Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
FGGW bied in 2019 voorgraadse program in Verpleegkunde aan
Outeur: FMHS Marketing & Communication / FGGW Bemarking & Kommunikasie
Gepubliseer: 17/08/2018

Die Fakulteit Geneeskunde en Gesondheidswetenskappe (FGGW) van die Universiteit Stellenbosch sal met ingang 2019 ʼn Baccalaureus in die Verpleegkunde aanbied, en belangstellendes kan nou aansoek doen.

Die Departement Verpleeg- en Verloskunde is bekend vir sy nagraadse en spesialis programme, en verwelkom hierdie innoverende voorgraadse program in die portefeulje.

Die doel van hierdie program is om 'n student te onderrig en te begelei om 'n professionele verpleeg- en verloskundige te word. Deur middel van leerervarings op kampus, met gemeenskappe en in verskeie gesondheidsorginrigtings, sal studente die gedragswyses, vaardighede en bevoegdhede ontwikkel wat hulle nodig het om praktisyns en leiers te word wat waarde heg aan diversiteit, en wie ook deeglike oorweging en innovasie na hul versorgingspraktyk bring.

Hierdie is 'n vierjaarprogram wat op die Tygerbergkampus en die verspreide kliniese opleidingsplatform wat aan die kampus verbonde is, aangebied word. Die konteks waarin kliniese praktyk plaasvind, is baie divers en dek die openbare gesondheidsdiensomgewings, privaat-gesondheidsorgsektor, asook relevante leerervarings in byvoorbeeld skole, maatskaplike dienste, rehabilitasie-inrigtings en organisasies sonder winsbejag.

Studente sal leer om vorm te gee aan persoongesentreerde, holistiese eietydse, bewysgebaseerde praktykvoering en hulpbronsensitiewe versorgingspraktyk om sodoende die gesondheidsorg en welstand van individue, groepe en gemeenskappe te ondersteun. 

Om ʼn aansoekvorm af te laai en vir meer inligting oor die program, besoek gerus www.maties.com.

Die sluitingsdatums vir aansoeke is as volg:

31 Augustus 2018: Aansoeke sluit

  • Kategorie B1 – Huidige leerders (graad 12) en aansoekers wat hul skoolloopbaan voltooi het, en
  • Kategorie B3 – Aansoekers met tersiêre kwalifikasies en/of werkservaring.

Aansoeke vir beurse en lenings sluit (doen aansoek by www.maties.com as die aansoek gefinaliseer is)

14 September 2018:  Laaste datum om die resultate van Nasionale Normtoets (NNT) en vorms vir nie-akademiese meriete in te dien vir aansoekers in kategorie B1

30 September 2018:  Aansoeke sluit vir Kategorie B2-aansoekers, naamlike studente wat by universiteite geregistreer is

Navrae kan gerig word aan info@sun.ac.za of 021 808 9111.