Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
Itumeleng Mabusha: 'Drome werk nie, tensy jy werk'
Outeur: Pia Nänny
Gepubliseer: 09/10/2018

Vir ander mense was dit dalk 'n gewone Donderdag, maar vir Itumeleng Mabusha, wat toe pas sy lidmaatskapsertifikaat van die Suid-Afrikaanse Instituut vir Geoktrooieerde Rekenmeesters (SAIGR) op sy lessenaar gekry het, was dit die dag waarop hy besef het enigiets is moontlik.          

Vir hom was die sertifikaat meer as net 'n stuk papier – dit was 'n opsomming van al die harde werk oor die afgelope paar jaar en 'n bewys dat sy droom om 'n geoktrooieerde rekenmeester te word, bewaarheid is.                 

Sewe jaar gelede – as 'n eerstejaarstudent aan Universiteit Stellenbosch (US) – het hy vir homself gesê dat as hy 'n graad kan behaal, hy enigiets kan doen. Nou glo hy dit.            

“Die hele wêreld het oopgegaan. Moontlikhede. Geleenthede in alle vorms en groottes. Dit is net 'n mylpaal. Ek het meer energie as die afgelope paar jaar tesame. Drome werk nie, tensy jy werk!" het hy op LinkedIn geskryf.        

Itumeleng het met 'n beurs by Parklands Kollege skoolgegaan en was in graad 9 toe hy besluit het om 'n geoktrooieerde rekenmeester te word.      

Hy het by al die universiteite in die omgewing aansoek gedoen en die US was die eerste om hom in hul BRek-program te aanvaar nadat sy finale punte bekendgemaak is. Hy was ook deel van die Stellenbosch Thuthuka Beursfondsprogram.        

“Ek onthou my eerste klas in 2011. My lektor was 'n geoktrooieerde rekenmeester, besmoontlik die eerste een wat ek in my lewe gesien het (waarvan ek weet). Ek onthou die bewondering wat ek ervaar het en dat ek gedink het dit is wat ek wil bereik en dat hierdie die eerste jaar van 'n lang pad vorentoe is. Ek was regtig geïnspireer."      

Itumeleng was aanvanklik bekommerd dat hy nie op Stellenbosch sou inpas nie.           

“Maar die ondervinding wat ek gehad het, was werklik soos geen ander nie. Ek het goeie vriende gemaak en geleer om 'n ernstige lewe anders te benader. Ek sê altyd ek het meer as 'n graad aan universiteit verwerf: Ek het geleer hoe om 'n leier te wees, hoe om balans in die lewe te hê en hoe om tyd vir vriende en familie te maak."        

Nadat hy sy honneursgraad in Rekeningkunde aan die US behaal het, het Itumeleng sy leerkontrak as leerlingrekenmeester by Sanlam begin.          

“Ek het 'n liefde vir beleggings ontwikkel. Ek het by die kapitaalmarkbesigheid geëindig waar ek van skuldkapitaalmarkte geleer het. Ek is daarna 'n posisie binne die groep by die skuldspan aangebied. Ek het die geleentheid met albei hande aangegryp en het dit nog nie berou nie."