Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
Datawetenskap-onderwerp by jaarlikse Schroders-opstelkompetisie ingesluit
Outeur: Pia Nänny
Gepubliseer: 18/10/2018

Die veld van Datawetenskap word meer en meer prominent en dit was dus gepas dat 'n Datawetenskap-onderwerp ingesluit is by die jaarlikse Schroders-opstelkompetisie, georganiseer deur die Departement Statistiek en Aktuariële Wetenskap by die Universiteit Stellenbosch (US).

Dié opstelkompetisie maak deel uit van 'n gesamentlike beleggingnavorsingsinisiatief wat sy oorsprong het in 'n ooreenkoms wat in November 2015 tussen die Departement Statistiek en Aktuariële Wetenskap en die globale batebestuursfirma Schroders onderteken is.

Die kompetisie is vir 'n derde keer aangebied en was oop vir nagraadse studente in die Departemente Statistiek en Aktuariële Wetenskap, Ondernemingsbestuur en Ekonomie oor onderwerpe wat deur Schroders en Correlation Risk Partners voorgestel is. Elke onderwerp is deur Schroders en Correlation Risk Partners aan 'n mentor toegeken wat via Skype beskikbaar was om raad en praktiese insig te gee.

Die wenners – Jacob Kenyon (“Optimising Advertisement Placement on Television: A count regression approach"); Jannes Reddig (“Life Insurance TV Advertising: a data science approach"); Michael Hamman (“Negative interest rate policy and monetary transmission: the European experience"); Clio von Petersdorff (“Negative Interest Rate Policy"); Kesley Kaps (“The future of robo-investing: fact or fad?"); Sechaba Mokobane (“The future of robo-investing: fact or fad?"); Daniela Griffiths (“Is climate change a real threat to financial stability?"); Bianca Peters (“The impact of environmental and social risk on future returns"); James Njuguma (“Defining and measuring investment risk") en David Rodwell (“Defining and measuring risk") – het elkeen 'n tjek van R20 000 ontvang.

Jacob, 'n meesterstudent in Statistiek, was een van vyf student wat besluit het om die Datawetenskap-onderwerp te pak. Hy het die geleentheid om met werklike data te werk, waardeer, en het gesê dat hy wyer moes dink as dit wat hy in die klaskamer geleer het om die probleem aan te spreek.

“Dit het nogal baie tyd en moeite geverg en dit is baie bevredigend om 'n beloning te ontvang. Dit was definitief die moeite werd," het hy bygevoeg.

Foto: Prof. Andrie Schoombee (Departement Ekonomie), prof. Niel Krige, mnr. Carel van der Merwe (Departement Statistiek en Aktuariële Wetenskap), Kesley Kaps, prof. Ingrid Woolard (Dekaan: Fakulteit Ekonomiese en Bestuurswetenskappe), Jacob Kenyon, Sechaba Mokobane, Jannes Reddig, James Njuguma, Daniella Griffiths, Bianca Peters, David Rodwell, Clio von Petersdorff, Michael Hamman, mnr. Doug Abbott (Schroders) en prof. Willie Conradie (Departement Statistiek en Aktuariële Wetenskap).

Fotokrediet: Anton Jordaan