Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
Sleutelaspekte van samewerking tussen universiteit en gemeenskap
Outeur: Joanne Williams
Gepubliseer: 15/06/2018
Die Afdeling Sosiale Impak het onlangs ʼn werkswinkel gehou om sleutelaspekte van samewerking tussen universiteit en gemeenskap met prof Thomas Bryer van die School of Public Administration van die University of Central Florida te bespreek.
 

Die bestuur van vennote en gemeenskappe se verwagtinge is uiters belangrik. Dit is uitgelig dat gemeenskappe werk, onderwys en veiligheid benodig, terwyl universiteite navorsingsuitsette en studenteopleiding buite die klaskamer benodig. Befondsing kan ook ʼn uitdaging wees met betrekking tot wat gemeenskappe van ʼn universiteit verwag. Dit is belangrik om erkenning daaraan te gee dat hulpbronne in ʼn universiteit in die vorm van personeel- en studentekundigheid bestaan, en onder vennote onder andere in die vorm van kundigheid, kontekste en teikengroepe. Dit help om aan vennote realistiese opsies met betrekking tot lewering van die universiteit se kant te gee.

Nog ʼn belangrike saak is die meting van impak. Hoe word sosiale impak gemeet? “Dit is belangrik dat navorsers ondersoek wat hul navorsing vir die samelewing gedoen het. Die ideaal is longitudinale studies wat die werk van ʼn universiteit met vennote en die impak daarvan op die universiteit en sy vennote as begunstigdes van die betrokkenheid betref,” sê prof Bryer. “Dit is belangrik om doelbewus ontwikkelingsgebiede met betrekking tot impak te identifiseer. Ons moet weet wat die uitkomste van die betrokkenheid van die Universiteit Stellenbosch en vennote is – sodat ons kan sien waar is die indirekte impakte en aspekte wat vir toekomste betrokkenheid gebruik kan word,” sê Renee Hector-Kannemeyer, Adjunkdirekteur: Sosiale Impak en die hoof van Matie Gemeenskapsdiens.

Die kriteria vir vennootskapontwikkeling is belangrik vir ʼn suksesvolle vennootskap en impak. Vennootskappe moet ideaal gesproke vorder vanaf samewerking tot koördinering en dan na medewerking.

Wat die voordeel van betrokkenheid betref, moet ʼn sleutelvraag gevra word: Het gemeenskapslede gewillig en openhartig deelgeneem en was personeel en studente betrokke en het hulle uit die ervaring geleer?

Fondsinsameling kan uitdagend wees in ʼn toenemend beperkte omgewing en innoverende denke moet toegepas word. Verhoudings bly belangrik in hierdie opsig, asook die oorvertel van stories van die impak.

Hoër onderwys poog om sosiaal verbonde, polities intelligente, sosiaal bewuste en ekonomies selfonderhoudende individue te ontwikkel wat kan help om sterk gemeenskappe te bou en in die algemeen tot die samelewing by te dra. Die uitdaging is om al die verskillende rolle van ʼn universiteit op ʼn betekenisvolle en voordelige manier te integreer.