Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
Alumni kies professor Sampie Terreblanche as topdosent
Outeur: Ronél Beukes
Gepubliseer: 17/10/2018

Ter viering van die Universiteit se eeufees het die Fakulteit Ekonomiese en Bestuurswetenskappe vroeër hierdie jaar sy oudstudente genooi om die beste dosent van hul studiejare aan te wys. Byna 500 alumni het deelgeneem en prof Sampie Terreblanche is met 'n oorweldigende meerderheid as hul beste dosent aangewys.

Dié eenmalige Alumni Beste Dosent-toekenning vir die tydperk 1929 tot 2010 het vanjaar deel uitgemaak van die Fakulteit se jaarlikse topdosentkompetisie, wat sedert 2011 deur Die Burger geborg word.

Prof Terreblanche, wat vroeër vanjaar oorlede is, se naam is sinoniem met die geskiedenis van die Departement Ekonomie aan die Universiteit Stellenbosch. Met sy uiteindelike aftrede in 2006 (amptelik reeds in 1996) het prof Sampie 'n ononderbroke loopbaan van sowat vyf dekades as ekonomiedosent afgesluit.

Oor hom het prof Stan du Plessis, voormalige dekaan van die fakulteit ekonomiese en bestuurswetenskappe en nou bedryfshoof van US, by geleentheid gesê: “Professor Sampie Terreblanche het uitgetroon bo baie van sy tydgenote in die 90-jarige geskiedenis van die Fakulteit Ekonomiese en Bestuurswetenskappe aan die Universiteit Stellenbosch. Een berekening wys dat, indien al die studente in elke lesing wat hy gedurende sy loopbaan gegee het, bymekaar getel word, die totaal sowat een miljoen is. Dit is egter die kwaliteit van hierdie lesings eerder as die kwantiteit wat so ʾn blywende indruk op geslagte studente gemaak het."

Drie van prof Terreblanche se vyf kinders, Carine en Christelle Terreblanche en dr. Marié Kirsten, het die topdosente se pryswennersfunksie verlede week bygewoon.

In 'n huldeblyk aan prof Terreblanche het prof Andrie Schoombee, voorsitter van die department ekonomie, na die motiverings van alumni verwys wat vir hom gestem het. “Die motiverings het gefokus op prof. Sampie se passie, die feit dat hy studente uitgedaag en laat dink het, sy diepgaande kennis van sy vakgebied, en sy belangstelling in sy studente," het hy gesê.

“Wat hom in my oë bo baie ander topdosente laat uitstyg het, was sy vermoë om studente te leer om krities te dink."

Die alumni wat vir prof Sampie gestem het, was ook by die glansgeleentheid verteenwoordig. Gedurende 'n gelukstrekking is een oudstudent se naam getrek, dié van mnr Hermann Erasmus van Worcester. Hy en sy vrou, Annatjie, het die funksie bywoon.

  • Hooffoto deur Sampie Terreblanche (jr.); foto hieronder deur Hennie Rudman. Vir verdere inligting oor prof Sampie, kliek hier.
Terreblanche_kinders_web.jpg 
V.l.n.r. is Carine Terreblanche (dogter), prof Ingrid Woolard (dekaan), Marié Kirsten (dogter), Christelle Terreblanche
(dogter) en Willem Jordaan, redakteur van Die Burger, wat die topdosent-pryswennersfunksie bygewoon het.