Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
Nege studente-atlete vereer by Rektorstoekenningsaand
Outeur: Maties Sport Media
Gepubliseer: 16/10/2018

Nege studente-atlete verbonde aan Maties Sport was onder die 87 studente wat onlangs by die jaarlikse Rektorstoekennings vir Uitnemende Prestasie deur die Universiteit Stellenbosch (US) vereer is. By hierdie geleentheid vereer die US studente wat op verskeie gebiede presteer, hetsy akademies of op ko-kurrikulêre vlak.

Lwazi Madi (waterpolo), Jacques Lloyd (fietsry), Charmaine Baard (netbal), Stephanie Brandt (netbal), Emma Chelius (swem), Nicola Giliomee (fietsry), David Bedingham (krieket), Keenan Horne (hokkie) en James Murphy (sewesrugby) het almal 'n Rektorstoekenning vir Uitnemende Sportprestasie ontvang.

“Dit was 'n groot voorreg om deel van so groot geleentheid te kon wees," het Stephanie gesê. “Die toekenning is erkenning van baie harde werk en dit is regtig 'n eer om dit te kon ontvang."

Vir Nicola was dit 'n eer en voorreg om in die teenwoordigheid van die mees ongelooflike studente by die US te wees.

Volgens Emma was dit ongelooflik om erkenning van die Universiteit se rektor af te ontvang.

“Ek moet dankie sê aan almal wat deel is van my reis en wat hierdie toekenning moontlik gemaak het vir my."

James stem saam dat dit 'n voorreg is om hierdie toekenning te ontvang.

“Daar is so baie talentvolle studente-atlete by die Universiteit Stellenbosch en dit is 'n eer om as een van die top-studente-atlete erken te word. Die klop op die skouer vir harde werk is ook spesiaal.

“Die sêding 'Eens 'n Matie, altyd 'n Matie' is baie waar. Toe ek my Blitsbokke-debuut in Hongkong gemaak het, het die kommentators genoem dat ek by Maties studeer," onthou hy.

Ilhaam Groenewald, Hoofdirekteur: Maties Sport, en Jerry Laka, Direkteur: Maties Sport, het ook die geleentheid bygewoon.

“Ons is baie trots op ons studente-atlete," het hulle gesê. “Hulle toon ongelooflike toewyding en help ons om suksesvol te wees in ons doelwit om die momentum van uitnemendheid te behou."