Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
Vroue van SA, “get your capes on"
Outeur: Prof Juliana Claassens
Gepubliseer: 08/08/2018

​“Get your cape on ..." So begin die temalied van die nuwe reeks DC Super Hero Girls, waarna ek die ander dag saam met my dogter gekyk het. In die storie staan Supergirl, Wonder Woman, Batgirl en 'n hele klomp ander strokiesprentkarakters saam om teen misdaad te baklei en mense te help. Gewone vroue doen buitengewone dinge.

Eintlik is die temalied 'n goeie weerspieëling van hoe menige vrou in 'n manswêreld voel:​

Sometimes we're stuck,
Told to be ordinary.
Afraid to jump,
Held down by the fear of flying.

So we hide inside
And we lock it up
We lose ourselves
Think we're not enough

Maar deur uit hulle innerlike krag te put, trek hierdie superheldinne hulle supermantels aan, “step into the light", en vlieg, sweef en “do what's good and right".

Dié lied het onwillekeurig by my opgekom toe ek dink aan Vrouedag, wat ons weer op 9 Augustus vier. Op dié dag in 1956 het 20 000 gewone vroue na die Uniegebou in Pretoria opgeruk en sodoende saamgestaan én opgestaan teen wat vreeslik verkeerd was. Gedurende dié optog het hulle 'n versoekskrif met 100 000 vroue se handtekeninge aan die destydse eerste minister, JG Strijdom, oorhandig. Só het hulle protes aangeteken teen die onbillike paswette wat hulle families uitmekaar geskeur en mense ontneem het van hulle burgerregte om vryelik te kom en gaan en te woon en werk waar hulle wou.

Hierdie waagmoedige daad soveel jaar gelede dien as 'n baken van vroue wat kan saamkom, ongeag ras, geloof of lewensterrein; wat saam sê “nee", en uit een mond op 'n beter toekoms vir hulleself en hulle kinders in Suid-Afrika aandring. Gewone vroue wat iets waarlik buitengewoon doen.

In 2018, 'n dekade of ses later, is daar steeds baie om te doen. Die gesamentlike en individuele wonde in ons brose demokrasie lê diep. Oral om ons word 'n ontstellende getal vroue en kinders elke dag verkrag. Mans, vroue en kinders word vermoor – van plase tot voorstede tot informele nedersettings. Mense woon in onmenslike omstandighede in plakkershutte en op straat.

Ten aanskoue van hierdie oorweldigende aanslag op mense se waardigheid en reg om in veiligheid en sekuriteit te leef, is dit moeilik om te weet wat om te doen en waar om te begin.

In haar boek Resurrecting Wounds praat die teoloog Shelly Rambo oor hoe belangrik dit is om die wonde van die verlede bloot te lê. Wonde van onreg, van ongelykheid, van geweld, van afknouery en teistering. Maar afgesien daarvan om eerlik te wees oor die wonde van die verlede, wat by ons sal bly spook as ons dit probeer ignoreer, praat Rambo ook van die belang daarvan om seerplekke sagkens aan te raak en skoon te maak, om genesende salf aan te smeer wat keer dat infeksie versprei. Ál hierdie dade – die blootlegging én versorging van wonde – is bedoel om te sorg dat pynlike, lewensgevaarlike wonde uiteindelik genees en littekens word. Littekens wat wys wat gebeur het, het sy merk gelaat, maar wat ons ook in staat stel om weer vrugbare en produktiewe lewens te lei.

Vroue weet maar alte goed van wondversorging, en van die versorging van kinders, ouers, lewensmaats, studente en kollegas. Vanjaar spoor Vrouedag die vroue van Suid-Afrika aan om maniere te vind om ander te versorg, ongeag waar ons is – in werkplekke, aanbiddingsplekke, skole, of waar ons gemeenskappe ook al bymekaarkom. Om na die wonde van slagoffers, maar ook dié van oortreders om te sien. En om nie na te laat om die moeilike vrae te vra oor waarom daar uit die staanspoor wonde ís nie.

Hierdie oproep om versorging is diep veranker in 'n opregte liefde wat, volgens Catharine Keller, beskryf kan word as 'n gemeenskaplike poging wat “oor en tussen die grense van nasies, gelowe, groepe en genders" ontstaan; 'n liefde wat verstaan dat “elke liggaam saak maak". Tog, soos sy tereg uitwys, verg dít “'n bykans bomenslike oormaat sorg". Slegs 'n superheroïese toewyding aan die liefde en die lewe lei tot so 'n bomenslike, of dalk eerder supermenslike, vermoë om te versorg. En dit is dié liefde wat ons aanvuur om te streef na wat regverdig, reg en goed is; wat begeer dat ons as individue, volke, godsdienste en nasies tot ons volle reg en potensiaal kom.

Hierdie Vrouedag is my boodskap aan die vroue van Suid-Afrika dus: Laat lei jou deur die liefde en toewyding aan sorg, en “get your capes on"!

*Prof Juliana Claassens is die hoof van die Departement Ou en Nuwe Testament sowel as van die Gendereenheid in die Fakulteit Teologie, Universiteit Stellenbosch.

BRONNE:

Shelly Rambo, Resurrecting Wounds: Living in the Afterlife of Trauma (Waco, TX: Baylor University Press, 2017).

Catherine Keller, “The Love Supplement: Christianity and Empire," in God and Power: Counter-Apocalyptic Journeys (Minneapolis, MN: Fortress, 2005). 

Catherine Keller, “Preemption and Omnipotence: A Niebuhrian Prophecy," in God and Power: Counter-Apocalyptic Journeys (Minneapolis, MN: Fortress, 2005).