Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
US stel nuwe Beleid oor Gestremdheids-toegang bekend
Outeur: Dr Marcia Lyner-Cleophas
Gepubliseer: 07/09/2018

​Gestremdheid is in 'n meerdere of mindere mate deel van ons en ons daaglikse lewe. Ek is seker jy ken mense met gestremdhede, hetsy 'n familielid, iemand in jou buurt, 'n kollega by die werk of iemand wat na dieselfde kliniek of hospitaal gaan of in dieselfde opvoedkundige omgewing is. Dalk iemand wat onlangs 'n operasie gehad het en nou minder beweeglik is. Of mense wie se funksionaliteit op die een of ander manier ingekort is en kan baat by sekere aanpassings om hul omgewing meer toeganklik te maak.

Dit is baie maklik om met ons daaglikse lewe aan te gaan, ten volle te funksioneer, en mense te ignoreer wat miskien een of ander vorm van steun of hulp nodig het om toegang tot aktiwiteite te hê wat normaalweg maklik sou wees om te doen. Dit is soms nodig om werklik stil te raak en te besin oor mense se funksionering en watter hulp hulle nodig kan hê of hoe hindernisse in die omgewing hulle doeltreffende funksionering beïnvloed.

Dink aan 'n eenvoudige uitstappie winkels toe, ongeag of gemotoriseerde of nie‑gemotoriseerde metodes gebruik word om daar te kom. Hoeveel moontlike hindernisse kan op pad soontoe veilige toeganklikheid beperk? Dink aan ongelyke sypaadjies of sypaadjies met versperrings soos bome wat iemand kan laat struikel of dit moeilik maak om 'n rolstoel te gebruik. Wat van sypaadjies sonder skuins randstene, waar dit moeilik is om met 'n rolstoel op die sypaadjie te kom? Of gebiede wat nie teen reën beskut is nie, waar jy geen ander keuse het as om met jou rolstoel in die reën te beweeg om jou bestemming te haal nie?

Ons leef in 'n samelewing waar mense met gestremdhede te dikwels van deelname aan alledaagse aktiwiteite uitgesluit word, soos om na 'n winkel te gaan, sosiale byeenkomste by te woon, toegang tot kerke en gesondheid‑ en opvoedkundige instellings te hê. Ons besef nie hoe ons tot hul uitsluiting bydra nie soos om areas te hê wat vir rolstoele ontoeganklik is. Ons dink nie daaraan nie dat goed soos rolstoele, gidshonde, kieries, die gebruik van 'n gebaretaaltolk of ander hulpmiddels kritiek is om mense in staat stel om toegang tot hul omgewings te hê wat hul funksionering en deelname aan alledaagse aktiwiteite bevorder.

Dis nie moeilik om te wys dat ons vir mense omgee nie – veral vir diegene met gestremdhede. Ons kan op eenvoudige wyses helde raak vir mense met gestremdhede. Wanneer ons fasiliteite, vervoer, leesmateriaal en leef‑ en leerruimtes beplan, moet ons altyd dink aan hoe ons almal kan insluit. Soms is klein aanpassings al wat nodig is om deelname moontlik te maak. Waar dit ook al moontlik is, moet ons dit doen. Waar daar 'n wil is, is daar 'n weg. Dis onaanvaarbaar om nié vir deelname voorsiening te maak net omdat toeganklikheid 'n kwessie is nie – meestal kan ons 'n oplossing vind.

Op Loslitdag (7 September) het ons die perfekte geleentheid om te wys hoe ons gehelp het of kan help om die daaglikse funksionering van mense met gestremdhede te verbeter. Hierdie jaar se tema, “Wees elke dag 'n held saam met gestremdes", moedig elkeen van ons aan om na die held in ons te soek en om te besin oor ons betrokkenheid by sake wat gestremdes raak. Wanneer ons besin en betrokke raak, word ons ons eie held wanneer ons só optree dat dit 'n verskil aan die mense om ons se lewens maak.

Deur die kollig op gestremdheid op Loslitdag te laat val, en eintlik die hele September, raak ons ook stil, besin ons en hoor ons hoe ons nie inklusief is nie en raak ons betrokke by mense wat funksionele beperkings die hoof moet bied sodat ons inklusiwiteit en groter deelname in die samelewing kan bevorder.

Met 'n hoëronderwysomgewing as my werkplek, het ek terdeë bewus geraak van die uitdagings waarmee mense met gestremdhede elke dag te doen kry, veral wat toeganklikheid en inklusiwiteit betref.

By die Universiteit Stellenbosch het ons besluit om in September ons aandag op gestremdheid en toeganklikheid te fokus. Ons het ook ons gestremdheidsbeleid, nou die Beleid oor Gestremdheidstoegang, weer deurgewerk in 'n poging om oplossings vir die uitdagings te vind. Die nuwe beleid, wat 1 April 2018 geïmplementeer is, het 'n kampuswye loep wat op studente, personeel en besoekers aan die Universiteit se verskillende kampusse fokus en op hoe ons dié kampusse meer inklusief kan maak uit 'n gestremdheidsperspektief. Ons is daarvan bewus dat gestremdheid nie net studente met gestremdhede op ons kampusse raak nie maar ook personeel en besoekers. Ons kyk weer na hoe ons by ons instelling omgee en opknapping en beplanning kan doen vir beter toeganklikheid met spesiale fokus op mense met gestremdhede.

Wanneer ons die kollig op ons kantore en studielokale, koshuise en ander ruimtes werp, is dit vir ons belangrik hoe toeganklik dit vir ons personeel, ons studente en besoekers is. Alhoewel dit tyd gaan neem om ons kampusse ten volle toeganklik te maak, het ons reeds ver gevorder met die skep van toeganklike omgewings deur onder andere die installering en opgradering van hysbakke in verskeie geboue, die aanbring van induksielusstelsels in nuwe lokale, om studente deur beurse te help om die nodige hulptegnologieë te bekom wat toegang tot die onderwysomgewing bied en voortgaan om ons leefomgewing toegankliker te maak. Ons kurrikulêre en ko‑kurrikulêre ruimtes is belangrike areas om in ag te neem wanneer ons na ons handel en wandel kyk.

Die planne wat ons in werking gestel het, wys dat ons soms klein aanpassings moet maak om toegang, inklusiwiteit en deelname in die hand te werk. Waar ons dit kán doen, moet ons dit doen. Waar daar 'n wil is, ís daar 'n weg. Ons sal meestal 'n oplossing vind. Ek glo universiteite, organisasies, maatskappye en die samelewing as 'n geheel kan die lewe vir mense met gestremdhede vergemaklik.

Deur die wêreld vir hulle 'n beter plek te maak, tree ons heldhaftig op en help ons hulle om hul eie helde te wees.

Op Loslitdag en daarna moet ons helde wees waar ons leef, leer, sosialiseer en aanbid. Ons behoort 'n verskil te maak. Deur net 'n inklusiewer uitkyk te deel of iemand reg te help wat 'n bevooroordeelde uitkyk op gestremdheid het, is ons reeds helde.

*Dr Marcia Lyner-Cleophas is Hoof van die Eenheid vir Gestremdhede by die Universiteit Stellenbosch.