Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
Mediese student gekies om 'die wêreld te help verander’
Outeur: Wilma Stassen
Gepubliseer: 17/05/2018

'n Eerstejaar mediese student, Keaton Harris, is een van net 21 jongmense van oor die wêreld wat gekies is om deel te neem in die Young Sustainable Impact (YSI) innovasie-program. Die doel van die YSI-inisiatief is om werkbare oplossings te vind wat sal help om die Verenigde Nasies se Volhoubare-ontwikkelingsdoelwitte [Sustainable Development Goals (SDGs)] te bereik.

Die 21 YSI-kandidate is gekies uit 8 560 aansoeke van dwarsoor die wêreld. Volgens die YSI-webwerf, moet alle aansoekers onder die ouderdom van 25 wees en moet "mal genoeg wees om te dink hulle kan die wêreld verander, en braaf genoeg om dit in werklikheid te doen."

“Ek kan dit steeds nie glo nie!" sê die 23-jaarige Harris. “Ek is die enigste Suid-Afrikaner wat vir die program gekies is. Die geleentheid om die Universiteit Stellenbosch te verteenwoordig, asook Suid-Afrika op 'n globale vlak, is beslis die hoogtepunt van my lewe tot dusver. Dit is 'n tasbare geleentheid om werklik 'n verskil te maak," sê Harris, wat ook 'n Honneursgraad in Aptekerswese het wat hy verlede jaar summa cum laude van UWK verwerf het.

Die kandidate word in internasionale groepe van drie ingedeel, en word leiding gegee om hulle eie maatskappye te begin, of om 'n prototipe te ontwerp wat 'n oplossing sal bied aan een van die SDGs. Die projek waaraan Harris en sy spanmaats (onderskeidelik van Brasilië en Kanada) aan werk, spreek SDG 3 aan, wat verband hou met 'Goeie Gesondheid en Welsyn'.

“Vir die volgende paar maande sal elke spanmaat op eie bodem werk om 'n besigheidsoplossing of 'n prototipe te skep onder leiding van die YSI. In Augustus sal al die kandidate in Noorweë vergader waar ons ons spanmaats sal ontmoet om ons besigheidsidee te verfyn en om potensiële beleggers te ontmoet," verduidelik Harris.

“Na ons besoek aan Noorweë sal ons 'n konkrete plan hê vir die implementasie van ons nuwe besigheidsidee, en dan sal ons verder nou saamwerk met beleggers en die YSI om 'n besigheidsplan te ontwikkel wat ons besigheidsidees sal bring tot op ʼn moderne, operasionele vlak.

“Uiteindelik hoop ons dat ons besigheidsidees oplossings sal bied wat deur die massas aanvaar sal word, en wat die lewens, die gesondheid en die welsyn van die res van die wêreld sal verbeter," voeg hy by.

 

Onderskrif: Keaton Harris is gekies om deel te neem aan die Young Sustainable Impact innovasie-program wat kyk na maniere waarop die Verenigde Nasies se Volhoubare Ontwikkelingsdoeleindes bereik kan word.

Foto: Wilma Stassen