Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
Inskrywings vir die vierde US Woordfees-kortverhaalbundel word ingewag
Outeur: Danie Marais/US Woordfees
Gepubliseer: 17/07/2018

Skrywers kan nou inskryf vir die vierde US Woordfees-kortverhaalbundel, wat by die 2019 Woordfees bekend gestel sal word. Du Toitskloof Wyne borg weer die prysgeld van R30 000 vir die wenverhaal. Een van die gepubliseerde verhale sal ook weer met die ondersteuning van kykNET vir die Silwerskermfees as kortfilm ontwikkel word.

“Die Woordfeeskortverhaalbundel se statuur het in die afgelope drie jaar tot dié van literêre instelling gegroei," sê Saartjie Botha, direkteur van die US Woordfees. “Die hoeveelheid inskrywings groei jaarliks saam met die gehalte van die skryfwerk en die tematiese verskeidenheid in die verhale. Ons is opgewonde om te sien waarmee skrywers vir die 2019-bundel vorendag kom."Die skrywers wat in dié bundel opgeneem word, het in die verlede elkeen R4 000 vir hul verhale ontvang, maar danksy Du Toitskloof sal elkeen volgende jaar R5 000 in die sak steek.

“Sedert die verskyning van die eerste Woordfeesbundel in 2016 word van die beste kortverhale in Afrikaans op hierdie wyse gepubliseer," sê die uitgewersredakteur en sameroeper van die kompetisie, Suzette Kotzé-Myburgh, wat sedert 2016 by dié projek betrokke is. “Die wedstryd het laas jaar gegroei tot 'n rekordgetal van 237 inskrywings, met stewige prysgeld sowel as 'n prestigeryke filmprys wat skrywers kan inpalm. As jy nog altyd jou hand aan 'n kortverhaal wou waag, is hierdie jou kans!"

Die 2018-wenner, Clari Niemand, se verhaal Non (kompos) mentis word in 'n kortfilm omskep wat by die 2018 Silwerskermfees vertoon sal word.

Oor Du Toitskloof Wyne se betrokkenheid sê Marius Louw, uitvoerende hoof, dat Du Toitskloof die jaarlikse Kortverhaalkompetisie as een van die kalenderjaar se hoogtepunte beskou: “Daar waar kreatiwiteit heers, wil ons graag betrokke bly, want só deel ons in die ontdekking van die skrywers se goud, skuur ons skouers met die kunste en blink ons saam agterna. Ons deelname as borg inspireer ons tot groter vindingrykheid in elke volgende avontuur wat ons aanpak."

Skrywers wie se verhale in die bundel opgeneem gaan word, sal by die Woordfeesprogrambekendstelling in November 2018 bekend gemaak word. Die wenverhaal asook die verhaal wat vir 'n verwerking tot kortfilm gekies is, sal eers tydens die bekendstelling van die bundel, gedurende die Woordfees van 1-10 Maart 2019, aangekondig word.

Die sluitingsdatum vir inskrywings is 30 September 2018 om 16:00.

Diegene wat belangstel om meer oor die kompetisie te wete te kom of wat wil inskryf, kan gaan na www.woordfees.co.za en volg dan die skakels. E-pos met navrae kan ook gestuur word aan danie_marais@sun.ac.za – slegs skriftelike navrae sal beantwoord word. Die US Woordfees word van 1-10 Maart 2019 in Stellenbosch aangebied. Die feesprogram word in November bekend gemaak.