei bepaal en die data by die stelsel invoer. Op grond van 'n algoritme waaraan Wilko tans werk, pas die stelsel dan die verkeerseine outomaties aan om die verkeer so vry moontlik te laat vloei. Wat dít van ander, bestaande stelsels onderskei, is dat dit menslike betrokkenheid tot die absolute minimum beperk."

Dit is die eerste toepassing in Afrika van sagteware van die PTV Groep, 'n Duitse maatskappy wat allerweë as 'n wêreldleier op die gebied beskou word. Die nuwe stelsel sal aansluit by die bestaande verkeersligkontroles van Syntell, 'n Suid-Afrikaanse tegnologiemaatskappy. Van die data vir die rekenaarmodellering kom van die internasionale navigasiemaatskappy TomTom. Ál hierdie firmas is bedryfsvennote van die SSML.

Mohr is opgewonde oor sy betrokkenheid by die projek: “Met 'n probleem soos verkeersdruk sou 'n 'harde' ingenieursoplossing wees om meer paaie te bou. Tog kan 'sagte' ingenieurswese moontlik dieselfde impak hê, net veel vinniger en goedkoper. Intydse verkeerseinaanpassing hou beduidende potensiaal vir ontwikkelende lande in."

Die PTV-sagteware is reeds suksesvol in werking in lande soos Duitsland en Dubai. Nietemin is die enigste toepassing wat met Suid-Afrika vergelyk kan word dié in Indië, op 'n roete van 3 km met ses verkeerskruisings in Lodhiweg, Delhi. Die gemiddelde reistyd van padgebruikers daar is met 26% verkort, en die lengte van verkeersrye met 37%.

ONDERSKRIFTE:

Foto heelbo: Wilko Mohr (links), 'n magisterstudent van die Universiteit Stellenbosch, en Deon Louw van Stellenbosch Munisipaliteit by 'n verkeerslig by een van die kruisings op die R44 deur die dorp waar 'n nuwe verkeersvloeistelsel beproef sal word. FOTO: JUSTIN ALBERTS

Kaart bo: Die gedeelte van die R44 waar die proef onderneem sal word, met 'n aanduiding van die aanvanklike agt verkeerskruisings, plus 'n moontlike verdere twee kruisings en twee voetoorgange. KAART: VOORSIEN