Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
SciMathUS help studente hulle drome verwesenlik
Outeur: Corporate Communications/Korporatiewe Kommunikasie (Rozanne Engel)
Gepubliseer: 15/08/2018

'n Bekende Confucius-aanhaling lui: “Kies 'n loopbaan wat jy geniet, dan sal jy nie 'n dag in jou lewe hoef te werk nie." Vir die studente in die Universiteit Stellenbosch se program SciMathUS (“Science and Mathematics at Stellenbosch University") het hierdie woorde spesiale betekenis.

Die program bied SciMathUS-studente nie net 'n tweede kans op toelating tot universiteitstudie nie. Hulle kry ook die geleentheid om aan die SciMathUS-werkgereedheidsinisiatief (SGEI) deel te neem, wat hulle ingeligte loopbaanbesluite help neem en aan hulle droomloopbane blootstel.

Die SGEI is 'n samewerkingsprojek tussen SciMathUS en Thyme2B, 'n maatskappy wat loopbaan- en werkgereedheidsafrigting bied. Die doelwitte van die SGEI is om huidige SciMathUS-studente met hulle loopbaankeuses te help en ook hulle selfvertroue, mense- en sagte vaardighede te bou. 'n Volgende fase behels dat voormalige SciMathUS-studente op hulle beurt bystand ontvang met die ontwikkeling en uitbreiding van hulle sosiale netwerke gedurende hulle hoëronderwysreis én met die oorgang na hulle eerste werk.

Volgens dr Elza Lourens, 'n SciMathUS-fasiliteerder en die een wat die SGEI aanvoor, berus studente se uiteindelike loopbaansukses in 'n groot mate op ondersteuning met hulle aanvanklike loopbaankeuses en die bou van sosiale netwerke. “Navorsing toon dat dit al hoe moeiliker raak om die arbeidsmark te betree as jy nie vooraf 'n moontlike werknetwerk opgebou het nie. Met die SGEI wil ons studente hulle passie help vind en op daardie loopbane help besluit wat vir hulle op lang termyn die beste sal wees."

Die SGEI het in Maart vanjaar tot stand gekom en is nog in 'n proeffase. Verdere finansiering word vereis om voort te gaan om SciMathUS-studente in die toekoms te ondersteun. Die inisiatief het reeds die 100 huidige SciMathUS-studente met loopbaankeuses en ontwikkeling van netwerke bygestaan. Een van hierdie studente is Karabo Thobejane, wat in die sterrekunde en astrofisika belang stel. Hy het die geleentheid ontvang om die Suid-Afrikaanse Sterrewag in Kaapstad te besoek en die dag daar saam met astrofisikus mev Shazrene Mohammed deur te bring.

“Mev Shazrene was baie gaaf en het mooi verduidelik hoe 'n loopbaan in die sterrekunde werk. Ek was ook bevoorreg om met ander personeellede, sterrekundiges, PhD-studente en nadoktorale navorsingsgenote by die Sterrewag te gesels. SciMathUS was tot dusver noodsaaklik vir my persoonlike ontwikkeling. Ek weet nou kennis sonder begrip is nutteloos," sê Thobejane.

Afgesien van loopbaangeleenthede help die SGEI ook studente om hulle mense- en kommunikasievaardighede te ontwikkel sodat hulle die regte vrae kan stel en hulleself doeltreffend kan bemark. Volgens Anuschka Bennet, 'n huidige SciMathUS-student wat in argitektuur en siviele ingenieurswese belang stel, het haar deelname aan die SGEI haar meer selfvertroue gegee, bemoedig en vervul.

“Die SciMathUS-program is beslis 'n verrykende omgewing vir mense wat graag hulle akademiese en kritiese denkvaardighede wil ontwikkel. Dit het my pligsgetrouheid geleer en my aan die dink gesit oor die nimmereindigende geleenthede wat tersiêre studie en al die verskillende loopbaanrigtings bied," sê Bennet.

Die SGEI bied verskillende werksessies, afrigtingsessies, assesserings, groepintervensies en gesprekke aan wat SciMathUS-studente alles bied wat nodig is om ingeligte besluite oor hulle toekomstige loopbane te maak.

Vir meer inligting oor die SGEI en SciMathUS, kontak dr Elza Lourens by 021 808 2608 of el3@sun.ac.za.​


Foto: SciMathUS studente besoek ​Radioloog.