Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
'n Nuwe generasie: Professionele rugbyspelers wat voltyds studeer
Outeur: Maties Sport Media
Gepubliseer: 24/10/2018

​'n Nuwe generasie rugbyspelers vestig hulself tans in die professionele era: Dié wat voltyds studeer én rugby speel.

Dit is 'n belangrike ontwikkeling, aangesien Netwerk24 onlangs berig het dat SA Rugby beplan om 'n nuwe kontrakstelsel te aanvaar wat die land se getal professionele spelers met meer as 50% kan verminder. Daar is tans meer as 'n duisend professionele rugbyspelers in Suid-Afrika.

Voormalige Junior Springbokke Ernst van Rhyn (Maties), Nama Xaba (UK) en Edwill van der Merwe (Maties) studeer almal al vir 'n paar jaar. Hierdie jaar se Junior Springbok-voorry – Sazi Sandi, Dan Jooste en Leon Lyons – studeer almal by die Universiteit Stellenbosch (US). Ander Junior Springbokke by Maties is Ben-Jason Dixon en Schalk Erasmus.

Volgens Edwill is self-dissipline noodsaaklik. “Ek bestee baie ekstra tyd om seker te maak ek bly op datum met my studies. Ek is ook gelukkig dat ek vriende het wat bereid is om te help."

Ander jongelinge wat seker maak dat hulle gereed is vir die lewe ná rugby, sluit in Cornel Smit, Tristan Leyds en Lyle Hendricks; almal spelers met WP-kontrakte wat hul debuut in die Varsity Cup- en Varsity Skild-kompetisie gemaak het.

“Om eerlik te wees, ek weet nie eintlik hoe ek dit regkry om rugby te speel én te studeer nie! Ek maak net seker dat ek altyd op datum is. Ek werk elke oomblik wat ek kry, omdat tyd nie 'n luukse is wat mens as 'n studente-atleet het nie," sê Cornel (Maties).

Die huidige WP o.19-speler Christopher Schreuder is ook 'n student aan die US. “Tydbestuur en -beplanning en self-dissipline is baie belangrik. Van my spanmaats sal soms 'n middagslapie neem ná 'n moeilike oefensessie, maar ek moet hierdie tyd gebruik om te studeer of klas toe te gaan. Ek het gelukkig by Grey Kollege geleer hoe om meer as een bal in die lug te hou! Ek is dankbaar teenoor WP wat vir my die geleentheid gee om te studeer én rugby te speel – en so 'n gebalanseerde lewe te lei."

Ilhaam Groenewald, Hoofdirekteur: Maties Sport en president van USSA, glo dat die nuwe kontrakstelsel 'n positiewe impak op universiteitsport sal hê.

“Ek hoop dat meer jong mans en vroue die geleenthede wat vir hulle beskikbaar is om tersiêre onderrig te ontvang, sal aangryp en dat hulle met sertifikate, diplomas en grade sal gradueer. Die nasionale USSA-rugbytoernooi is reeds baie groot – met meer as 30 spanne – en met meer spelers wat moontlik by universiteite sal aansluit, kan dit 'n geleentheid vir USSA Rugby skep om sy kompetisiestruktuur te heroorweeg om die nasionale ontwikkelingsplan vir ons spelers te ondersteun, veral in die o.20-ouderdomsgroep," sê Groenewald.

“Uit die oogpunt van 'n rugbyproduk, is dit belangrik vir universiteite om by gesprekke oor kompetisiestrukture en die bestuur van spelers, afrigters, mediese en sportwetenskappersoneel, ens, betrokke te wees. Tensy ons 'n stelsel bou wat die holistiese welwees van alle fasette van die spel verseker, sal sukses nie blywend wees nie."

Universiteite sal moontlik in die toekoms 'n groter rol in spelers se toekoms speel. Volgens Groenewald is speler- en hoëprestasiebestuur baie belangrik.

“Dit beteken uitgebreide hulpbronbelegging met die fokus op 'studente-atleet' versus 'rugbyspeler'. Dit is dus belangrik dat die visie en doelwitte van universiteite se rugbyspanne verstaan en gerespekteer moet word. Ons het samewerking nodig wat fokus op die lewe ná sport vir die speler. In hierdie geval kan die nuwe kontrakstelsel 'n beduidende verskil maak."