Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
Slim myte baljaar tussen Proteas
Outeur: Corporate Communication / Korporatiewe Kommunikasie [Alec Basson]
Gepubliseer: 19/07/2018

Myte wat tussen proteas in die Kaapse Floristiese Streek woon het 'n slim manier gevind om te floreer.

Dít is een van die vernaamste bevindinge van ʼn nuwe studie aan die Universiteit Stellenbosch (US).

“Sommige myte kan oorleef en floreer deur op voëls tussen Proteas rond te rits waar hulle op fungi, stuifmeel en nektar voed," sê dr Natalie Theron-De Bruin, wie onlangs haar doktorsgraad in Bewaringsekologie aan die US behaal het. Theron-De Bruin woon tans in Melbourne, Australië.

Sy sê haar navorsing het gewys dat 'n unieke en interessante verhouding tussen myte, fungi, voëls en proteas bestaan.

As deel van haar doktorale studie het Theron-De Bruin die onderlinge verband tussen myte en fungi ondersoek en ook probeer vasstel hoe hulle tussen proteas beweeg. Sy het ook gekyk na die moontlike rol van myte in die bestuiwing van proteas. Sy het meer as 32000 myte op blomme, vrugte, suikerbekkies en in die grond in gebiede soos Stellenbosch, Franschoek, Kleinmond en Gansbaai versamel. Natalie with Sugarbird.jpg

“My studie was die eerste om te toon dat Kaapse suikerbekkies 'n groep myte (Proctolaelaps vandenbergi) wat op proteas voorkom saam met hulle dra. Dié myte versamel in hul duisende op die  bokant van oop blomme waar hulle wag om deur bestuiwers versprei te word."

“Kleiner myte (Glycyphagus en Tarsonemus) klim op die rug van die veel groter Proctolaelaps-myt, wat dan weer op die bek van die Kaapse suikervoël klim om van blom tot blom te beweeg."

“Hier klim die Proctolaelaps-myte af met hul kleiner vennote wat dan die Sporothrix-fungi op die nuwe blomme los. Die Sporothrix-fungi dien as voedsel vir die kleiner myte. Soos die voël sy bek in die blom insteek om by die nektar uit te kom, klim die myte op sy bek en bors en word só na die volgende geskikte gasheer versprei."

Theron-De Bruin sê op hierdie manier verseker die kleiner myte ook dat hulle en hul primêre voedselbron oor 'n wye gebied versprei word. Die Sporothrix-fungi kom voor op die blomme en saadkoppe van Protea-bome in Afrika.

“Die interessante is dat hierdie myte stuifmeel- en nektardiewe is met die oorvloedige Proctolaelaps-myte wat verbysterende hoeveelheid stuifmeel eet sonder om tot die bestuiwing van die blomme by te dra," sê Theron-De Bruin.

Sy voeg by dat die voortplanting van die Proctolaelaps-myt sterk verband hou met die beskikbaarheid van stuifmeel.

Theron-De Bruin meen die tempo waarteen hierdie myte stuifmeel eet kan die beskikbare stuifmeel in Proteas aansienlik verminder.

“Ons kan bevestig dat dit die hoeveelheid stuifmeel wat vir bestuiwing beskikbaar is, beïnvloed, maar die omvang van hiervan is steeds onduidelik."

Hoewel dit mag lyk asof myte net parasiete is, help hulle tog om afval in die grond rondom Protea-blomme af te breek, sê Theron-De Bruin.

Sy noem dat haar studie ook getoon het dat huidige plaagbestuurstrategieë wat in die verbouing van Proteas gebruik word, nie myte effektief beheer nie.

“Die rede waarom dit dalk nie werk nie, is dat myte via insekte en voëls oor natuurlike en verboude protea-populasies kan beweeg. Die areas waar proteas gekweek word is nie geslote nie, dus kan myte weer die gebied binnekom nadat chemikalieë gebruik is."

Theron-De Bruin sê daar is ʼn behoefte aan volgehoue verbetering van na-oes plaagbestuurspraktyke.

  • Hooffoto: Klein myte op proteas.
  • Foto1: Dr Natalie Theron-De Bruin met 'n suikerbekkie.

SLEGS VIR MEDIANAVRAE

Dr Natalie Theron-De Bruin

Melbourne, Australië

Tel: +61482013535

E-pos: natz.83.nt@gmail.com  

      UITGEREIK DEUR

Martin Viljoen

Bestuurder: Media

Korporatiewe Kommunikasie

Universiteit Stellenbosch

Tel: 021 808 4921

E-pos: viljoenm@sun.ac.za