Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
Bakermat regsaksie potensiaal om Suid-Afrikaanse skuldinvordering-landskap te verander
Outeur: Corporate Communication / Korporatiewe Kommunikasie (Martin Viljoen)
Gepubliseer: 09/08/2018

ʼn Aansoek is vandag (8 Augustus 2018) by die Wes-Kaap Hooggeregshof ingedien waarin die Universiteit Stellenbosch Regskliniek, Summit Financial Partners (Summit), en 10 van hul kliënte regterlike ingryping versoek met betrekking tot skuldinvorderingspraktyke. Hierdie aansoek het die potensiaal om ʼn betekenisvolle impak op die Suid-Afrikaanse finansiële landskap te maak.

Die saak volg op die Regskliniek se vroeëre werk in die opspraakwekkende 2016 Grondwetlike Hof-saak van University of Stellenbosch Legal Aid Clinic & others v Minister of Justice and Correctional Services & Others, waar die hoogste hof in die land saamgestem het dat verskeie praktyke met betrekking tot die misbruik van besoldigingsbeslagleggingsbevele ongrondwetlik was.

Twee jaar later het die applikante nou die hof genader weens, soos hulle dit sien, die eensydige en ongereguleerde wyse waarop krediteure en invorderingsagente koste, insluitende regskoste, by debiteure se rekenings voeg, beide voor en na vonnis.

As gevolg van hierdie praktyk, wat hulle aanvoer teen artikel 103(5) saamgelees met artikel 101(1)(b) tot (g) van die Nasionale Kredietwet 34 van 2005 is, het finansiële deskundiges by Summit beraam dat meer as ʼn miljard rand deur gewetenlose kredietverskaffers onwettig oorverhaal is vanaf duisende mense wat geld skuld. In die geval van net een van hierdie persone, wat ook een van die applikante in die saak is, is 'n bedrag van R5 100 ingevorder op 'n aanvanklike skuld van R600.

“Die feit dat 49 respondente, insluitende al die groot banke en die hoof leningsinstellings, by die saak betrek is, is aanduidend van die impak wat hierdie saak op die Suid-Afrikaanse kredietmark kan hê," aldus dr Theo Broodryk, Hoof van die Regskliniek.