Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
Nuwe uitvoerende komitee van die Institusionele Forum
Outeur: Corporate Communication/ Korporatiewe Kommunikasie
Gepubliseer: 13/06/2018

​Die nuwe uitvoerende komitee van die Institusionele Forum (IF) sal 'n kernrol vervul om toe te sien dat die Universiteit Stellenbosch (US) voortdurend 'n omgewing van inklusiwiteit, transformasie, innovasie en volgehoue uitnemendheid skep en handhaaf.

Die IF is een van die Universiteit se vernaamste statutêre liggame tesame met die Raad, die Senaat, die Konvokasie en die Studenteraad. Die taak van die IF, wat uit 32 lede uit die verskillende sektore van die US bestaan, is om die Raad te adviseer oor kwessies wat die Universiteit raak.

Aan die stuur van die nuwe​ uitvoerende komitee is dr Celeste Nel. Sy word bygestaan deur ondervoorsitter Farah Fredericks en sekretaris Wayde Davidse. Die ander lede van die uitvoerende komitee is Denisha Padachey namens die studentesektor, Le Roux Burrows namens personeellede, Sello Molapo namens die bestuur-en-beheersektor, en Adelbert Scholtz namens die gemeenskap. 

Die lede van die uitvoerende komitee beklee uiteenlopende strategiese poste aan die US. Hulle uitgebreide ervaring van die hoëronderwyssektor beteken dus hulle is hoogs gekwalifiseerd om die IF te lei en sy mandaat, wat deur die Wet op Hoër Onderwys vasgestel is, uit te voer.

“Ons sien daarna uit om die Raad oor tersaaklike aangeleenthede te adviseer en as spreekbuis vir die bestuur, personeellede, studente en die gemeenskap op te tree, veral wat transformasie betref," sê Nel, wat ook as direkteur van die Sentrum vir Toelating en Koshuisplasing in die US se Afdeling Studentetoegang dien.

Die IF se opdrag is om die Raad te adviseer oor rasse- en gendergelykheidsbeleide, die keuring van kandidate vir senior bestuursposte, gedragskodes, bemiddeling- en geskilbeslegtingsprosedures, sowel as die skep van 'n institusionele kultuur wat verdraagsaamheid en respek vir fundamentele menseregte bevorder en 'n gepaste omgewing vir onderrig, navorsing en leer skep. Daarbenewens moet hulle toesien dat die Wet op Hoër Onderwys en die nasionale beleid oor hoër onderwys toegepas word.

Nel sê die IF, wat vier keer in die loop van die akademiese jaar ontmoet, is reeds hard aan die werk om oor beleidsimpak te beraadslaag en seker te maak dat die US deur robuuste debat vorentoe beweeg.

“Ons wil graag 'n deelnemende kultuur bou waar almal saamwerk om eenstemmigheid oor kwessies te bereik, in plaas van 'n verteenwoordigende kultuur waar elkeen sy eie, individuele gemeenskap verteenwoordig of drukgroepe vorm."

Klik hier vir meer inligting oor die IF.

Van links na regs: Wayde Davidse, Denisha Padachey, Celeste Nel, Sello Molapo, Farah Fredericks and Le Roux Burrows (nie afgebeeld nie: Adelbert Scholtz)​​