Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
Van twee kassies tot 170 laboratoriums binne die bestek van ’n eeu
Outeur: Wiida Fourie-Basson
Gepubliseer: 11/10/2018

Dit is moeilik om te glo dat al die glasware en chemikalieë vir die eerste professor in Wiskunde en Natuurkunde se 'Laboratory for Experimental Sciences' 'n eeu gelede in twee klein kassies in 'n tweevertrekgebou (wat vandag nog in Ryneveldstraat, Stellenbosch, staan) gestoor kon word.

Vandag het die Fakulteit Natuurwetenskappe, een van die vier stigtersfakulteite van die Universiteit Stellenbosch, gegroei tot meer as 170 laboratoriums, gehuisves in 13 akademiese geboue, met toegang tot R226 miljoen se moderne analitiese toerusting.

By die geleentheid van die Fakulteit Natuurwetenskappe se galadinee op Maandag 1 Oktober 2018 by die Spier Wynlandgoed, het Professor Louise Warnich, dekaan van die fakulteit, die personeel, opvoeders, navorsers, ondersteuningspersoneel en studente bedank wat oor die afgelope honderd jaar tot die fakulteit se prestasies bygedra het. Die Fakulteit se eeufeesboek, 'n Besonderse Denkwyse, Fakulteit Natuurwetenskappe, Universiteit Stellenbosch, 1918-2018, is ook tydens hierdie dinee amptelik bekendgestel.

Met verwysing na die besonderse foto van die molekulêre struktuur van 'n rooi granaatsteen op die voorkant van die boek, het Prof. Warnich gesê dit is 'n gepaste metafoor vir die Fakulteit en sy mense: “Deur hul navorsing en soeke na kennis, ontsluit ons wetenskaplikes die skoonheid van die natuurlike wêreld wanneer hulle ingewikkelde sellulêre infrastrukture onder 'n konfokale mikroskoop, by nanoskaal resolusie ondersoek; of wanneer hulle 'n nuwe wiskundige probleem  bemeester. Maar behalwe dat granate as semi-edelstene beskou word, word hulle ook in die industrie aangewend. Net so word die natuurwetenskappe in 'n verbasende verskeidenheid van toepassings gebruik."

Sy het die Fakulteit se verbintenis tot die groei en versterking van die wetenskap en tersiêre opleiding in Suid-Afrika herbeklemtoon: “Ons het reeds bewys dat ons van die beste nagraadse studente in die land lewer. Ons bly toegewy aan ons verbintenis om die volgende generasie Suid-Afrikaanse wetenskaplikes op te lei – mans en vroue wat katalisators sal word in die skep van die kennis-intensiewe ekonomie wat so belangrik vir Suid-Afrika se groei en ontwikkeling is. Klik hier vir die volledige toespraak.

Prof. Wim de Villiers, US Rektor, het die Fakulteit gelukgewens met sy vele prestasies: “In die toekoms moet die Universiteit 'n nasionale bate word wat die diverse behoeftes van ons gemeenskappe aanspreek, met impak op die kontinent, en met 'n globale reikwydte. Ons beplan om Afrika se leidinggewende navorsingsintensiewe universiteit te word, en om  hierdie grootse ambisie te kan verwesenlik, sal die Fakulteit Natuurwetenskappe 'n onmisbare rol moet speel." Klik hier vir sy toespraak.

Dr. Thomas auf der Heyde, adjunk-direkteur-generaal: navorsing, ontwikkeling en ondersteuning in die Departement van Wetenskap en Tegnologie, het gesê die fundamentele wetenskappe is die boustene vir die toegepaste wetenskap en tegnologie, en dat universiteite die opleidingskole is vir die PhD-vlak navorsers wat nodig is om 'n kennis-intensiewe, innovasie-gedrewe ekonomie tot stand te bring. Klik hier vir sy toespraak.

In sy kort oorsig van die eeufeesboek het prof. Jannie Hofmeyr beklemtoon hoe belangrik dit is dat universiteite voortgaan om vandag steeds hierdie “besondere denkwyse" te koester waarna prof. James Shand in sy 1916-lesing, The making of a university, verwys het:

A university is not a lecture-theatre, or a library, or a laboratory; it is not a building or a place at all; its essence is a frame of mind. We hear much in these days of the “will to power": the true character of a university is the “will to knowledge". The real university is neither a collection of books, not a collection of buildings, nor a collection of lecturers; it is a collection of students who possess the will to knowledge – the will to possess it and still more the will to advance it. A university if constituted by its students, and by them alone. When I say students, I mean not only the temporary students who join the university for few years, but far more the permanent students who constitute its staff, for every professor worth his salt is a student to the end of his days. If the students are animated by the will to knowledge, there is a university; if they are not, if their studies are only a means to a selfish end, such as the learning of a narrow trade, the securing of a position or an income or an academic distinction, or the propagation of a favourite doctrine, then no university is there though millions be spent on staff and buildings and equipment. Where two or three are gathered together in the name of knowledge, there is a university.

Volgens hom dokumenteer die boek nie net die pogings van uitstekende akademici oor 'n eeu heen nie, maar bevat dit ook 'n paar staaltjies, soos dié van die eerste professor in chemie, Berthault de St Jean van der Riet, wat weens sy navorsing oor vlugtige olies die bynaam Oubaas Fenol onder die studente verwerf het; of prof. Robert Broom, eerste professor in soölogie in 1903, wat geweier het om aan die Senaat se wense gehoor te gee deur roll call in sy klasse te neem. Klik hier​ vir sy toespraak.

Gedurende die feesgeleentheid het prof. De Villiers en Dr Auf der Heyde elkeen 'n eeufeesboek met rooi leeromhulsel van prof Warnich ontvang.

Op die foto bo: Prof. Louise Warnich, Dekaan van die Fakulteit Natuurwetenskappe, het 'n kopie van die boek 'n Besondere Denkwyse, Fakulteit Natuurwetenskappe, 1918-2018, aan onderskeidelik Prof. Wim de Villiers, en dr. Thomas auf der Heyde van die Departement van Wetenskap en Tegnologie oorhandig. Foto: Nardus Engelbrecht