Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
Dr Luhabe inspireer toekomstige leiers by FVZS-erelesing
Outeur: Corporate Communications/Korporatiewe Kommunikasie (Rozanne Engel)
Gepubliseer: 20/08/2018


 “Ons het leiers met durf en visie nodig. Ons het leiers nodig wat aktief betrokke kan raak waar daar geen verandering is nie en ons het leierskap nodig wat ons gemeenskappe opvoed, inspireer en bemagtig."

Dit was van dr Wendy Luhabe se inspirerende opmerkings tydens die jaarlikse Frederik van Zyl Slabbert- (FVZS-)erelesing by die Universiteit Stellenbosch (US) wat sy Dinsdagaand 14 Augustus gelewer het. Die erelesing is gereël deur die FVZS Instituut vir Leierskapsontwikkeling, wat deel uitmaak van die Sentrum vir Studenteleierskap en ‑strukture en die oorkoepelende Afdeling Studentesake by die US.

Die lesing vier nie net die lewe en waardes van wyle dr Van Zyl Slabbert, voormalige Kanselier van die US, nie maar wil ook kritiese en prikkelende dialoog oor ons land en ons vasteland aanmoedig.

Prof Wim de Villiers, Rektor en Visekanselier van die US, het ook die geleentheid bygewoon en dr Frederik van Zyl Slabbert se merkwaardige nalatenskap benadruk. Hy het gesê dr Van Zyl Slabbert dien as 'n uitstekende voorbeeld van 'n uitgesproke kritikus van apartheid aan die US. “Hierdie jaar vereer ons die kritiese Matie-stemme uit die verlede wat nie stilgemaak kon word nie al is hulle uitgestoot, en een van daardie stemme was dr Van Zyl Slabbert s'n. Hy het ongeregtighede uitgedaag en gehelp om brûe oor alle soorte verdeeldhede te bou in die soeke na gemene grond in ons geliefde land. En dit het ons gehelp om die punt te bereik waar die Universiteit Stellenbosch vandag onvoorwaardelik tot die ideaal van 'n inklusiewe universiteit van wêreldgehalte in en vir Afrika verbind is om sodoende ons verantwoordelikheid teenoor huidige en toekomstige geslagte na te kom."

In haar lesing het dr Luhabe Suid-Afrikaners aangemoedig om uit die verlede te leer en nie passiewe burgers te wees nie. Sy was nie net met dr Van Zyl Slabbert bevriend nie, maar word ook as een van Suid-Afrika se mees gesogte denkleiers en rolmodelle gereken. Die tema van haar lesing was “Leierskapkeuses" en sy het beklemtoon hoe belangrik dit is om entrepreneurs te ontwikkel en om toekomstige leiers te kweek deur hulle te help om die beste weergawe van hulleself te word.

 “Dié van ons wat sukses in die lewe behaal het, moet dit vorentoe aangee. Wanneer ons ander in staat stel om die beste te wees wat hulle kan wees, is dit ook 'n kosbare geskenk aan onsself. As elkeen van ons net een lewe kan verander, sal dit 'n groot verskil aan ons wêreld maak," het dr Luhabe gesê.

Dr Luhabe is 'n maatskaplike entrepreneur, ontwikkelaar van mensekapitaal, denkleier en skrywer wat vier eredoktorsgrade in ekonomie, waaronder een van die US, ontvang het vir haar baanbrekerbydraes tot die ekonomiese bemagtiging van vroue in Suid-Afrika. Gedurende die afgelope 20 jaar het sy verskeie internasionale eerbewyse en toekennings vir haar werk ontvang. In 2014 het die Prins van Wallis haar tot Ere-luitenant van die Koninklike Victoriaanse Orde verklaar.

Dr Luhabe is geesdriftig oor leierskapontwikkeling in Afrika en intergenerasionele dialoog met die doel om nuwe oplossings vir Afrika se uitdagings te vind. Haar lesing het ten doel gehad om 'n paar van dié uitdagings te bespreek en om haar gehoor te inspireer om oplossings te help soek. “Elke geslag het 'n verantwoordelikheid om verandering te bewerkstellig. Al wat ons elkeen hoef te doen is om vir die werk aan te meld. Sodra ons bymekaarkom, kan ons ons talente saamgooi om 'n nuwe en suksesvolle Suid-Afrika te bou."

In die foto: Wendy Luhabe. Foto deur Henk Oets.