Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
Maties deel van seëvierende SA studentesewesspan
Outeur: Maties Sport Media
Gepubliseer: 26/07/2018

Die SA studentesewesspan het onlangs die FISU Wêrelduniversiteite-seweskampioenskap in Swakopmund gewen. Hulle het die verdedigende kampioene, Australië, twee keer geklop.

Drie Matie-rugbyspelers – James Murphy, Duncan Saal en Impi Visser – was deel van die wenspan.

Drie Blitsbokke, die kaptein Rhyno Smith, WJ Strydom en Murphy, se ervaring was van groot waarde vir die span.

Suid-Afrika het die toernooi begin met 'n reuse-oorwinning van 66-0 oor China en het dit opgevolg met 'n oorwinning oor Australië (26-14). Hulle het in die kwarteindstryd met Maleisië (54-0) afgereken en toe teen Frankryk te staan gekom. Dit was 'n moeilike wedstryd en Suid-Afrika moes diep delf om met 14-12 te seëvier. Hulle moes in die eindstryd weer teen Australië speel en hierdie keer was die telling 24-14 in Suid-Afrika se guns.

“Dit was 'n ongelooflike ervaring," het Saal gesê. “Nie net om deel van die SA span te wees en die toernooi te wen nie, maar ook die geleentheid om saam met ongelooflike sewesspelers te speel. Ek het die aksie op die veld geniet, maar die bande wat ons gesmee het, het dit selfs nog meer spesiaal gemaak.

“Ek het baie oor die spel geleer wat ek ook in 15-man-rugby kan gebruik. Dit was 'n voorreg om vir my land te speel en om goud te wen, was baie spesiaal. Ek sal die oomblik en die medalje vir altyd koester. Dit is nie elke dag dat jy goud vir jou land kan wen nie en ek sal die gevoel nooit vergeet nie. Ek is nie 'n gereelde sewesspeler nie en daarom was die toernooi uitdagend op 'n fisieke en geestelike vlak, maar ek het elke oomblik geniet."

Murphy het vanjaar sy debuut vir die Blitsbokke gemaak. “Dit was 'n ongelooflike ervaring. Dit maak nie saak op watter vlak nie, dit bly 'n reuse-voorreg om jou land te verteenwoordig. Dit was nog altyd een van my doelwitte om in hierdie span te speel en dit was 'n eer om 'n goue medalje vir Suid-Afrika te wen."

Dit was die eerste keer dat die FISU-seweskompetisie in Afrika aangebied is.