Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
Eskom-befondsing hou drome van hoër onderwys lewendig
Outeur: Development & Alumni / Ontwikkeling & Alumni
Gepubliseer: 08/08/2018

​Vyftig verdienstelike hoërskoolleerders kan ’n tweede kans verdien om hul eksamenpunte in die Nasionale Senior Sertifikaat (NSS) te verbeter en toelating tot universiteitsopleiding te verkry danksy die Eskom-ontwikkelingsfonds se ruimhartige skenking aan ’n innoverende program wat die Universiteit Stellenbosch se Sentrum vir Pedagogie (SUNCEP) aanbied.​

Die studente word gekies uit meer as 800 hoërskoolleerders uit opvoedkundig benadeelde agtergronde wat jaarliks landwyd vir die geleentheid aansoek doen, en ontvang verblyf en twee maaltye ’n dag terwyl hulle die SciMathUS-program (Wetenskap en Wiskunde aan die Universiteit Stellenbosch) deurloop.

Die Eskom-befondsde studente sluit by ongeveer 50 ander studente in dié eenjaarprogram aan en ontvang opleiding wat hulle in staat stel om hul akademiese drome, wat dalk skipbreuk gely het vanweë teëspoed tuis of op skool, te realiseer. Die mikpunt is om hulle te help om weer die NSS-eksamen in Wiskunde en Wetenskap of Rekeningkunde af te lê en universiteitstoelating te bekom.

Die SciMathUS-program, wat in Afrikaans en Engels aangebied word, volg ’n aktiewe leerbenadering waarvolgens studente verantwoordelikheid vir hul eie opvoedkundige ontwikkeling aanvaar – hulle leer beredenerings-, interpersoonlike en probleemoplossingsvaardighede as deel van ’n akademiese geletterdheidskursus aan.

Sedert sy ontstaan in 2001 het die program meer as 1 100 studente gehelp om hul graad 12-punte in Wiskunde en Wetenskap met gemiddeld 15 persentasiepunte te verbeter en hulle voor te berei om voorgraadse en nagraadse kwalifikasies te behaal en vervullende loopbane te volg. SciMathUS se alumni sluit mediese dokters, fisioterapeute, spraakterapeute, onderwysers, ingenieurs, landboukundiges, rekenmeesters, voedselwetenskaplikes en akademici in.

Eskom se ondersteuning, wat in 2013 begin het, omvat ook werkplasings vir heelwat van die voormalige studente in die program wat aanvaar word om in ingenieurswese aan die Universiteit te studeer en, by afstudering, werk by die nasionale kragvoorsiener te bekom.

Die SciMathUS-program bied twee strome – Wetenskap en Rekeningkunde – vir aansoekers wat onlangs hul NSS-eksamens afgelê het en ’n minimum punt in dié vakke behaal, welke punt hulle nou wil verbeter. Diegene wat vir die Wetenskapstroom kwalifiseer, word ondersteun om twee kernvakke, naamlik Wiskunde en Fisika, oor te doen. Diegene wat die Rekeningkundestroom wil volg, skryf slegs die NSS in Wiskunde oor, terwyl hulle ook inleidende modules in óf Rekeningkunde óf Ekonomie moet neem wat die Universiteit as deel van ’n verlengde graadprogram in die Fakulteit Ekonomiese en Bestuurswetenskappe assesseer. Alle studente neem ook aanvullende vakke wat Akademiese Geletterdheid en Rekenaargeletterdheid insluit.

Die sinergie tussen die program en Maties strek verder as die strukturele en pedagogiese ondersteuning wat gedurende die kursus aangebied word – 75% van die studente wat die jaar voltooi, skryf daarna as voorgraadse studente by die Universiteit Stellenbosch in. Die res sluit by verskeie ander hoër onderwysinstellings aan.

“Wanneer hulle hier by die Universiteit Stellenbosch aankom, beleef hulle die bohaai en gewoel van die studentelewe, terwyl ander weer verkies om nader aan die huis te studeer,” sê SciMathUS-programbestuurder Nokwanda Siyengo.

Wat ook al die studente se individuele voorkeure, SciMathUS bied ’n holistiese benadering tot persoonlike en opvoedkundige ontwikkeling wat daarop gemik is om vertroue en talent aan te moedig. Die program poog om sy alumni as individue te bemagtig en hulle toegang tot hoër onderwys en die formele ekonomie te bied deur hulle te help om ingeligte beroepskeuses te maak.

Data oor die akademiese prestasies van voormalige SciMathUS-studente aan die US dui op die omvang van die programsukses. Meer as 200 grade is tussen 2005 en 2017 aan die Universiteit Stellenbosch behaal, waarvan 45 gegradueerdes ’n tweede kwalifikasie (graad of diploma) by Maties bekom het. Meer as 10 van hierdie studente het daarna ’n derde kwalifikasie behaal, terwyl twee doktorsgrade toegeken is.

In sy soeke na inklusiwiteit om vir alle opvoedkundig benadeelde Suid-Afrikaanse studente voorsiening te maak, het SciMathUS ’n nasionale voetspoor gevestig, sê Nokwanda Siyengo. Die program het ’n groot behoefte aan die aangebode soort oorbruggingsopleiding en bemagtiging geïdentifiseer, sowel onder potensiële werkgewers (soos Eskom), as onder potensiële studente.

Trouens, die kapasiteit van die program word beperk deur die bedrag van die gekombineerde befondsing wat ontvang is, terwyl die aantal studente wat opgelei word, wissel. Die program het met ongeveer 42 studente in die eerste jaar begin en tot 125 gestyg, voor dit op die huidige vlak van ongeveer 100 studente per jaar gestabiliseer het.

“Die omgewing waarin ons werk, word gevorm deur ons afhanklikheid van sagte befondsing in ’n vinnig bewegende korporatiewe wêreld,” verduidelik die direkteur van SUNCEP, Trevor van Louw. “As ons meer befondsing kry, kan ons vir meer studente voorsiening maak.”

Die aantal verdienstelike, opvoedkundig benadeelde leerlinge wat nie toelating tot universiteit kan kry nie, beteken dat mens ’n SciMathUS kan hê met soveel as 1 000 studente,” sê Van Louw, wat die program beskou as deel van ’n groter nasionale gesprek oor die probleem van toegang tot hoër onderwys.